Willem Botha – ʼn laaitie van die plaas wat skoonheid in almal sien

Geen konsert is gebalanseerd sonder ʼn bederfie vir die oog nie, en daarvoor sorg Willem Botha by vanjaar se Afri-duetfees! Ons wil daarmee niks wegvat van sy ander talente as sanger, akteur, musiekvervaardiger en/of fotograaf nie. Willem is immers een van daardie rare mense wat goed is in alles wat hy aanpak.

Na sy sukses, as naaswenner van die eerste seisoen van Idols in 2006, het hy elke kans aangegryp en sy aanhangers verras met rolle in Liefling, Pretville en Sterlopers. Hy is ook ʼn gewilde TV-aanbieder en het pas ʼn nuwe musiekvideo van sy eie liedjie ‘Kimberley’ vrygestel.

Na sy suksesvolle reeks voorbladfoto’s, vir Vrouekeur se vrouemaand, het Willem ook bekend geraak as ʼn baie talentvolle fotograaf. Hy het reeds ʼn string bekendes se mediafoto’s gefotografeer en behartig self die stilering, hare en grimering. Hy het ʼn groot waardering vir vroue. Willem glo daar is skoonheid in elke mens en dis vir hom heerlik om dit, wat mense nie in hulself sien nie, uit te bring met die foto’s.

Vanjaar het nog ʼn droom vir hom waar geword. Hy werk reeds 2 jaar saam met MUD Make-up aan sy eie pallet. Hy kon The Chosen Collection op 21 November bekendstel by ʼn meestersklas in Bloemfontein, tydens ʼn twee uur lange before & after grimeerles. Daaroor skryf hy op Facebook: ” ʼn Regte “pinch myself” oomblik! Toe ek gisteraand terugry, kon ek nie ophou met die Here praat nie. Vir ʼn laaitie van die plaas, wat in ʼn landbou seunskool was, is hierdie die laaste ding wat ek gedink het ooit in my lewe sal gebeur. Ek is dankbaar vandag! So dankbaar vir elke geleentheid wat ek kry om te groei, leer, en my droom uit te leef!”

Die nederige kunstenaar se motto is:

“Work hard in silence. Rather let your success be your noise. No matter what. Always be kind to others. Daar’s so baie sangers, akteurs, make-up artists, prokureurs, dokters, waiters ens. ens. Daar’s regtig plek vir elkeen van ons. Altyd! Kom ons celebrate eerder mekaar!”

As jy hierdie dinamiese en lewenslustige sanger in duet saam met Nadia Beukes wil sien, moet jy nou spring vir jou kaartjie! Die konsert gaan ook regstreeks gestroom word deur http://www.letsjam.cloud

This entry was posted in LetsJam.Cloud and tagged , . Bookmark the permalink.

Leave a comment