Ek wonder hoe sal ek vaar

breast cancer awarenessEk en my vriendin is weer op ons jaarlikse uitstappie Tietiesbaai toe.  Daar waar die masjien tot binne in jou kyk.

Die een waar jou bates in ‘n glas “toaster” platgedruk word totdat die slim dokter tevrede is dat daar geen kwade gevoelens in jou sagte vroulikheid wegkruip nie.  Albei van ons slaag die toets en voel aangedaan oor nog ‘n jaar van genade.

Vyf jaar gelede toe ek die knop die eerste keer gevoel het, was ek nog nooit eens vir ‘n mammogram nie.  Ek was immers maar 36.  Baie vroeg in die behandeling het ek begin hoor almal praat van “die eerste vyf jaar”.  Die magiese getal vir remissie.  As jy dit kan haal, verbeter jou kanse op terugkeer na die chemosaal dramaties.  Dit het soos ‘n doelwit gelyk – iets waarvoor ek moes mik, iets wat ek bitter graag wou hê.

Voor dit het ek gewonder hoe sou ek kanker hanteer. Sou ek krag kry en dit vir almal om my makliker kon maak? Hoe sal dit voel as ek klaar is?  Wanneer is mens amptelik oor dit?  Ek het dikwels gewonder hoe sal ek die dag voel as ek by die vyf jaar kerf kom.

Terwyl ek wag vir my vriendin se sonar ondersoek,  luister ek na ‘n gesprek tussen ‘n radioloog en ‘n borskanker oorlewende wat duidelik ‘n jarelange pasiënt en vertroueling is.  “Ek wonder hoe sal ek dit hanteer”, beken die radioloog.  Sy werk elke dag met borskanker diagnoses, maar haar kennis kan beide ‘n kruk of kruis wees.  Sy ken die syfers en hou elke jaar asem op as hulle steekproef van 8 personeellede die statistiek troef.  As dit my moet oorkom…?

Dis bloot menslik om te wonder hoe jy sal voel.  Ons is nie bang vir die dood nie en glo dat ons paadjie vir ons uitgelê is, maar hoe sal ons lyding, trauma en verlies hanteer?  Ons wonder wat ons eerste reaksie sal wees as die telefoon lui… As dit jou kind is, jou lewensmaat, jou ouers.  Hoe gaan ons optree as ons wind uitgeslaan is, maar die lewe dwing jou om aan te gaan?

Die waarheid is dat ek na vyf jaar nie minder bang is vir die terugkeer van borskanker nie en dat ek nie glo ek is immuun teen enige lewenskrisisse nie.  Ek dink ‘n tweede rondte kan selfs meer skrikwekkend wees.  En erger nog – hoe sal ek vaar as ek nie die pasiënt is nie, maar magteloos langs die bed moet sit? Hoe sal ek vaar as die mediese wetenskap nie meer oplossings het nie?

Vyf-jaar-later is geen prestasie nie, dis bloot ‘n genade mylpaal met ‘n hernude belofte dat jy die krag sal ontvang.  “My genade is vir jou genoeg.  My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” 2 Kor. 12:9 Ek en jy kan weet ons sal OK wees!

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

5 Responses to Ek wonder hoe sal ek vaar

  1. ellaukblog says:

    Dankie Annabelle. Bly oor goeie uitslag.lekker dag. Sent from my Huawei Mobile

  2. Toortsie says:

    Ek is so dankbaar vir jou goeie nuus! Hierdie is so ‘n verskriklike mooi skrywe. Dankie hiervoor.

  3. Ohna Reyneke says:

    Annabelle, ek is saam met jul almal soo soo dankbaar!! Dis wonderlik om te sien jy leef so voluit, jy’s vir ons almal ‘n inspirasie!!
    Liefde en groete
    tannie Ohna

  4. Gerba de Klerk says:

    Als mos maar net genade…. Mooi aand
    Baie liefde x

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s