Basaar feestelikheid

Daar is ‘n kompetisie by ons kerk om jou prentjie van ‘n kerbasaar in woorde te skets.  Ek is die ideale kandidaat, want ek is mal oor skryf en ‘n basaar.

So val ek toe entoesiasties weg met vertellings uit my kinderdae.  Ek het al in my blog geskryf oor Lutzville se kerkbasaar, maar nou het ek ‘n  3-laag “Death by Chocolate”-sjokoladekoek as prysgeld en motivering, so die sentiment en melankolie loop dikker as die “mousse” in my geestesoog op daai koek.

Daar is net een problem, en dis die lastige kompetisiereël dat dit in 80 woorde of minder moet wees!  Nou kyk, 80 woorde is selfs te min om die titel in die inleiding aan te kondig! Die internet beskryf ‘n basaar as ‘n swelgparty, waar daar jolig, luidrugtig en in oormaat gekuier en feesgevier word.  Beslis nie iets wat sonder minstens 500 byvoeglike naamwoorde beskryf kan word nie!

Ek begin skryf oor ons hande op “sherbet cones” en ystervarkies voor die dominee die basaar amptelik as “oop vir koop” verklaar, want sodra hy “Amen” kan ons begin handel dryf in die mees dekadente tuisgemaakte lekkernye wat net een maal per jaar vir ons beskikbaar en boonop bekostigbaar is.  My roete is vooraf fyn uitgewerk, want binne die paar uur wat ma spoggebak verkoop en pa kaartjies verkoop, moet ek my wenslysie deurwerk: kindertafel, iets by die tombola tafel wen, ‘n pannekoek, spookasem en “jaffle”.  Daar moet plek gelos word vir basaar braai-ete en ‘n stuk melktert of Jodetert wat ma sal koop.  Die ou mense kuier om tafeltjies en die kinders speel buite om die kerkterrein.

Niemand tel kalorieë, geurmiddels of uitgawes nie, want ‘n basaar het ‘n heilige doel.

Ek borduur voort oor die tannies wat trots is op hulle skougehalte gemmerkoekies en uitgerysde mosbrode, die ooms wat vir jare geswoeg het aan ‘n stuk houtsneewerk vir die veiling. Die babakombersie wat met soveel liefde en vaardigheid gehekel is.  Almal het geweet die lekkerste plek is rondom die braaivleisvure, maar dit was rokerig en raserig.  Die eintlike pret was tussen die pannekoekbakkers en hulle gesellige gasstofies.  Selfs in die kombuis by die wasbakke was daar die meeste gelag en gekuier, want dit is so dat dit lekkerder is om te gee as te ontvang.  Dit is as jy werklik van jouself gee, dat jy ware geluk beleef.

Nou het ek nog nie eens vertel van die bont bakkies jellies, vla, gebakte poedings en gestolde kleurvolle yskaspoedings nie.  Jy kan self skep na hartelus tot jou bakkie tralies kort om alles bo-op te stapel.  Jy het een kans om die bakkie se samestelling reg te kies sodat jy ‘n perfekte balans het tussen soet, suur, sag, krakerig, warm, koud, romerig en vrugterig.  Daar is niks soos basaarpoeding nie.  Nou gaan sit jy eenkant in ‘n stiller hoekie en probeer happie vir happie proe waarmee jy besig is.  Die trifle en sjokoladepoeding se sous maak ‘n nuwe geur wat geen resepteboek kan namaak nie.  Volgende jaar moet jy beslis ‘n groter skeppie van die suurlemoenskuim skep…

Nee wat, dis ‘n verlore stryd om oor plattelandse basaars te skryf … Fokus op die driedubbele laag koek vir “slegs 80 woorde of minder”.

Hier in die stad noem ons basaar enige iets van ‘n karnaval tot ‘n fees, mark of makietie.  Daar is minder riempiestoele en gemmerbier en meer winkelvetkoek, maar die algemene atmosfeer van opwinding, oordaad en spyt na die tyd is dieselfde.  Ons kinders kan eet tot hulle gril en dan verder gil deur die spookhuis – wie het ooit gedink geraamtes en gedaantes is tuis op ‘n kerkterrein?  Wyn en kosbaarhede word steeds opgeveil en popklere met die fynste detail word opgeraap vir ‘n appel en ‘n ei.  Niemand is gierig of inhalig en die gemeenteleiers kan die wins nie in finansiële gewin bereken nie.

Ek skryf oor die gesellige saamwerk en kuier van oud en jonk, die koorfees, gaskunstenaars, speletjies en kompetisies, die skatte op die wit olifant tafel en die kosbare ou boeke wat mense geskenk het. Amper vergeet ek van tannie Rita se legendariese koeksisters en haar kolwyntjie resep waarmee ek ook elke jaar ‘n nederige bydrae bak.  Niemand verstaan regtig hoe hulle so sag en lekker kom nie.  Die gebak, gebrei, gebraai, geklets en genot is alles deel van die totale sintuiglike deelname aan die geleentheid.  Dit gaan nie oor die talent, geld, kreatiwiteit of tyd wat jy belê nie, maar die feit dat jy jou menswees kom deel het.  ‘n Basaar – of wat sy moderne naam ook al is – is ‘n magiese geleentheid wat oud en jonk op ‘n unieke manier kom saambind en herinneringe maak wat deel word van jou kultuur, jou gevoel van behoort aan ‘n gemeenskap en jou prent van kerkwees.

‘n Basaar word die malse samekoms van alles en almal wat lekker is.  Vir een dag in ‘n jaar mag jy spog oor hoeveel worsbroodjies jy geëet het, hoeveel jy spandeer het op ‘n bottel uit die vorige millennium en trots vergelyk hoeveel pannekoekpanne jy gelyk kan beman.  As jou maag pyn is jy onseker of dit van te veel soetgoed of lag is.  Oordaad en oorvloed is immers die wagwoord.

Steeds te veel woorde … Ag nou ja … Hier volg my gereduseerde paragrafie vir die kompetisie toe uiteindelik. Nie aardskuddend en lewensveranderend nie, maar ‘n rede om uit te sien na ons nagmark volgende maand!

********

My ideale Skuilkrans-basaar is…

… een waar almal effe naar, seer gelag, flou gewerk en platsak huis toe gaan.  Jy het gekom vir klapperys, melktert en kerrie, maar jou motor kreun onder speelgoed, basaarpoeding, konfyt, plante, toffie-appels, ‘n skildery, sosaties, blompotte, legkaarte, handwerk en ‘n skyfskiet-trofee!

Was dit die reuk van kaneel of klank van afslaers en koor-musiek wat jou roekeloos laat meedoen het?  Jy voel nietemin soos ‘n wenner wat saam kon kuier en belê in die Koninkryk.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Basaar feestelikheid

  1. dromer777 says:

    En het jy toe die koek gekry??😁

  2. Gerba de Klerk says:

    Ai Annabelle net as ek dink jy kan ni beter met woorde toor ni, dan kom jy tevoorskyn met n ander onderwerp! PRAGTIG X
    So bly vir jou koek wat jy gewen het Geniet elke stukkie daarvan Mooi dag x

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s