Welkom by die see!


Ons kuier by ons familie se plekkie op die see.  Ek skryf “op” in plaas van “langs ”,want as jy by elke vertrek uitkyk voel dit of jy bo-op die water is, met die golwe en strand wat ritmies en meesleurend ontmoet. Ek sal nooit uit die slaapkamer praat nie, maar soggens is die sonsopkoms oor die water ‘n uur-lange skouspel wat ons vanuit ons bed beleef. 

Die laaste ding wat jy sien as jy by die deur uitloop strand toe, is hierdie ‘Welkom boei’ in die foto. Dit voel eintlik of dit teen ‘n ander muur moes pryk sodat besoekers dit met die intrapslag sien. Of miskien is dit juis die see en die strand wat jou verwelkom en uitnooi na buite?

Vir my is daar ‘n magiese, terapeutiese krag by die see. As Weskusser voel dit of ek egbreuk pleeg hier langs die Noordkus se tropiese waters, maar die fisiese en geestelike bekoring is dieselfde. Die see is ‘n totale teenstrydigheid: stilte wat jou tot besinning ruk en terselfdertyd oorverdowende gedruis wat jou hartklop stem. Tegelyk vreesaanjaend magtig en gerusstellend vredevol.

Na ‘n chaotiese kwartaal kom maak Hy die storms van die lewe stil en beveel ons breingolwe om te bedaar. Ek kan treur saam met my vriendin wie se ma nooit haar seun in Kanada gesien het na ‘n hartaanval met haar aankoms. Ek kan rus na al die opwinding, eerstes en nuwe uitdagings wat ons hele gesin die kwartaal beleef het. Hier kan ons saam speel en mekaar regtig weer hoor en opnuut leer ken.

Dis ook hier waar ek elke jaar weer ‘n stewige voorraad inspirasie kom haal vir my skryfwerk en dis hier waar ek ‘n jaar terug vir Finesse begin blog het. In hierdie jaar was elke gebeurtenis, elke stukkie skoonheid vir my ‘n potensiёle rubriek. Dit help ‘n mens sekerlik om bewustelik en waarderend te leef. Baie dankie vir elke leser en mede-skrywer wat my hierdie jaar aangemoedig het en as skrywer laat groei het. Mag die goedvoel stories vir ons onophoudelik inrol soos die branders hier by die see! En mag jy iewers ‘n plekkie of ‘n tydjie vind wat jy jou lyf en hart voed.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s