Geesdriftige agtergrond musiek

Tot nou toe sou ek graag wou roem daarop dat ek die spilpunt van ons huishouding is. Ek wou graag glo dat alles sonder my in duie sou stort. Dis nie dat ek gebelgd rebelleer teen my kuikens se groterwordende onafhanklikheid nie. Ek weet dit is die natuurlike verloop en gesonde gang van die lewe. In die tyd wat ek chemo moes deurstaan was ek ontsteld oor ek my klein seuntjies in die steek laat. Toe was ek hulle alles en ek moes dit goed doen. Nou neem hulle my in lengte en vaardighede verby. My raad is bloot ‘n aanbeveling en niks gebeur meer as ek met groot outoriteit tot drie tel nie.

Iemand het eenkeer gesê ‘n ma (van seuns veral) moet die kuns bemeester om konstant afskeid te neem. Moederskap is ‘n reuse ingryp op jou lewe, jou fisiese en emosionele gesondheid en dan moet jy alles wat jy in ‘n kort tydjie moes leer, dadelik weer afleer en laat gaan. Jou identiteit en  waarde kan nie gekoppel wees in iets so vlietend en veranderlik nie. Dis tegelyk die mees belonende  en ondankbaarste werk in die lewe. 

Ek is eintlik nogal trots en dankbaar vir die pragtige mense waarin hulle ontwikkel. Ek treur meer in my stilligheid oor ek nou meer dikwels tweede viool speel, gemaan om die nuwe tempo en wysie te eerbiedig. Dis nie meer my lied wat ek gekomponeer, dirigeer en help uitvoer het op my verhoog nie. Dis bloot ‘n vergunning as ek soms kan saamslenter en agtergrondmusiek maak in hulle lewens. Dit doen ek entoesiasties en dankbaar. Meer dikwels is ek net ‘n toeskouer in die gehoor en ek moet leer om ook dit met oorgawe te doen.

Early onset empty nest syndrome – dis blykbaar ‘n ding: die wete dat die dinge waarmee ek my die laaste 14 jaar besig gehou het, einde se kant toe begin staan. Die besef dat ons katedrale waaraan ons bou al dakhoogte staan. Daar is byna niks meer aan die fondasie te doen nie – dis nou net beskut maak teen reën en wind. Die beplanner in my, wil myself staal teen die dag wat onafwendbaar op ons afpeil. Ek wil glo ons gaan dieselfde mense kan wees met nuwe doelwitte en fokus. Ek kies om te glo dat my lewe post-kinders ook betekenisvol sal wees en dat daar dinge oor my pad sal kom wat ewe opwindend en veeleisend sal wees.

Maar tot dan sal ek bak vir die honger arende en hekel om die nes snoesig te voering teen winters. Ek sal hulle met my teenwoordigheid ondersteun en so onopsigtelik as moontlik rasieleier en provianddraer wees – op my mees vleiendste, dikwels oorbodige, “uncool” manier.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

3 Responses to Geesdriftige agtergrond musiek

  1. As mens baie geseend is, kry jy die kans om hulle ook as grootmense te beleef – dis ‘n nuwe, wonderlike avontuur.

Leave a comment