Die moeilikste werk in die heelal

Biblioteke is al vol geskryf oor ouerskap en al die fases van ontwikkeling van brose embrio’s tot bulderende grootmenere.

Geen enkele opleidingsvideo, artikel, boek, tesis, handleiding of “podcast”, werp egter eerlike lig op die feit dat jy in die grootste penarie van jou lewe is nie.

Nee, ek oorvereenvoudig nou ouerskap.  Dis ‘n slagting waarin jou eie menswaardigheid en basiese regte tydelik opgeskort word en jou geloof, ouerskapstyl en bestaande opvattings voortdurend getoets, aangepas en dan herhaaldelik op sy kop gekeer word. Geen ander werk of lewensuitdaging gaan jou vir soveel jaar, ononderbroke en sonder vergoeding aan soveel druk en vernedering blootstel nie.

Dis ‘n onseker tyd in jou lewe waarin jy meestal soos ‘n verloorder voel en soms – uit die bloute – soos ‘n Olimpiese wenner, as hy kom dankie of jammer sê.

Raad is volop en opinies oorvloedig, maar dit kom teen ‘n prys.  Dit beteken jy moet erken jy sukkel en kon nie self die antwoord op die internet kry nie.  Dit vra dat jy jou en jou telge se swakpunte en onvermoë om die mas op te kom, moet ontbloot.  Saam met raad kom ‘n berg – dikwels verbeelde – kritiek, veroordeling en verkeerde indrukke.

Sonder om in te gaan op grusame besonderhede kan ek net hier in ‘n openbare ruimte, ruiterlik erken dat ek ‘n vrot ma is. Ek sou graag wou glo dat borskanker my ‘n knertsie meer lankmoedig en liefdevol gemaak het, maar die waarheid is, dat my graad eentjie en tiener al my krag en verstand eis. En ek laat hulle en hulle wonderlike pa, meer as een keer per dag in die steek. Laerskool is ‘n massiewe uitdaging. Buie, koppigheid en ‘n druk rooster veroorsaak daaglikse skermutselings. Menige dag voel ek net ‘n groot verligting as ek hulle by die skool kan aflaai. Meer as die helfte van ons gesprekke is uitvoerende kuns: professionele drama tonele.  Vir betaling kry jy deure wat toegeklap word omdat jy hulle lewe ruïneer en hulle menswees misken.

Ouerskap is morsig, tydrowend en selfopofferend.

Ek weet nie elke dag of ek die fisieke energie, taalvermoëns, geestelike krag en emosionele stabiliteit het wat ouerskap vereis nie.  ‘n Vriendin en mede-seuntjie-ma haal Scarlet O Hara aan: “this too shall past”.  Jip, ons wend ons al tot die literêre wyshede van toet.

‘n Ander vriendin vertel die fabel hoe mense al hulle laste op ‘n hoop moes gooi en ‘n ligter een kon kies.  Snaaks genoeg het elkeen maar weer sy eie probleem gekies.

Ons moet maar glo dat ons uniek toegerus is vir ons uitdaging en dat elke kind toevertrou is aan die beste moontlike versorger.  Party dae wil ek bars van trots en ander dae wil ek net in my bed inkruip en maak of ek niemand se ma is nie! Dit is blykbaar hoogs normaal.

Reese Witherspoon het gesê: If you aren’t yelling at your kids you’re not spending enough time with them.

Dis ook blykbaar belangrik vir ouers van tieners om ‘n hond te kry – sodat iemand in die huis darem opgewonde is om jou te sien en jou waardeer.

Dankie vir jou toewyding liewe ouer.  Ek sien jou in die winkel waar jy gesonde leefstyl keuses opweeg teen jou begroting en elke nuk en gril.  Ek herken jou in die restaurant waar jy deur jou tande tot by drie tel in ‘n poging om tafelmaniere en basiese sosiaal aanvaarbare gedrag probeer kweek.  Ek wil jou ‘n drukkie gee en troos dat alles makliker sal raak, maar ek is nog nie lank genoeg in die “game” om dit te glo nie. Vir alle ma’s en pa’s  wat nog veg in die loopgrawe wil ek sê: sterkte daar langs ‘n hospitaalbed, die huiswerktafel, agter die verhoog, op die pawiljoen, langs ‘n baan by ‘n ver, onbekende skool.  Jy wat die vrede probeer bewaar, dissipelskap probeer demonstreer, die skermtyd probeer beperk, blootstelling gee aan kultuur en die buitenste ruimte en oor almal se roosters, gesondheid, klere, vriende, keuses en potensiaal wakkerlê in die nag – jy is uitverkies tot die moeilikste werk in die heelal!

P.S  Die aangrypende foto deur Lorraine Cormier het my laat dink aan die gesegde: “its not a walk in the park”.  Ouerskap is meer soos verdwaal in ‘n donker woud.  Dankie tog vir Sy lig om ons te lei

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

9 Responses to Die moeilikste werk in die heelal

  1. ellaukblog says:

    Dankie Annabelle, ek hoop al mykinders is op hul poslys.Hierdie woorde dra meer gewig komene van ‘n tydsgenoot as van ‘n ouer.

    Liefde vir julle

  2. Toortsie says:

    Ek is seker jy is ‘n uitstekende ma! Uitstekend geskryf!

  3. Gerba de Klerk says:

    Ai my liewe kind Ek dink altyd jy is n perfekte ouer e ma e eggenote x glo dit! x
    Onthou ek is n ouma e soms nog di opvoeder ook Dit is vir my soms moeilik Gelukkig bly hy lief vir my x baie sterkte x
    Omdat daar ni n handleiding is ni, hoef jy ni n toets te skryf ni x ek was mar n streng ma e in di aand as ek hulle nagsoen op my laaste rondte, dan was ek soms spyt omdat ek so streng was x dan troos ek my maar daaraan dat ek hulle mos ni moedswillig sal skade aandoen ni x

  4. Marena says:

    Netso! Ek is met jou op elke woord. Moedhou, vriendin. Ek weet nie of dit iewers ligter raak nie, maar ‘n mens ontwikkel innerlike vaardighede om die water makliker van jou rug te laat rol sonder worsteling (soms… net soms)

  5. Ohna Reyneke says:

    Al die emosies mooi verwoord Annabelle! Dit klink baie bekend, maar hou moed, mens kry hulle groot en dit bly oor en oor die moeite werd, Sterkte, ek glo jy doen uitstekend!! xx

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s