Peonies, Psalms en plattelandse liefde

Dit is wat ek sal onthou van die week waarin ons begrafnis gehou het.

So daar staan ek Maandagmôre in Pick & Pay met my lysie en skedules. En dan kom die oproep wat jou heeltemal verlore laat tussen rakke en mense en skielik is alles waarvoor ek jaag totaal onbelangrik en nutteloos.

“My ma is nou net dood” hoor ek tussen die trane deur. “Hoe bedoel jy?”, vra ek soos ‘n kleintjie sonder begrip of woordeskat. My man ken nog nie die details nie, maar ek hoor hy weet glad nie wat om volgende te doen nie. Van iewers af skop “Autopilot” in en ek hoor myself kalm instruksies gee om dadelik Harrismith toe te vertrek. Twee ure later sit ons op die snelweg, kompleet met kos, kerkklere, kinders se stokperdjies en alles wat ons die week sal benodig. Wel, amper alles, want ons het toe nog nie geweet die dorp sit sonder krag en water nie…

Die week raak ‘n oorlewingskamp en ons steier onder die hartseer en chaos wat noodwendig volg op die skielike heengaan van ‘n anker. Die persoon wat al die drade bymekaargehou het, kan ons nie nou help nie.

Almal wat van ‘n dorpie af kom, ken die toneel wat hom afspeel. Liefdevolle mense dra kos aan en kom soek troos en betuig medelye terwyl die kinders skarrel om alles vir die verassing en roudiens te reël. Die kleinkinders en jarelange vriende se emosies en behoeftes moet versigtig en met groot deernis hanteer word en tussendeur moet ons die stroom roubeklaers versorg met aangeryde boorgatwater, kragopwekker en ‘n gasstofie.

Almal se liefde en gebede dra ons tot by die dag waar niemand wil wees nie. Ons kies Ps. 16 en musiek wat vir haar en ons kosbaar is en ons vier die lewe van iemand wat so baie mense as hulle ma beskryf. Die mooiste peonies, rose en ‘n krismisroos uit haar tuin herinner my aan skoonma se liefde vir mooi blomme en tuine. Dankie Retha vir alles en Ina vir jou getuienis. Machiel Roets is die orrelis en Margie Koster sing ook uit haar hart.  Ek dink Ma sou al die musiek baie geniet het. My eie man se huldeblyk aan sy ma is die enkel mooiste en hartseerste ding wat ek nog gehoor het.

Familie en vriende van ver en naby kom druk ons styf vas en huil saam met ons. Nuwe bande word gevorm en oues word verinnig. Dit word ‘n week van heling en nuwe begin. Ons is so dankbaar vir ds. Ulrich se ondersteuning en toewyding. As kerkpersoneellid voel dit vreemd om aan die ontvangkant te wees, maar ek besef opnuut die gewig en waarde daarvan.

My skoonma het dikwels gesê ek is die volgende Irma Joubert, maar ek het nooit gedink ek sou die outeur van haar begrafnisblaadjie moet wees nie. Hoe groet ‘n mens die persoon aan wie jy soveel verskuldig is? Die ma aan wie ek my ongelooflike lewensmaat en kosbare kinders te danke het? Sonder haar toewyding en menswees sou ek nie die huwelik of gesin kon hê waaruit ek soveel geluk put nie.

My skoonma was haar lewe lank ‘n suster, matrone en versorger met ‘n hart so groot soos haar geliefde Vrystaat vlaktes. Vir fieterjasies en aanstellerigheid het sy geen tyd gehad nie. Sy was ‘n storieverteller van formaat en steeds woedend vir die Engelse oor die Boere-oorlog. Die beeld van die kaalvoetvrou was vir haar baie persoonlik. Sy was ‘n vurige Cheetah- en lojale Laurika aanhanger. By haar kon ek Afrikaanse literatuur ontdek en leer oor gasvryheid en geskiedenis. Sy was sentimenteel en melankolies en het haar lewe onbeskaamd geleef op haar terme. Sy was toegewyd aan haar geloofsreis en opreg selfs in haar twyfel. Die wete dat al haar vrae nou voor Sy Troon beantwoord kan word, maak my byna jaloers.

Nou is dit my beurt om dieselfde waardes in haar kleinkinders se karakters in te bou en haar te eer deur haar seun lief te hê met my hele hart. Dit sal die klipstapeltjie wees wat ek vir hierdie vrou kan oprig. Ons word al hoe meer soos ons ouers soos wat ons ouer word, maar dis eers as hulle sterf dat ons grootmense word.

Ek kry die volgende aanhaling in haar telefoonboekie:

“Those we love don’t go away
They walk beside us every day
Unseen, unheard, but always near
Still loved, still missed
And forever dear”

Begrafnisbrief

Die dood is ‘n verlies en los ons verward. Die persoon op wie ons staatmaak is skielik van ons afgesny en ons dryf sonder ‘n anker. Dankie Here dat ons ook weet die ganse Skepping is in U hand en ook ons eggenoot, ma en ouma se lewe was ‘n geskenk aan ons. Ons treur daarom soos gelowiges met die seker wete dat sy nou in U beskerming rus.

Ps. 16 “’n pragtige deel is vir my afgemeet, ja wat ek ontvang het is vir my mooi.”

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

5 Responses to Peonies, Psalms en plattelandse liefde

  1. Dit klink asof jy ‘n vreugde in jou skoonmoeder se lewe was. Sterkte met die droefheid.

  2. Marena says:

    Liefste Annabelle

    Mag die deel van hierdie groot seer vir jou dit ‘n klein bietjie ligter maak. Dankie daarvoor. Ons dink met deernis aan Pieter en julle almal. Hugo en Marena

  3. Gerba de Klerk says:

    Hoop julle gaan troos vind in di wonderlike herinneringe Baie liefde e sterkte x

  4. Ohna Reyneke says:

    Ai, ek lees nou hierdie te laat om vir julle ‘n spesiale drukkie te gee!! Hoop die tydjie by die see het gehelp om die seer te verwerk. Sterkte en Liefde xx

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s