Trane op Tietiesbaai

IMG_2315

Vir die langste tyd wou ek glad nie meer skryf oor Borskanker nie (dis immers só 2013).  En laasmaand bel daar onverwags ‘n wildvreemde man uit die hartjie van Namakwaland op soek na raad, troos en hoop.  Via Google, WordPress soekwoorde en Facebook kom hy by my uit.  Sonder dat hy geweet het dat ons op dieselfde dorp grootgeword en skoolgegaan het –‘n dekade of meer uit mekaar.  Sy vrou moes eersdaags met die rooiduiwel begin, maar mense het haar so negatief gemaak en hy wil hierdie bul by die horings pak ter wille van haar. Wat ‘n unieke voorreg om te kon help en bemoedig uit die ander kant van die land danksy ‘n bloginskrywing van 7 jaar gelede!

So nou is ek maar gehoorsaam en besluit om te blog oor die minder lekker kant van remissie.  Soos meeste mense weet gaan ek en my vriendin jaarliks saam vir ons besoek aan Tietiesbaai.  Dis haar naam vir die nudiste-baai waar jy jou tweeling uitstal vir foto’s en allerhande onsmaaklike aktiwiteite.  Ons het al dikwels bespiegel dat daai martelmasjien deur ‘n man ontwerp is, en ons wonder hoe hulle kroonjuwele sou vaar in die masjien …

My vriendin het ‘n ma en suster om as familiegeskiedenis op die vormpie in te vul en my verlede is, soos julle weet, ook nie vlekloos nie. ‘n Besoek aan die baai is ‘n noodsaaklike las wat ons verduur en saam-saam draaglik (en selfs lekker) maak. Dis altyd skuins na Valentynsdag en haar van is Valentine – so dit raak tradisie om die lewe in rooi te vier. Hierdie jaar kon egter geen hoeveelheid rooi lipstiffie die uitkoms beïnvloed nie en ons albei dop ons mammogram!

Sy het ‘n sist –‘n blasierige-iets gevul met water wat dopgehou moet word en oor  6 maande weer geëvalueer moet word.  Ek het “argitektoniese” probleme  – donker riviertjies op die sonar, wat van binne bestudeer moet word en ‘n biopsie is ononderhandelbaar.

Sy laat hoor later op whatsapp “is jy ok, jy was vir my so kalm, net soos die tannies wat op Griekwastad-skou die gebak beoordeel het, jy het nooit geweet wat hulle dink nie.”  Ek antwoord ja, ek en Pieter het besluit “uitfreak” is vir beginners!

Oppad huis toe het ek wel deur die trane van teleurstelling bestuur, want ons fyngebak het toe nou geen pryse by die Radioloog-skou gewen nie en die onverwagse nederlaag is niks lekker nie.

Teen Maandag het my maatjies se trooswoorde knus om my gehang en hierdie rondte hoef ek darem nie deur die prosedure te gaan met ‘n tweejarige op my skoot nie!  Die 8 jarige het saam met sy pa in die wagkamer gesit, salig onbewus van hoe die verlede homself herhaal in dieselfde hospitaal.  Hierdie keer het ek ook darem geweet wat biopsies is en was baie beter voorbereid.  So nou mag ek vir 2 dae niks fisieke werk doen of my arm vreeslik beweeg nie, want hulle is bang vir bloeding en infeksie.  Ek beskou dit as my beloning vir al my moeite en vertel my huismense ek is op verpligte bed-rus (op die tye van die dag wat my pas!)

Dankie vir almal se omgee – ek hou julle op hoogte.

 

 

This entry was posted in Uncategorized and tagged . Bookmark the permalink.

10 Responses to Trane op Tietiesbaai

  1. ellaukblog says:

    Dankie vir jou mooi skryf oor mindermooi nuus, Annabelle. Dink aan jou en hoop die opvolgblog is vol goeie nuus.

  2. Toortsie says:

    Annabelle. Mag God jou beskerm. Ek hou styf duimvas.

  3. Aletta Esterhuyse says:

    Liewe Annabelle. Jy skryf so pragtig. n Mens lewe saam met jou die gebeure. Ek en n vriendin het ‘Ordinary Love’gaan kyk en beleef waardeur jy en ander moet/moes gaan. Dankie vir jou blog. Mooi dag.

  4. Avis Perks says:

    Dear Annabelle Thinking of you with lots of love and hugs. And hoping to be able to celebrate a happy blog from you soon. Xx

  5. Hetta Baard says:

    Ag jinne,Annabelle! So jammer om vd “klip op d gelykpad” te hoor!!
    Ons glo die Here is in beheer en gaan jou weer met vlieënde vaandels laat slaag.
    Baie sterkte! Bly positief. Bid vir jou.🙏🙏♥️♥️

  6. dromer777 says:

    Baie sterkte en genade. Ek bid saam!!!

  7. Sterkte vir jou en jou mense.

  8. Marena Lotriet says:

    Dink aan jou, liewe Anabelle. Mag die pad gelyker wees as wat die tekens wil suggereer. Jy en jou vriendin is beide pragtig.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s