Van Huishulp tot Ikoon

Doktor Nothembi Mkhwebane – Koningin van Ndebele musiek

Bessie Keun – my vriendin verbonde aan ATKV Applous het my en Albert die onverwagse voorreg gebied om by ‘n ongelooflike kleurvolle kunstenaar uit ons eie geledere te gaan kuier.  Dr. Mkwebane  bly op die rand van Meyerspark – ‘n voorstad in die Ooste van Pretoria. Toe ons by die klein plasie in die stad inry, weet ons dadelik ons is in ‘n Ndebele koninkrykie.  Die eerste ding wat jy opmerk is die potblou huis met sy Ndebele patrone om die randjies en dan sien jy die gedenkmuur wat Minister Nathi Mthetwa laasjaar onthul het, vir haar bydrae tot die bevordering van Kuns en Kultuur.

Sy gee ‘n gilletjie van plesier terwyl sy ons al drie omhels en laggend verwelkom in haar huis  wat ook as ‘n kulturele museum dien.   My oudste seun herken haar dadelik as die onderwerp van een van sy Graad 5 Afrikaanse begripstoetse. Alhoewel ek goed voorberei het vir die onderhoud, tref die grootsheid van die persoon my nou eers en besef ek hoe belangrik haar storie is.

Ons vergaap ons aan die versameling kleurvolle memorabilia, tradisionele kuns, instrumente en Ndebele ontwerpe.  Daar is selfs ‘n geskenk van die president van Sjina uitgestal. Intussen skarrel sy heen en weer om ‘n hele partytjie vir ons reg te kry. Gasvry en kreatief bedien sy o.a springmielies in Ndebele kleure.  Alles in hierdie huis is bont! Daar is foto’s saam met al die presidente sedert Mandela, by wie se inhuldigings sy opgetree het.  Daar is selfs ‘n foto waar sy pryk in haar eredoktoraat se rooi toga by die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Nothembi is plat op die aarde en passievol en Bessie – haar matriek juffrou – moet help om die stories uit haar te trek.  Sy is trots, maar spog nie sonder ‘n bietjie aanmoediging nie.  Haar storie begin ook nie glansryk nie.  Sy is op die ouderdom van vyf wees gelaat in die sorg van haar grootouers op ‘n plaas naby Carolina in Mpumalanga.  In die vyftigs was dogters ontmoedig om skool toe te gaan want jou enigste taak was om voor te berei vir jou rol as vrou en moeder. “Potslaan” (die oumense se woord vir vroue se inisiasieskool) en “Om te loop trou”, was jou hoogste ambisie.

Sy beskryf haar lewe daar as rustig en gelukkig.  Sy moes haar oupa se vee oppas en hulle familie was mal oor musiek. Haar ouma leer speel haar rietfluit en haar oom maak haar eerste bokskitaar.  Hulle familie vorm ‘n gewilde groep musikante wat by elke fees en troue optree.

Na haar grootouers se dood, moes sy noodgedwonge die plaaslewe verruil vir ‘n lewe as huishulp in Pretoria.  As die verlange huis toe te erg raak, wend sy haar tot musiek en koop uiteindelik haar eie eerste kitaar waarop sy net eers haarself in die kamer begelei. Op ‘n klawerbord begin sy komponeer en tree af en toe op saam met familie wat kom kuier.

Mettertyd kry sy weer ‘n groep op die been en terwyl sy radio luister, begin die droom in haar groei om ‘n plaat op te neem.  Maar hoe? Sy het geen idee nie, maar kry eenvoudig ‘n adres en ‘n telefoon nommer en gaan klop aan by ‘n ateljee.  Hulle besef dadelik haar musiek is uniek en het kwaliteit.

Sy is ongeletterd en trek net ‘n kruis vir ‘n handtekening waarmee sy al die opbrengste van haar eerste plaat wegteken.  Sy is nie iemand wat haar maklik laat onderkry nie en sy was net so trots om haar eie LP plaat te hê met liedjies wat voorheen nog net by kulturele byeenkomste gehoor kon word.  Sy vertel hoe lekker dit was om na haarself op Radio Zulu te luister .

Nothembi is toe reeds in haar 40’s, maar besef sy moet ‘n skoolopleiding kry, ter wille van haar loopbaan.  So maak sy kinders groot, woon aandskool by (ABET skool wat van  Laerskool Skuilkrans se fasiliteite in die aande gebruik maak), komponeer, tree op en neem nog 7 albums op.  Sy neem haar twee kinders oral saam met haar as sy optree in London, China, VSA, Australië, Oostenryk, Frankryk, Portugal en Duitsland.  So word sy ‘n kulturele ambassadeur vir Suid-Afrika en die toekennings rol in. In New York word sy vereer vir die beste Ndebele lied.  Sy verhef Ndebele kuns tot ‘n vlak wat dit op die wêreldverhoog plaas.

Deesdae is sy op die Presidentstoekenning komitee, waarvan sy self ook aan die ontvangkant was. Nothembi ontvang ‘n Silwer Orde van Ikhamanga wat toegeken word vir uitnemendheid in die velde van kuns, kultuur, literatuur, musiek, joernalistiek en sport. Hierdie “strelitzia” is al ontvang deur mense soos Gary Player, Natalie Du Toit, André P Brink en Morné Du Plessis.

Dr Mkwebane het ook ‘n organisasie gestig wat Ndebele taal en kultuur (spesifiek musiek en kuns) bevorder  deur middel van oudisies, opnames, opleiding en kulturele uitruiling. Dit lyk egter nie of die wêreld se glans en roem haar hart verander het nie.  Haar kinders is haar trots.  Haar seun het ook saam begin optree en reeds 2 albums opgeneem. Haar kleinkinders sit en kleur in terwyl hulle beroemde ouma haar laaste paar matriekvakke se klasse bywoon.

Sy dra steeds die plaas in haar hart en sy vertroetel haar 20 bokke en paar skape op haar kleinhoewe soos sy as klein dogtertjie gedoen het.  Sy is ook mal oor tuinmaak, kos kook en sy kook die lekkerste konfyt. Sy het van kleins af geleer ‘n mens het nie aardse rykdom nodig om gelukkig en tevrede te leef nie.

Moenie jou drome uitkontrakteur nie

Nothembi se boodskap aan jong mense is om die ou waardes van respek en dissipline toe te pas om sukses te bereik.  Mense kom en gaan oor jou pad, maar jy moenie nie jou drome op hulle bou nie.  Jy kan nie jou drome aan ander toevertrou en hoop hulle gaan dit vir jou realiseer nie. Enkeles loop ‘n entjie van jou pad saam met jou.  Hulle help jou vir ‘n rukkie en vergeet van jou, sommige misbruik jou vir eie gewin.  Jy moet net aanhou om jou eie ding te doen en nie stilstaan by die mense wat jou in die steek laat nie. Sy glo as jy ‘n talent het en weet waarheen jy oppad is, dit nie saak maak watter moeilikhede op jou pad kom nie.

Ek ry weg met die gevoel dat ‘n ikoon my pas bedien het met tee, ‘n stuk van haar menswees en lewenswysheid.  Sy is werklik ‘n inspirerende Suid Afrikaner en ‘n vrou om op trots te wees. Haar gravita herinner my aan al drie tipes mense in William Shakespear se bekende aanhaling:

Some are born great, some achieve greatness, and some have greatness thrust upon them.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

1 Response to Van Huishulp tot Ikoon

  1. ellaukblog says:

    Dankie Annabelle. Sy is ‘n inspirasie vir ons almal. Dankie dat jy haar so mooi aan ons bekendstel.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s