Die wonder van die mensdom

Wanneer jou 11 jarige daarop aandring: “Mamma, oor hiérdie uitstappie móét jy ‘n storie skryf!”- spring jy sonder omhaal weg.

Een van die redes vir die ontstaan van my blog was immers om iets vir my seuns te skep vir wanneer hulle groot is.  Daarom dokumenteer ek graag die heerlike avonture wat ons saam aanpak.

Ek het die “Wieg van die mensdom”- uitstappie al lank in my agterkop, maar ek wou wag tot albei groot genoeg is en minstens een op skool daarvan leer.  Verlede week som ons die eksamenwerk op en hier spring “Mrs. Ples” uit – en ek weet dadelik dis tyd!

Nou kyk, van rondkruip in grotte is ek nou nie ‘n groot aanhanger nie, maar ter wille van die manne sit ek opgewonde my mynkeps op en vergaap my  aan al die rotsformasies en ondergrondse argitektuur.  Ons het ‘n wonderlike gids wat inligting met baie humor verpak en ons mooi oppas deur al die gevaarlike tonnels, trappe en deurgange heen.  En nee, verseker die gids ons: “ons stam nie van ape af nie”.  Die skeppingsverhaal is baie meer kompleks as wat ons gedink het.

Die storie van ‘n navorser-duiker –  Peter wat gesterf het 5 ure voor die soekgeselskap hom na 3 weke gevind het, was vir ons aangrypend. Iewers teen ‘n rots in die ondergrondse meer het hy nog geskryf hy is lief vir sy ma en sy vrou met wie hy 3 maande tevore getrou het.

Ook die byna-mens fondse van Little Foot en Ples (wat hulle nou vermoed ‘n seun was), was baie interessant.  Die Sterkfontein grotte is die plek met die langste aaneenlopende paleontologiese projek in die wereld en ‘n geraamde 40% van die wêreld se fossiele is hier gevind. In een middag is ons deur twee van graad 5 se leervakke!  Die eindeksamen volgende week gaan oor grondsoorte, rotsformasies, sedimentgesteentes, fossiele en hominide in die Wieg van die mens.

Ons volgende stop is die besoekersentrum by Maropeng.  Ons was hoegenaamd nie voorbereid vir wat hier op ons gewag het nie!  ‘n Wêreld-klas fasiliteit met die interessantste museum waarin ek nog was! Ons het stowwerige fossiele verwag, maar hier word jy op reis geneem deur die hele ontstaan van die aarde; van die skepping tot by die mens en sy moderne uitdagings en ontdekkings.  Die pragtige ondergrondse wêreld wat geskep is, kommandeer al jou sintuie op.  Die kinders kon met alles speel, oerdiere bel en presies sien hoe navorsers werk. Dis ‘n onreg om dit mooi uitstallings te noem, want dis multimedia installasies en elkeen is ‘n meerdoelige kunswerk.

Die gids lei ons niksvermoedende gesin met ‘n paadjie na ‘n deurgang waar ‘n bootjie vir ons wag.  Ons word sonder enige waarskuwing ingelaai en vaar op ‘n ondergrondse rivier deur al die elemente van die natuur.  Water, wind, sneeu, ys, donderweer, vuur, duisternis en lig.  Wat ‘n onverwagse, heerlike belewenis!

Ek stap weg, diep onder die indruk van die kreatiwiteit van die mens en die manier hoe ons uitdrukking gee aan ons kreatiwiteit. Ons het die ongelooflike vermoë om te oorleef en as sosiale wesens in verhoudings met mekaar te leef.  Dis ons kapasiteit vir liefde wat ons onderskei van ander spesies.  Ek is opnuut oortuig dat een van ons grootste take is om die gedeelde menslikheid in alle mense te soek.  Die goed waar ons dieselfde is te vind – eerder as om op al die verskille te fokus, want ons is almal deel van een menslike ras – die kroon van Sy skepping.

Ek is verder ook trots op hierdie wêreld-erfenis terrein van ons land wat baie internasionale navorsers en toeriste lok.  Elke personeellid is so vriendelik en hulpvaardig en die hele sentrum was‘n eersteklas ervaring wat ons nooit sal vergeet nie.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

5 Responses to Die wonder van die mensdom

  1. Gerba de Klerk says:

    Dankie Annabelle, wonderlike vertelling. Ek was al 2x in n grot, Kango e Sudwalla grotte. Nogals engte vrees gekry, maar vir jou kinders se onthalwe is jy braaf e so kalm soos di see. So bly julle het nou minder leerwerk vir di eksamen. Baie sterkte vir laasgenoemde Liefdegroete tuis x

    • Ek was bai onelegant op my agterstewe af by trappe en op my knieë gekruip plek plek! Maar dit was so die moeite werd ter wille van daai twee avonturiers! Dankie vir die goeie wense! Kan nie wag vir die vakansie en Strandfontein Kersfees nie!

  2. dromer777 says:

    Ons het dit net so geniet. Ons byna dood gelag vir my man by die draaiende bruggie en hy seker is hy gaan afval🤣

Leave a reply to Annabelle Lombard Cancel reply