Trap in jou leed

Op een of ander stadium in byna elke mens se lewe kom daar ‘n tyd wanneer jy deur trauma moet gaan.

Jy kry ‘n oproep, ‘n toetsuitslag of ‘n kort sms wat jou hele lewe uit sy baan gooi.  Jy is jonk, jy is besig, of jy is oud en sonder hulp.  Byna altyd is jy totaal onvoorbereid en onbevoeg.  Geen skoolvak, loopbaan- of leierskap kursus leer vaardighede vir die dag dat jy moet klaarkom sonder die mense of goeters wat van jou jy maak nie. Die sielkunde definieer trauma as ‘n gebeurtenis wat al jou gewone oorlewingsmeganismes uit plek skop.

Deur trauma gebeur baie fisiologiese prosesse.  Die oerbrein neem oor en skei chemiese stowwe soos adrenalien af wat mens help om te veg of vlug.  Dis hoe wonderlik God ons ontwerp het – met ‘n oorlewingsdrang en ‘n praktiese sin vir die terugkeer na normaliteit.  Die donker kant van iets soos adrenalien is dan ook dat dit klein bietjie skade aanrig in die manier hoe jou brein alles liaseer. Moontlik ook om jou liggaam teen alles te beskerm, sukkel jy nog lank om alles te onthou of sekere herinneringe wil nie weggaan nie.  Daarvoor het ‘n mens trauma berading nodig en ‘n tyd van genesing. ‘n Behoorlike routydperk is ook nie net ‘n ou kerk tradisie nie – dis ‘n noodsaaklike geestelike beginsel. Trauma is nie iets wat jy kan mistrap nie, jy moet deur dit kom.

Dan skielik as jy deur die trauma geleef het, moet jy weer aanhou leef.  Die alledaagse lewe dwing byna dat mense se emosies en ervarings misken word. Die perkoleerder waarin hulle dit dikwels gooi laat trek dit net al hoe intenser. Party mense bou ‘n altaar vir hul smart en aanbid elke dag by hierdie heiligdom.  Ander gebruik dit as ‘n kierie waarop hulle leun as die realiteit ondraaglik raak.  Minstens almal ken iemand wat hulle trauma soos ‘n plantjie versorg en laat groei soos ‘n rankplant om hulle sodat hulle veilig daarbinne kan wegkruip vir die wêreld en sy oordele.

Maar dan is daar die mense wat my fassineer. Hulle stapel hulle trauma op as trappe direk na God toe.  Hulle pyn word die platform wat hulle na ongekende hoogtes lanseer.  Hulle lewe vry en vreesloos.  Daar is geen tyd vir selfverwyt, jaloesie of bekommernisse nie.  Hulle het leuses soos “bad choices make good stories” en “geloof maak die sagste kussing”. Hulle lewens is lofoffers vol dankbaarheid en hul swaarkry definieer hulle nie. Is hulle breine anders bedraad?  Is hulle geneties geprogrameer vir geluk?  Is dit ‘n keuse of God, of al bogenoemde? Al wat ek weet is, dis die mense aan wie ek my tyd wil afstaan. Na wie se stories ek moet soek en wie se voorbeeld ek wil navolg.

My terminale kankervriendin getuig dat hulle droogvoets deur die Rooi-See loop. My kinders se eertydse graad R juffrou getuig van hoop en lewensvreugde te midde van haar beroerte en kankerbehandeling. Twee vriendinne wat hul pa’s verloor het getuig van begrafnisse vol dankbaarheid ten spyte van die intense verlies.  Hulle trap nie modder in hul leed nie maar dans ligvoets deur na die (Bitterbessie) dagbreek en – son.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , , . Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s