Sing soos jy gebek is

noah-rosenfield-41542

Baie dankie aan Prof Malan Nel wat my weer herinner het aan hierdie mooi idioom uit die Noord-Kaap: “Elke voël sing soos hy gebek is” wat beteken elkeen handel na sy aard en volgens sy eie insigte.

Vir die pessimis beteken dit die voёl is so gemaak en aan sy snawel en sang is geen salf te smeer nie. Vir die optimis beteken dit jy weet presies wat om te verwag van elke spesie en geen voёl sal jou spoed kan breek of jou onverhoeds betrap met sy vals note of skril gekras nie. Voor daai voёl nog sy snater gaan rek, weet jy reeds wat daar gaan uitkom. Vir ‘n voelgoed blogger beteken dit daar is ‘n koor vir elke voёl, want elke stem het ‘n spesiale plek in die ekosisteem van die gemeenskap, skool, kerk, werk en huis.

Miskien is dit waar dat jou toonhoogte mense bang maak, of jou ritme die hele taakspan van balans af gooi. Moontlik dien jy net op die verkeerde komitee of swoeg jy saam met die verkeerde projek. Elke mens kan net dien met dit wat hy is, of gee wat hy het.

Dis eers as jy jou eie waarde besef, dat jy jou volle potensiaal kan bereik. As jy weet wat jou gawes en talente is, kan jy dit aanwend waar jy die gelukkigste sal wees.

Dit is ook waar dat ‘n voёl van veer kan verander, maar nie van kleur (of bek nie) nie, maar dit sê nie dat mense nie nuwe musiek of sangvaardighede kan aanleer nie. Insigte kan verander, belangstellings kan uitbrei en talente kan ontwikkel word. As iets jou opgewonde maak is dit waarskynlik ‘n terrein waarop jy sal floreer. Soms moet ‘n mens maar blom waar jy geplant is en soms moet jy jou vlerke sprei en voёls van eenderse vere gaan opsoek sodat julle saam die mooiste musiek kan maak.

Advertisements
Posted in Uncategorized | Leave a comment

Want jy is ‘n plekhouer

alvaro-serrano-133380In ‘n inspirerende brief skryf ‘n gemeentelid in die VSA hoe gelowiges ligtorings en plekhouers moet wees.  Dit het my laat onthou van al die mense op my pad wat my in die Kinderkrans, CSV en kerk ingelok het. Plekhouers het my omgepraat om tot in Malawi te gaan op ‘n uitreik, om kerke, kore en kleingroepe te help bou en dinge te beleef wat my menswees gevorm het.

Vir my was dit nooit die suiwerheid van die teologie, die kwaliteit van die liturgie of die standaard van die prediking nie. Ons is geskep as verhoudingswesens. Dit was die saamwees en gevoel van behoort tussen onperfekte mense vol liefde, humor en lewensvreugde. Dit was die mense wat bly pleit het: “kom saam, dit gaan lekker wees!”

Plekhouers het al elke preek gehoor en kan ewe goed tuis kerk hou, maar plekhouers verstaan iets van die genade, die gasvryheid en dissipline van die evangelie. ‘n Plekhouer verstaan hoe belangrik dit is om daar te wees – vir ander. Hulle gaan op die kamp of uitreik en neem deel aan die fondsinsameling en lofprysing, sodat iemand anders dit nie alleen hoef te doen nie. Hulle inspireer en verwelkom nuwelinge om in te skakel en bind hul vas in die familie van medegelowiges.

Dr. Malan Nel sê daar moet altyd ‘n leё stoel in ‘n kleingroepbyeenkoms wees, om ons te herinner dat ons nog nie voltallig is nie. As gemeente is ons nooit eksklusief en geslote nie. Dis elke lidmaat se opdrag en voorreg om dissipels te maak en deur ons menswees, ander in te nooi in ons samekomste, waar hul uiteindelik iets van God self ervaar.

Stuur ‘n uitnodiging, bied aan om iemand op te laai, wag iemand in met ‘n warm glimlag en groot beker koffie. Wees daar met entoesiasme en die verwagting dat die Here ‘n afspraak het met iemand. Bou ‘n brug van vriendskap en aanvaarding. Gun iemand wat dit baie lanklaas in ‘n kerk gewaag het, ‘n veilige landing. Jy het miskien nie nodig om daar te wees nie, maar jy is, want jy is ‘n plekhouer.

Posted in Uncategorized | 2 Comments

Sterre, blase en trane in die Staatsteater

21151631_10211639959169349_1094823748804528868_nSo daar eindig ons toe na drie jaar op in die Staatsteater in Pretoria, voor 3 uitverkoopte gehore vir Capital Singers se 9de produksie: Fantasia – musiek uit die animasie films.  Doodgewone huisvroue, studente, dokters, ingenieurs, prokureurs en pensionarisse word na 2 oefeninge op die grootste verhoog in die Suidelike Halfrond losgelaat in ‘n onbeskryflike mooi produksie saam met een van SA se grootste sterre, Jonathan Roxmouth (of soos my seun hom noem: Rockstar).

Ek kan nie namens die 650 ander stemme praat nie, maar my eie belewenis was opgesom in meeste van die liedjies se woorde: “When you wish upon a star, your dreams come true.”…”A new fantastic point of view…now I’m in a whole new world with you…unbelievable sights, indescribable feeling…”

My koormaats het elkeen ‘n eie storie en stryd waardeur hul gaan en onder die blink ligte en swart aandklere sal min weet van die kommer, verlies en swaarkry wat elkeen dra. Van die blase op ons voete, spierkrampe en uitputting sal ons nie eens vertel nie – daarvoor raak ons amateurs nou te professioneel! Ons is almal hier vir mekaar, gedryf deur passie en saamgebind deur note wat tot in ewigheid sal weerklink. Ek kyk bewoë en trots om my rond daar in my sopraansirkel en ek dank die Here vir ongelooflike vriendinne wat my inspireer en vir ‘n gemeenskapskoor wat genesing en hoop bring.

Aan die einde versoek ‘n klein dogtertjie ‘n “encore” en bied aan om dit self te sing. Ek ken haar oupa en ouma en huil skaamteloos saam met duisende mense. Ek glo haar lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. Met die laaste lied kom die selfone se liggies spontaan aan van die gehoor en die verhoog se kant en almal verdrink in die skoonheid, samesyn en heilige oomblik wat net musiek kan skep.

Die res van die verhaal ontvou in ‘n Facebook brief van haar ma aan Jonathan:

Dear Jonathan,

My husband and I (and our daughter Abigael) would like to thank you from the bottom of our hearts for your sincere kindness and love in letting Abi sing on stage with you last night at the Pretoria State Theatre.

You have no idea what it meant to her. On leaving tonight she said “Mamma een van my groot drome het vanaand waar geword!”

For us as a family it was so profound for her to sing that song, as she is a living miracle. We were given the option to abort her with my 20 week scan as she was diagnosed with Spina Bifida and should have been severely disabled. She has been through so much in her short life time, but one thing, she lives for is to perform, dance and sing; all the things we were told she would never do!

To end off, when I lifted her off stage my Gynaecologist that delivered Abigael was sitting three rows from the front with tears in her eyes. It was just such an amazing moment.

We thank God everyday for our miracle. Thank you for making an impact on her that will last a lifetime. She says thank you and wants you to know she knows the Hebrew part of the song too 🙂

*Her Dad & Aunt were part of the choir tonight, you had them both choked up with Abi singing.

Kind regards,

Melinda, Arthur & Abi Beckmann

Lees ook die berig deur Maroela Media hier.

Posted in Uncategorized | Tagged | 2 Comments

Skeppende Mense

20525476_10211455676722403_2920034379721567154_nDie kantmakers op Burano wat uitbundig lag, die matweefsters in Turkye en die borduur kringe op die markte in Boedapest het my aangegryp en byna jaloers laat voel.
Ek het nog altyd gedink dit is spesiaal om deel van ‘n skeppende groepie te wees waaruit soveel mooi dinge voortspruit. Nou is ek vir die eerste keer deel van ‘n kunsvlyt- en handwerkgroep – as deel van my werk om kleingroepe te vorm by die kerk. Dit is die lekkerste uitstappie om vir ‘n rukkie in daardie kring te sit en te werk aan ‘n projekkie. Daar is iemand wat kalligrafie doen, daar word gebrei, gehekel, borduur, inkleur, naaldwerk – enige handwerkie.

Elkeen se stokperdjie is ‘n kunsvorm wat al oor eeue heen beoefen word deur vriendskap sirkels. Ma’s en oumas wat benewens hul dagtaak, tyd maak vir iets moois. Elkeen se kuns materiaal inspireer my – die mooiste kleurkombinasies wol, skerp kleurpotlode in elke kleur van die reënboog. Ink wat so lekker ruik jy wil lostrek met ‘n sonnet en patrone so keurig jou vingers jeuk en jou kop begroot vir jou volgende inkopietog na die kunswinkel!

Maar dis nie die eindproduk – erfstukke, spog geskenkies of bederf goedjies wat so belangrik is nie. Dis die mense en die samesyn wat dit so kosbaar maak. Tussen al die lag en trane hoor ons elkeen se hart, deel elkeen haar storie, haar vrese en vreugdes. Op ‘n ongeforseerde en informele manier word wysheid tussen generasies oorgedra en terapie onwetend gegee.

Dit lyk my kreatiewe, vlytige mense het dikwels geduld en sagte oordeel. Ons ken immers van gekoekte bolle wol ontrafel en tydsaam uitryg waar ‘n steek geval het. Miskien is dit omdat ‘n mens konsentreer op jou werk, so jy luister noodwendig meer as wat jy praat. Ek sluit nie mans uit by hierdie kring nie, maar dit lyk vir my of iets wonderliks gebeur as ‘n groep vroue saamkom en iets aanpak. Jy hoef nie eens vaardig te wees nie, daar is genoeg gewillige leermeesters. Ek wil jou aanmoedig – vind of vorm jou eie kreatiewe kringetjie waarheen jy soms kan ontsnap.

Posted in Uncategorized | 1 Comment

Mors bietjie petrol!

Ja ek weet dis duur en sleg vir die omgewing, maar dis ‘n fantastiese vermorsing om jou kar vol te gooi en die pad te vat. Ek weet nie in hoe ‘n mate die wanderlust in jou gene bepaal hoeveel kilos jy aflê nie, maar ek glo die meeste mense skuur te min hulle julle-weet-wat! Ek het ‘n paar afgetrede vriende wat daarvoor probeer vergoed in hul goue jare, maar ek sien ook soveel vir wie dit net ‘n droom gebly het, omdat goue jare nie ‘n waarborg is nie.

Ek het al geskryf oor hoe my gesin agter blomme en watervalle aanry. Ons was wel bevoorreg om in een van die mooiste dele van die land te bly, so Sondaguitstappies was maklik. Maar ons het ook jaarlikse langpad vakansie tradisies gehad “Transvaal” toe. My lekkerste herinneringe is die inpak, uitsien, drie-uur opstaan, slaap sodra die wiele draai en padkos geniet onder ‘n smurfdakkie terwyl die sonnetjie agter ‘n randjie uitkruip. Daar was geen sprake van iPads of DVD spelers nie. Ons het gelees, gebrei en langpad speletjies gespeel.

Dit is by my steeds ‘n beginselsaak om my gesin gereeld uit hul leefruimte te vat en bloot te stel aan nuwe dinge, plekke en mense. Die enigste toestelle wat ons toelaat is musiek en stories. Verder moet my kinders hulle kreatiwiteit ontwikkel en alles rondom hulle raaksien. Vir meeste mense klink dit mal, maar dis hoe ons al vir 10 jaar Weskus en Noordkus toe ry – elke jaar. My kinders ken niks anders nie en ek kan die verskil in hulle sien tydens elke uitstappie of vakansie. ‘n Onlangse praatjie waar ek was, beskryf kinders as mieliepitte wat soos springmielies heeltemal ontpop tydens ‘n gesinsvakansie. Kwaliteit tyd saam waar kinders en huweliksmaats kans kry om uit die gejaagde roetine te klim en net weer mens te wees.

En dis nie net vir kinders goed nie. Elke mens het nodig om elke nou en dan die son te sien opkom vanuit ‘n nuwe horison, ‘n nuwe bossie te ruik en ‘n vreemde dialek te hoor. Geld kan nie geselstyd, rus en kreatiwiteit koop nie, maar dit kan ‘n tenk petrol koop … en ‘n bietjie tolgeld!

Posted in Uncategorized | 1 Comment

Kruip uit jou dop

ian-dooley-298769 (1)

Ek kry elke week ‘n sarsie pragfotos per epos van hierdie ongelooflike webwerf wat gratis fotos beskikbaar stel. Hierdie foto het my veral aangegryp en ek gee dit my eie titel: breek uit!

Daar is vir my min dinge so inspirerend soos ‘n vrou wat iewers tussen haar rolle as huweliksmaat, moeder en beroepsvrou, kans kry om haar eie vonkel te ontdek.  Iewers tussen skoolkosblikke, die hond se inenting, die skoolkonsert, die afspraak met die ginekoloog, argitek en oudioloog, die kind se klavier eksamen, die sperdatum vir die werksopdrag en die inkopielys, maak hierdie vroue tyd vir hulself.  Hulle woon kampe, kursusse  en werkswinkels by om op datum te bly met teologie, politiek, nuwe tegnologie, sosiale media en modes.  Hulle lees boeke om van hul kinders, gesondheid, kos, dekor en geestelike groei beter te verstaan. Hulle beplan vir sukses, skeduleer stilword tyd, belê in hul menseverhoudings en werk hard om hul eie passies uit te bou.

Ek het sulke vriendinne wat hier naby of verby 40 in die ry gaan staan vir ‘n splinternuwe paspoort, ‘n eie besigheid registreer, ‘n kind aanneem, ‘n boek vrystel, ‘n sangloopbaan losslaan, ‘n tweede huwelik waag, ‘n doktorsgraad verwerf en ‘n nuwe lyf en kapsel met ‘n fotosessie bederf.  Hierdie vroue se toewyding aan skoonheid, vervulling en vreugde, gee my energie.

Ek dink ‘n dop is soms ‘n skans – ‘n verskoning waaragter mense skuil.  Ek is te skaam, besig, het te min kennis, tyd, geld, energie, blootstelling ens. Daar is min dinge so asemrowend soos iemand wat uit daai dop kan kruip en soos ‘n skoenlapper vlieg na ‘n metamorfose!  Iewers moet jy net die wilsbesluit neem om te veg vir jou drome en op jouself te wed.  Sit jou helderste lipstiffie aan, kraak jou dop en woeker vir die mooi dinge!

Foto deur Ian Dooley – Unsplash

Posted in Uncategorized | 3 Comments

Positiewe Ritmes

img_7253

My hart vermurwe elke keer as ek ‘n ouer persoon sien loslit raak op ‘n ou liedjie met ‘n hoogskop ritme. Daar is twee waardige Tswana oumas in my water-aerobics klas wat die heupe gooi op Patta Patta se remix en die eertydse voedvrou sing sommer al die woorde hardop saam met Queen. Meeste van my ouer aqua vriendinne voel hulle het alleenreg op rock’n roll, bob en boogie. Selfs die atletiese dame wat getrou kom al het sy net een voet, se oë vonkel as ons begin twist en jive.

Daar is vir my min dinge meer hoopvol as ‘n groep jongmense wat spontaan begin saamsing op ‘n stadsplein, lughawe, trein of êrens op ‘n sportveld. Niks lekkerder as die dreunsang van ‘n nasie wat trots sy span op die veld tot oorwinning stu nie. As jy al ‘n jemba drom in ‘n groepsessie leer slaan het, sal jy weet hoe kragtig musikale samesyn is. Ek het nog nooit gesien dat iemand nie glimlag as klein kindertjies saam sing en dans op ‘n konsert nie.

Navorsing het bewys het enige iets wat ritmies in ‘n groep saamgedoen word, groot mediese en terapeutiese waarde het. Koorsang en dans is baie suksesvol aangewend onder kinders wat trauma beleef het. Iets gebeur met ‘n mens se breingolwe wat so ongelooflik goed en genesend is. Musiek maak mens sag en ontvanklik vir alles wat mooi is. Geen kind word toondoof gebore nie en alle kleintjies dans as musiek begin speel. Iewers verloor party mense die gawe van musiek.

In ‘n land waar almal agterdogtig en getraumatiseerd is, kan saamwees regtig vrede bring. Ons moet meer moeite doen om in ‘n groep te sing, dans, baljaar, loof, wikkel en lag. Waar ‘n selfs ‘n klein groepie mense bymekaar is, transformeer kadens en reëlmaat die sosiale wanorde. Waar die ritmes en die klankgolwe in mekaar vloei, verdwyn ons selfbeheptheid, apatie en angstigheid. Ek glo in die Goddelikheid van saamkom en ‘n stuk kuns skep.

Posted in Uncategorized | 1 Comment