Ons hoop is nie geplunder nie     

                                                                                                                                      

Daar is die afgelope week getwiet, geblog, stemboodskappe en video’s aangestuur en opinies rondgestuur soos nog nooit tevore rondom ons Republiek nie. Elke ou met ‘n modem het ‘n verslaggewer en ontleder geword. Ek het my voorgeneem om nie my hand aan ‘n toetsbord te slaan nie. Hierdie is te moeilik om te verduidelik en as familie het ons geen (direkte) skade of selfs ongerief beleef nie.

Wat skryf ‘n mens buitendien vanuit jou bevoorregte posisie wêrelde verwyder van die ellende? Ek bly ‘n paar minute van Mamelodi af – die naaste onlusgeteisterde gebied, maar my winkels se rakke was nooit kaalgestroop of leeg gekoop nie. Die Taxi’s wat my altyd bedreig, het die onwaarskynlike beskermers geword en my “dorp” was nooit in gedrang nie. Ons is nie entrepreneurs nie, ons gesondheid word nie meer bedreig as die week van te vore nie en die ergste verdriet en sneeukoue word deur luukse linne en Netflix teëgestaan. Ons lewe het eintlik net voortgegaan soos elke ander dag van Covid inperking vlak 4.  

En toe onthou ek dat my blog vir my kinders is. Die twee prinsies wat die hele vakansie op Minecraft spandeer het waar hulle weelderige argitektoniese wonderwêrelde sit en programmeer het. Hulle het apaties verneem van geweld doer ver en ons het hulle nie belas met onnodige inligting nie. Indien hulle ooit wil weet wat gebeur het na Zuma tronk toe is, sal hulle ook hierdie blog kan lees. Oor ‘n week of ‘n jaar skryf ek dalk ‘n heel ander perspektief, maar hier volg my persoonlike vertelling.

Verslae het ons die donkerste week in ons demokrasie se geskiedenis gade geslaan op ons skerms vanuit ons luukse kwarantyn situasie. My vriendin is in die ICU en talle vriende is siek. Enkeles is selfs oorlede en ons harte is moeg. Niemand in my familie het al Covid gehad nie. Ek begin voel soos ‘the last man standing’. Die Amerikaanse verslaggewer bespreek die situasie in “Gwanteng” met dieselfde gesag waarmee ons Trump se administrasie ontleed het. Ons is ewe vreemd vir ons eie land as buitelanders met min insig en begrip. Ons waag ook oordeel en kritiek, maar weet dit help niks.

Woordloos en met afgryse het ons die vuur, vernietiging en strooptogte dopgehou. Die gevoel van onveiligheid het op ons toegesak tesame met die seker wete dat ons land waarskynlik die gevreesde “rockbottom” bereik het. Daardie stil wete dat dit te laat is vir vlug en te vroeg is vir genesing. Die weermag se ontplooiing bring tegelyk verligting en paniek. Hoe diep in die moeilikheid is ons? Dan die jammerte vir onskuldiges wat ly. Kilometers mense in rye om iets te ete te koop. Die verlies aan soveel skole, apteke, selfs ‘n bloedbank en ‘n krematorium. Steierende sterftesyfers, duisende besighede, werkloses, miljarde rande – die wiskunde gaan oor my kop en ek sukkel met die syfers soos die korrupte leier vir wie hulle kamma protes hou. ‘n Kleuter wat gegooi word na vreemdelinge uit ‘n brandende woonstelblok. Tonele uit plekke soos Sirië of Hollywood laat my verlam voor my foon. Weerlose pasiënte in hospitale sonder suurstof en kos. Wanhopige ou mense uitgelewer en gestrand. Reeds getraumatiseerde mense verloor alle hoop op uitkoms. Lawaaimakers basuin gevoellose beskuldigings uit.

Daar was selfs slapelose ure in die nagte en onwelkome neerslagtigheid. Iets wat ‘n optimistiese mens moeilik erken. Vir die klanke van Nkosi Sikelel iAfrika uit ‘n ou klavier tussen die as en rommel van ‘n stooreenheid, het die trane vrylik geloop.

Stomgeslaan luister ons hoe ons President kalm en rustig verduidelik dat ‘n staatsgreep misluk het. Is dit nie iets wat in donker Afrika lande gebeur nie? Geskok kyk ons hoe ons laggende “looters” deur ons glansryke sentrums hardloop met alles wat hulle kan dra. Dit lyk of alle vorme van respek en regte finaal vertrap is.

Ek probeer verwoord wat ek voel. Weet ek self ooit watter van die horde emosies, die waarheid is? Woede, hartseer, skaamte, verlies en onbegrip? Ons wonder oor die dierlike optrede, oor ons veiligheid en toekoms, oor die foute van die verlede en ons rol daarin, oor die tekort aan wysheid, leierskap en vaderfigure, opvoeding, godsdiens en ons eie bydrae tot die samelewing. Max du Preez verduidelik in sy boek “Dwars” wie ons as landsburgers is, wat ons oer- en gedeelde geskiedenis is. Ek verstaan steeds nie korrupsie, magstryde en etniese lojaliteit nie, maar ek erken dit as deel van die pakkie. Ek staan nie los van my land en sy verlede en probleme en verwag politieke leiers moet alles alleen oplos nie. Maar ek weet ook nie wat nou nie.

As SA ‘n Facebook verhouding was, was sy status “It’s complicated”. As die siel van ‘n nasie uitrafel, word al sy burgers stiefkinders en bywoners.

Daar was ook oomblikke van humor – heeltemal te vroeg, maar tog nodig en tipies trots SA. Toe kom dankbaarheid en trots vir almal wat net die volgende dag begin het om die strate skoon te vee. En dan net so onverwags kom mans en vroue, selfs in rolstoele, uit en maak skoon, bak roti’s by die duisende, ry op eie onkoste in die onlusgebiede in met broodnodige brood. Mzansi staan op en staan saam asof almal wil bewys wie ons is. Ek wys en leer my kinders van empatie en omgee wat niks terug verwag. Ongeag verskille in geloof, ras of kultuur bring elkeen ‘n stukkie respek en goedheid terug. Ons is ubuntu, ons is “ons maak ‘n plan”, ons bou op, ons weet daar is probleme, maar ons is hartstogtelik, irrasioneel lief vir hierdie stormagtige, spesiale kontinent.

Waar daar liefde en deernis is…. daar is die Heer… sing ons Sondae. So oorwin die goed die kwaad. Was hierdie ‘n kantelpunt? Hoeveel kanse kry ‘n nasie om homself aan die veters op te tel? Is daar enige ander land waar ek so deel van sy mense, sy verliese en sy oorwinnings sal voel? Wat is hierdie land anders as ‘n roeping? Ek rus in die arms van Hom wat al die antwoorde het. Ons is onrustig gerus en aktief hoopvol. Wees ons genadig, skenk aan ons U vrede. Thuma mina, stuur my.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.

3 Responses to Ons hoop is nie geplunder nie     

  1. Toortsie says:

    Ja, Annabelle, wat is hierdie land anders as ons roeping? God het ons hier nodig. Ons het Hom hier nodig. Baie nodig. En wat die antwoord is? Ek weet ook nie. Julle moet veilig bly. Dankie vir hierdie pragtige skrywe.

  2. Gerba de Klerk says:

    Dankie Annabel hoe jy dit namens ons verwoord het. Ons is stomgeslaan.

  3. Pingback: Hoe nou verder? – toortsie.com

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s