Aandagtig nie Angstig

Dag 6 van Corona Selfisolasie

geetanjal-khanna-8CwoHpZe3qE-unsplash

Wat sal skrywers en sangers tog doen sonder hulle woorde en wysies?  Moontlik van ons wysies afgaan!  By die gebrek aan grootmensgeselskap, het ek nou maar besluit om af en toe te blog en ons belewenis van hierdie geskiedkundige oomblik vas te vang vir die nageslag.

Ons selfisolasie het reeds 5 dae voor die skole gesluit is, begin.  Die seuns is afgeboek en op antibiotika vir lugweginfeksie.  Reeds twee weke voor dit het ons reeds deeglik voorberei daarvoor, omdat ons daagliks saam met my sussie beleef het wat in Hobart, Tasmanië gebeur. Ons hou die nuusplatvorms dop en probeer sin maak van wat soos ‘n onrealistiese riller fliek voel.

Ons is nou al ‘n  bietjie ingeburger in ‘n tipe roetine en verskans teen die virus, die mensdom en verveling. Tuis is ek eintlik in my natuurlike element.  Die huishoender in my het nou alle verskoning om te hiberneer en tyd saam met my beste maat en kinders te spandeer – ‘n geleentheid wat geld nie kan koop nie!

Ons was gelukkig om nog die biblioteek oop te vang en ons is tuis met berge boeke, tydskrifte, legkaarte, kuns, handwerk en hardeware vir huisopknappings projekte.  Ons groentetuin is ook nou met ‘n skadunet geïsoleer van al die voëls wat ons oeste geplunder het en die nuwe saailinge lyk vreeslik gelukkig en verskaf 1% voedselsekerheid.  Die oefenprogram begin daagliks met ‘n streksessie en eindig met ‘n stappie om die vleitjie saam met die hond.  Ons kan ook nog op die oefenfiets en tennisbaan fiks bly.

My bloedtoets laasweek vanaf my internis wys dat my weerstand kompetisiegehalte is en die dokter beskryf my as ‘n blinkvosperd.  Ek weet egter ek het baie longskade – weefselskade as kind en verdere longkapasiteit verlies deur die bestraling.  Oudste en jongste het ook al longontsteking en brongitis gehad, so ons is nie bereid om enige kanse te waag nie.

Ons reinig, ontsmet en suiwer die huis, liggaam en gees met enige chemiese middels of boererate.  Dit ruik tegelyk soos ‘n hospitaal en vars gebakte koekies.  Ons gee ons immuunvlakke ‘n hupstoot met als van sonlig, sonneblomsaad, silwer keelspuite, spekbome en sagte musiek.  Ons was laas so paraat en op aandag soos toe ons voorberei het vir chemo!

Ons bid vir manlief wat nog moet werk by die kantoor so lank as wat moontlik is, vir ons oupa en ouma wat blitsvinnig in Australië moet inkom voordat alle grense en vlugte sluit.  Ons bid vir die twee weke wat hulle in isolasie moet bly voor hulle die nuwe kleinkind moet help verwelkom en die 2 jarige ousus moet oppas. Ons bid dat my sussie veilig en in die hospitaal sal kan geboorte skenk en dat albei ongedeerd deur die jaar sal kom.  Die fisiese afstand tussen ons was nog nooit so groot nie.

Verder bid ons dat my skoonpa en sy nuwe vrou veilig van hulle wittebrood in Namibië sal kan terugkeer te midde van meeste grensposte wat reeds gesluit is.  Ons bid vir elke persoon wat reeds siek is, nie versorging het vir hulle kinders terwyl hulle nog werk nie, vir almal wat in finansiële nood is, hulle werk verloor en geen uitkoms het nie.  Ons bid vir kalmte en wysheid te midde van verlies, paniek en wanorde. Ons bid vir kreatiewe nuwe oplossings om mense geestelik en fisies by te staan in hulle nood. Bowenal bid ons vir alle gesondheidswerkers wat binne in die oorlog is.

Dis die eerste Lydenstyd sonder al die bekende rituele en tradisies van ons kerk.  Ons leer om ‘n aanlyn gemeente te wees en spandeer baie tyd om deur vals nuus en swak raad te sif. Dis ook ‘n groot geskenk om tot absolute stilstand geruk te word met tyd vir ons gesin, tyd vir besinning en groei. Dis ‘n tyd van opoffer, kreatiwiteit en liefde.  Dis bisar, ongekarteerd en vreesaanjaend, maar ons is gelowig en veilig in Sy hand een dag op ‘n slag. Dankie vir almal se honderde Virus-, toiletpapier- en eg Suid Afrikaanse grappies! Dankie vir almal se resepte en idees. Mag jy en jou geliefdes ook veilig, rustig en versterk deur die pandemie kom!

This entry was posted in Uncategorized and tagged . Bookmark the permalink.

5 Responses to Aandagtig nie Angstig

  1. Adéla says:

    Wow jy in jou klein hoekie het jouself oortref!!!! Briljant geskryf my kind!!!! Dankie ook vir jou besorgtheid oor ons en voorbidding!!!! Jy is enig in jou klas.

    Adéla Engelbrecht Sent from my iPhone

    >

  2. Toortsie says:

    Baie mooi geskryf. Dis lekker dat jy meer blog. Sterkte met die geïsoleerdheid.

  3. Pingback: Topwenke van ‘n professionele huismuis | Skuilkrans NG Gemeente

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s