Nommer Sewe is gebore!

Uiteindelik weet ons haar naam is Amelia en sy is die pragtigste klein babatjie wat reeds families op twee kontinente gelukkig maak! 

Soos ek vroeёr berig het, is die dogtertjie die resultaat van my enigste sussie en wiskunde-doktor swaer se sewende IVF poging in Hobart, Tasmaniё. Jy hoef nie ‘n numeroloog of Bybelkundige te wees om te waardeer hoe sy op die sewende van die sewende maand van 2017 gearriveer het nie. 

Na ‘n volle dag in kraam is die Aussies en die familie in S.A deeglik vasgekluister aan ons fone. Waar ons vakansie hou langs die see het ons ook min slaap ingekry soos ons familie- whatsapp groepie ongeduldig gons. Ek is seker die klein klits gaan nog eendag hiervan moet hoor, soos wat Worsie se ma in Vetkoekpaleis herhaaldelik vertel het hoeveel ure sy in kraam was met hom … “En ek skree, “morfien, morfien …. en die dokter gee dit binne-aars … vir homself!” Maar dit help toe niks, want volgens sussie kon hulle net sowel vir haar ‘n piesang gegee het!

Ek wou skryf oor die wonder van vrouwees en moederskap, maar dit sou die snikkende pa, die barstenstoe trotse oupas, opgewonde peetpa, neefs en ooms se vreugde misken. Dis die wonder van menswees. Die wonder van lewe en liefde. ‘n Afgesmeekte seёning vir ‘n hele uitgebreide familie en vriendekring.

Dis oomblikke soos dié waar woorde te kort skiet. Wanneer die menslike hart hulpeloos gryp na Bybelse taal, bo-aardse wesens en begrippe vir dit wat ons nie kan beskryf nie. Amelia self het nog nie eens die taal om hallo te sê nie en ons tweetalige woordfamilie is sprakeloos van verwondering en dankbaarheid. Met elke sms glimlag ek as ek sien hoe ons na al die eeue spontaan terugkeer na Egiptiese hiёrogliewe. Of ons dieselfde emosionele betekenis heg aan al die kombinasie stringe emotikons, weet ek nie, maar dit voel dieper en wyer as klinkers en konsonante. 

Hier waar ek by die volmaan op die stoep oor die see sit en tik by sagte skemerlig, eggo ek net die magtige gedruis van die golwe wat namens my getuig van God se goedheid en majesteit. Sela!

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

4 Responses to Nommer Sewe is gebore!

  1. Baie geluk! Die een foto beeld grootouers se vreugde en trots so mooi uit.

  2. ellaukblog says:

    lekker gelees. Dankie

  3. Hetta Baard says:

    Dankie Annabelle! Ons juig saam met d nuwe gesinnetjie en hul familie. Wat kan ons meer sê as net dit: ons aanbid n Almagtige God.
    Welkom Amelia Lötter! Jy is baie spesiaal!

  4. Gerba deKlerk says:

    Dankie Annabelle Jy het namens ons almal ons gevoelens neergepen So dankbaar oor di klein klits wat haar verskyning gemaak het As n mens na di volmaakte dogtertjie kyk dan staan ons net in verwondering oor di groot Skepper Xx

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s