Topwenke van ‘n professionele huismuis

venster

Dag 12 van Corona Selfisolasie

Ek lees die blogwenke van professionele tuisblyers: huisvroue, vryskut skrywers, ‘n non en selfs ‘n ruimtevaarder. Met baie meer vryheid, was ek ook die laaste 13 jaar ‘n huismuis en voel ek ook genope om my klein bydrae te maak, vir wie dit ook al iets mag beteken.

Ek vermoed almal is in skok en bang na gisteraand se aankondiging dat Suid Afrika tot hulle huise beperk word. Dis vir niemand lekker om te sien hoe jou land se weermag ontplooi word om seker te maak jy sit nie jou voet in die straat nie.  As jy hierdie lees is jy reeds tuis, of besig om voor te berei vir ‘n nuwe lewe binne die veilige poorte van jou Corona adres.  Indien jy nog pendel tussen huis en werk, is jy waarskynlik ‘n essensiële diensverskaffer, wat beteken jy is een van ons nuwe nasionale super helde: die skoonmakers, mediese engele, nooddienswerkers, kassiere en almal wat die voedselketting, ekonomie, maatskaplike en munisipale dienste aan die gang hou. As dit die geval is, bid ek Sy genade oor jou en hope ekstra krag en gesondheid.

Selfs ons helde gaan aansienlik meer tyd tuis moet deurbring. Sodra jy jou tuiskantoor ingerig het en klaar geskarrel het om die huis teen oorlog te verskans, gaan jy ‘n paar kerwe op Maslow se behoefte-hiërargie kan klim (die eerste is blykbaar nou toiletpapier en hospitaalgehalte ontsmettingsmiddels, dan wifi, kos, kerse en imuunversterkers). Ek is nou al by die deel van die piramide waar ek tuisonderrig vir selfontwikkeling en selfaktualisering, vermaak en sosialisering begin bedink.  Bitter min in my daaglikse bestaan het eintlik verander, maar vir die meeste mense gaan dit ‘n enorme skok en aanpassing wees.  Ek hoor reeds dat Sielkundiges wêreldwyd oorval is deur gesonde mense wat nie die isolasie kan hanteer nie en iewers op die skaal tussen depressie en volle waansin beweeg.  So hier is my top wenke om jou varkies bymekaar te hou:

 

  1. Neem afskeid van jou ou lewe. Dis verby.  Selfs al kom jy heel anderkant uit sal die wêreld nooit weer dieselfde wees nie.  Jou nuwe lewensdoel is om jouself en jou naastes deur hierdie jaar te kry.  Een dag op ‘n slag. Hoe gouer jy met die ontsaglike gedagte kan vrede maak, hoe gouer kan jy die oorlog aanpak.
  2. Rou ‘n rukkie – gee jou en jou naastes tyd om oor die verlies te kom van alles “daarbuite”. Wees sag met mekaar, want aanpassing is moeilik en die frustrasie en selfs woede is normaal en kom in golwe. Beskerm jou hart as jy ‘n kleintjie het, teen al die duisende verhale van verlies en wanhoop. Moenie meegesleur word in die maalkolk van tragedie nie. Jou immuniteit hang letterlik daarvan af. Tel jouself elke dag aan die kraag op en kies lewe en hoop. Lees selektief en stomp jouself ‘n klein bietjie af teen negatiwiteit en onnodige inligting. Begrawe ou koeie, vergewe mekaar, kies liefde, respek en teerheid.
  3. Raak lief vir jou huis. Maak jou Corona hibernasie-nes ‘n gerieflike en gemaklike ruimte. Die klem is nou nie meer op estetika en modes nie, maar op die inwoners se gewoontes en behoeftes. Vertroetel jouself en jou huismense.  Doen steeds moeite met jouself en jou voorkoms, maar geniet die vryheid van pantoffels en die luuksheid van tyd. Jy hoef nou niemand te beïndruk of met iemand mee te ding nie, die druk is op oorlewing. As jy alleen is of ‘n enkelouer is, gaan jy ekstra moeite met doen.  Wees kreatief, neem ‘n troeteldier aan, koop ‘n plant, waak teen uitputting en vier steeds die lewe se klein vreugdes.
  4. As jy nog altyd op ‘n huishulp gesteun het en nou sonder iemand moet klaarkom gaan veral die ma’s baie swaarkry. Verdeel en delegeer take, kom in ‘n weeklikse skoonmaak roetine en moenie alleen die las dra nie.  Daar is iets ongelooflik terapeuties aan fisieke sleurtake en terwyl ‘n mens se hande besig is, kan jy jou kop om alles probeer kry wat met ons gebeur. Skep nuwe familie rituele rondom skottelgoedwastyd, kyk iets op jou skootrekenaar terwyl jy stryk, facetime iemand terwyl afstof ens. Moenie dat werk ophoop en die huis deurmekaar raak nie, dan voel jy binne ‘n paar dae depressief, oorweldig en buite beheer.
  5. Maak nuwe huisreëls vir jou gesin om mekaar ekstra te ondersteun en dinge vlot te laat loop. Kom so gou moontlik in ‘n nuwe week en naweek roetine. Dit laat kinders veilig voel en help jou om jou werk, huiswerk, dalk later tuisonderrig en ontspanning te balanseer.  Skep aparte tye en areas vir werk en ontspan.
  6. Pas mekaar op. Praat gereeld met mekaar en hoor wat is almal se frustrasies, vrese en behoeftes. Laat mense toe om dit op hulle eie manier te beleef. Verwag dat almal af en toe gaan uithaak. Dis normaal, maar hou dit kort en sê jammer. Leef vrygewig en handel verantwoordelik teenoor mense wat van jou afhanklik is. Erken as jy te kort skiet en hulp nodig het. Wees tegelyk broos en dapper. Wees eerlik, maar wys in die afweeg van jou woorde wat jy spreek en tik. Leef in totale afhanklikheid van God.
  7. Maak tyd vir speel, ontspan en geestelike toewyding. Skep nuwe spirituele gewoontes. Daar is ‘n magdom gratis hulpbronne, idees, e-konserte, e-eredienste op sosiale media platvorms. Ontwikkel jou talente en span jou gawes in om ander in hierdie tyd te seën.  Probeer elke dag iets moois te skep om die lewe bietjie draagliker te maak vir mense om jou.  Gebruik jou verbeelding en kreatiwiteit en probeer iets nuuts.
  1. Doen iets groens en gesonds. Begin ‘n groentetuin – al is dit ‘n leë houer met een tamatiepit in jou vensterbank. Herwin, “upcycle” en deel jou idees met ander. Bly fiks en soepel.
  2. Hou kontak met mekaar, bemoedig, vertroos, inspireer en bid vir mekaar. Doen moeite met gesinstyd. Dit is ‘n eenmaal-in-leeftyd-kans om STADIG te lewe.  Dink aan goed wat julle rustig saam kan doen, slow-food, slow dance, slow living. Wees in die oomblik. Sê vir mense hoeveel jy vir hulle omgee asof dit die laaste kans is. Sien reikhalsend uit na volgende jaar wanneer ons almal die lewe sal waardeer soos oorlewendes uit die kake van die dood.
  3. Hou dagboek. Dit is terapeuties en iets om vir die nageslag te bewaar oor ‘n ongelooflike tyd in die geskiedenis. Ons gesin het begin met ‘n dagboek waarin ons elkeen soggens 4 goed neerskryf: Waarvoor is ons dankbaar, 2. Wat gaan ons doen om iemand vandag te help?, 3. Wat gaan ons skep wat kreatief is en skoonheid toevoeg? 4. Vir watter persoon gaan ons vandag spesiaal bid?

 

Daar is iets ongelooflik vertroostend aan die gerusstellende, konstante teenwoordigheid van wasgoed – selfs in die middel van ‘n wêreldpandemie!  Kinders raak steeds klokslag elke twee ure honger en blare wil steeds gehark word soos wat die herfs nader kruip. Daar is iets ongelooflik doodgewoon en alledaags in elke dag te midde van al die onsekerheid en vrees.  Daar is steeds baie snaakse en mooi goed as jy weet waar om te soek. Kies om daarop te fokus en los die groot paniek vir die professionele krisishanteerders. Hou vas aan Jesus soos ‘n drenkeling in die oop see, maar woon en werk rustig voort in die wete dat Hy steeds in beheer is. O en laastens – bly weg van positiewe mense af – net sover dit Covid 19-status behels.  Hou die mense met jou tipe humorsin op speed-dial.  Humor en al die goedvoel endorfiene is wat jou hierdeur gaan staande hou.

Sterkte en liefde!

 

 

This entry was posted in Uncategorized and tagged . Bookmark the permalink.

6 Responses to Topwenke van ‘n professionele huismuis

  1. Hetta Baard says:

    Dankie Annabelle! Baie goeie raad…en soos altyd,met die tikkie humor! Hoop jy kry nou baie kans om nog lekker leesstof vir ons te skryf.
    Sterkte en wees veilig.xx

  2. Positief says:

    Hierdie is nou wraggies baie goed geskryf en prakties doenbaar vir elkeen van ons. Mag ek dit her-blog asb?

  3. Pingback: Topwenke van ‘n professionele huismuis — Belle la vita – Positief

  4. dromer777 says:

    Baie dankie. Die paniek wil so in mens opstoot as jy alles so om jou kyk maar dan maak skrywes soos hierde van jou mens weer rustig. Houvas net aan Jesus!!!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s