Mors bietjie petrol!

Ja ek weet dis duur en sleg vir die omgewing, maar dis ‘n fantastiese vermorsing om jou kar vol te gooi en die pad te vat. Ek weet nie in hoe ‘n mate die wanderlust in jou gene bepaal hoeveel kilos jy aflê nie, maar ek glo die meeste mense skuur te min hulle julle-weet-wat! Ek het ‘n paar afgetrede vriende wat daarvoor probeer vergoed in hul goue jare, maar ek sien ook soveel vir wie dit net ‘n droom gebly het, omdat goue jare nie ‘n waarborg is nie.

Ek het al geskryf oor hoe my gesin agter blomme en watervalle aanry. Ons was wel bevoorreg om in een van die mooiste dele van die land te bly, so Sondaguitstappies was maklik. Maar ons het ook jaarlikse langpad vakansie tradisies gehad “Transvaal” toe. My lekkerste herinneringe is die inpak, uitsien, drie-uur opstaan, slaap sodra die wiele draai en padkos geniet onder ‘n smurfdakkie terwyl die sonnetjie agter ‘n randjie uitkruip. Daar was geen sprake van iPads of DVD spelers nie. Ons het gelees, gebrei en langpad speletjies gespeel.

Dit is by my steeds ‘n beginselsaak om my gesin gereeld uit hul leefruimte te vat en bloot te stel aan nuwe dinge, plekke en mense. Die enigste toestelle wat ons toelaat is musiek en stories. Verder moet my kinders hulle kreatiwiteit ontwikkel en alles rondom hulle raaksien. Vir meeste mense klink dit mal, maar dis hoe ons al vir 10 jaar Weskus en Noordkus toe ry – elke jaar. My kinders ken niks anders nie en ek kan die verskil in hulle sien tydens elke uitstappie of vakansie. ‘n Onlangse praatjie waar ek was, beskryf kinders as mieliepitte wat soos springmielies heeltemal ontpop tydens ‘n gesinsvakansie. Kwaliteit tyd saam waar kinders en huweliksmaats kans kry om uit die gejaagde roetine te klim en net weer mens te wees.

En dis nie net vir kinders goed nie. Elke mens het nodig om elke nou en dan die son te sien opkom vanuit ‘n nuwe horison, ‘n nuwe bossie te ruik en ‘n vreemde dialek te hoor. Geld kan nie geselstyd, rus en kreatiwiteit koop nie, maar dit kan ‘n tenk petrol koop … en ‘n bietjie tolgeld!

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

1 Response to Mors bietjie petrol!

  1. Pingback: Ek het laat slaplê! | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie se blog

Leave a comment