Ons buig dankbaar in aanbidding

Daar is iets ekstra spesiaal aan die voorreg om langs die verhoog van die staatsteater te sit en ‘blog’ net voor die gordyne lig.

Oral is groepies vriende en familie wat opgewonde, bietjie senuagtig en grootliks ontsettend dankbaar is om een van 650 koorlede te wees wat mag saamkom en al hul gunsteling kersliedere saam te sing in ‘n fabelagtige produksie saam met Corlea Botha, ongelooflike musici en ‘n talentvolle tegniese span. Capital Singers se 10de produksie “Jinglealltheway”, was een van die hoogtepunte van my lewe.

“Ek en my man het die jaar geskei na 21 jaar”, deel ‘n nuwe koormaat haar seer.  Daar is siekte, werkspanning, onsekerheid, moegheid en verlies in so baie lewensverhale wat so tussendeur repetisies gedeel word, maar hierdie broosheid maak ons menslik en bring ons nader aan mekaar.  Ons word saamgebind deur ons liefde vir musiek en ons begeerte om lof en aanbidding op ‘n grootse manier te bring. Ons weet ons musiek eggo tot in die ewigheid en die impak daarvan sal nog lank in ons lewens leef.

Eintlik is hierdie ‘n droom wat in my hart geleef het toe ek pas in Pretoria begin werk het in die middestad.  Ek was op universiteit deel van ‘n revue groep en ek het die sang, ligte, applous en opwinding van die verhoog gemis.  In my middagetes het ek dikwels verby die Staatsteater se verhoogbuitedeur gestap en gewonder watter geheimenisse daarbinne opgesluit lê.  Ek het selfs gaan verneem of daar enige produksies is wat agtergrond kore het, maar daar was geen ruimte vir beroepslui wat dit net as ‘n stokperdjie wil beoefen nie.

Ek het al vergeet van die lawwe ambisie tot CapitalSingers my kerkkoor se pad kruis.  Hy ken die begeertes van my hart…

Twee mooi goed gebeur tydens opwarming op die laaste aand:  ‘n Ouditorium vol koorlede staan op om vir Solly ‘n staande ovasie te gee en “for he’s a jolly good fellow” te sing.  Hierdie lang, nederige man het sy hele lewe aan die teater gewei.  Hy werk reeds hier vanaf die teater 37 jaar gelede begin het.  Hy tree nou af en ons laaste konsert is sy heel laaste een. Die aand word aan hom opgedra.  Hy en baie van ons is in trane.

Voor die organiseerders besef wat aangaan het ‘n jong vrou ‘n mikrofoon gekaap en op die verhoog gestap met haar dankboodskap. Sy erken sy bewe soos ‘n riet en sy het nie woorde nie, maar sy druk dapper deur. Sy vertel hoe sy vir ‘n vriend vertel het sy gaan teater toe en hy vra toe of dit vir ‘n operasie is.  Sy sê toe: eintlik ja, want ons produksie is ‘n reuse operasie waarvan Christo Burger en Michael Barret die chirurge is wat vrees uithaal en vervang met menswaardigheid, selfvertroue en goedheid.

Teen die tyd dat die gordyn opgaan en ek my seuntjies se selfoon liggies in die gehoor sien skyn, is my maskara oppad in my nek af.  Wat ‘n ongelooflike manier om ‘n jaar af te sluit waarin ek vir ‘n vierde jaar in remissie is.  ‘n Jaar waarin ons peetouers geword het van ‘n pragtige Aussie dogtertjie, die jaar waarin ek my storie kon deel by ‘n Mev. SA finalis se CANSA tee, Dancing with the Survivors kon doen, ons eie damestee reёl en hier staan ons vir ‘n tweede keer in die Staatsteater op die verhoog saam met kosbare vriende onder wie mede Finesse Blogger Madele Burger (Toortsie).

Ek sing “I love Christmas down in Africa, God bless this Christmas in South Africa” met my hele wese en die lied “There’s so much to be  thankful  for” sny diep.  En daar is soveel meer wat ons kan doen. Met Stille nag val sneeu sag op ons neer en die skoonheid, vreugde, liefde en genade omvou ons.   Hoe kan ons soveel oorvloed vir onsself hou?

Ek leen Michael se woorde as ek groet:  “Wees sag en vriendelik met mekaar hierdie feestyd, sing julle kersliedere harmonieus en  wees mooi met ander lidmate wat vals sing!

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged . Bookmark the permalink.

4 Responses to Ons buig dankbaar in aanbidding

  1. Toortsie says:

    Sjoe! Dit was fantasties!

  2. dromer777 says:

    Dis so mooi geskryf❤

  3. Ohna Reyneke says:

    Sooo mooi!! xx

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s