Sofie – Pretoria se vetkoek koningin

Ek was al so gelukkig om op ‘n partytjie te kon wees waar Sofie die gaste trakteer het met haar vetkoeke.

Doodgewoon, handgemaak, eerlik en wonderlik. Ek het al gehoor hoe buitelanders rondtas na woorde as hulle hierdie tradisionele Suid-Afrikaanse lekkerny wil beskryf. ‘n Australiër het dit herdoop tot “savoury donuts”. Ek weet nie eens of ‘n mens Sofie s’n  vetkoeke mag noem nie, want dis soos niks wat jy nog ooit geproe het nie.  Elkeen is ‘n klein partytjie.  Jy byt deur ‘n delikate bros korsie en dan smelt ‘n veerligte kussinkie in jou mond.  Ek het my verwonder hoe deftige gaste sonder skaamte gaan vir 2de en 3de vetkoeke terwyl die gesmelte botter en stroop oor hulle kenne loop.  En Sofie staan met ‘n breë glimlag – geduldig die hele aand en bak alles vars, sodat almal die louwarm lekkerny kan geniet.

Vanjaar het Sofie die voorreg gehad om meer as 800 vetkoeke te gaan bak by die glansryke Pendoring Toekennings by die Universiteit van Johannesburg.  Ek het by haar gaan kuier om seker te maak ek vertel haar storie reg, want wonderlike vroue soos hierdie se stories moet neergepen word.

Sy vertel hoe sy as Ndebele-dogtertjie op die plaas Stofberg naby Belfast moes help mielies maal en leer boerbrode bak vir die werkers op die groente lande.  Hulle was ver van die winkels en daar was baie honger mans in die Skosana-familie.  Sy was nog baie klein toe sy geleer het om gis te maak van aartappels of hlama (bier) wat uit mielies gemaak  word. Sy vertel van die bakoond wat soos ‘n klein huisie was waarin jy gebukkend kon staan om die panne vol deeg te los.  Die openinkie is dan toegemaak met nat mieliesakke en geseël met beesmis.  Geen termometers of wekkers – net op gevoel word daar gebak.

Sy verklap haar vetkoek geheime sonder huiwering. Die deeg moenie te styf wees nie en hy moet goed geknie word. As daar geslag is op die plaas is die bees- en varkvet uitgekook en met olie gemeng, sodat die vetkoek nie olierig is nie. Vandag kan jy dit gereed koop en met kookolie meng.   Dan moet dit stadig gebraai word.

Sofie werk al 32 jaar vir Bessie en Andre Keun.  Sy het Bessie se kinders help grootmaak en Bessie het hare help grootmaak.  Sy het dikwels die kinders gedreig dat sy nie vir hulle gaan vetkoek bak voor hulle kamers nie aan die kant is nie.  Die Keuns was by haar kinders se inisiasieseremonies en betrokke by hulle opvoeding en lewens.  Vandag is Sofie ‘n ouma met vier kinders van haar eie en 9 kleinkinders.  Haar man is 3 jaar terug oorlede, maar sy is nog vol energie en lewenslus.  Op ‘n dag woon Bessie haar dogter se partytjie by in KwaNdebele en sien hoe Sofie vir ‘n groot klomp gaste vetkoek bak.  Sy vra haar toe om dieselfde by haar eie verjaarsdag te doen.  Gaste van heinde en verre is gaande oor haar vetkoek en Sofie kry oornag ster-status  as onthaler.

Bessie organiseer die ATKV Applous-koorwedstryde en daarvoor kry Sofie haar eerste groot korporatiewe kontrak as deel van Skuilkrans NG gemeente se fondsinsameling.  Daarna volg ‘n Vodacom -funksie en deur Bessie se seun Eben, wat vanjaar die Pendorings-organiseerder is, kry sy die eer om by die gesogte funksie te bak.  Die tema die jaar was   #SpeakSouthAfrican en talle minderheidsgroepe se tale is gevier.  Sy kon toe vir haar ‘n spannetjie van 3 familielede bymekaar kry wat die gaste ontvang het en met hul aankoms trakteer het met ‘n vetkoek in haar kleurvolle tradisionele Ndebele-drag.

Sy vertel hoe die Keuns haar met alles ondersteun en gehelp het en hoe senuagtig sy was om die enorme projek te bestuur.  Dertig kilogram meel is gebruik en alles moes betyds geknie en gerys word.  Net baie jare se ondervinding kon van dit ‘n sukses maak.

“Dit was vir my baie wonderlik”, lag sy tevrede.  Haar gasvryheid en diensbaarheid straal uit haar uit as sy vertel hoe mense haar vetkoek geniet.  Sy kon ook ‘n lekker bedraggie verdien, maar haar behoeftes is eenvoudig.  Sy is baie bly oor haar eie sakgeldjie wat sy met die vetkoeke verdien het, want sy wil vir haar tuin ‘n randjiesnyer koop.  Sy is ‘n ywerige tuinier en hou haar eie grasperk in stand.

Ek ry weg met ‘n trots in my binneste.  Trots om ‘n Suid-Afrikaner te wees wat kan skouers skuur met sterk vroue soos sy en Bessie wat mekaar opbou en versorg vanuit hulle verskillende kulturele agtergronde.  Nog nooit in ons land se geskiedenis was dit belangriker om mekaar te dien, vereer en versorg en geniet nie.

Foto:

Sofie se assistent – krediet aan: I Was Shot in Joburg in opdrag van Eben Keun Breinstorm Brand Architects .

Sofie – Krediet aan Pendoring Advertising Awards– Pendoring0218/AletPretorius

Sofie besig om te bak – Pieter Lombard

#PendoringAwards, #BreinstormBrandArchitects, #ATKVApplous, Skuilkrans NG Gemeente,#Pendoring2018, #Speaksouthafrican@media24,  @kykNETtv,  @Mzansimagic @Majozi

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , , , , , . Bookmark the permalink.

1 Response to Sofie – Pretoria se vetkoek koningin

  1. ellaukblog says:

    Dankie Annabelle, ons het groot waardering vir Sofie se menswees en haar beskeie vernuf.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s