Hoekom glo ek?

As deel van ons Getroue Getuies Kursus by die kerk kom die tuisopdrag om ons geloof op een bladsy te beskryf in eenvoudige taal. Geen dogma of duursame kerktaal nie – suiwer doudruppels vir die dorstige mens wat oor jou pad kom en jou trompop verras met die die vraag: “Hoekom glo jý in Jesus?”

Die kort antwoord is water. Doopwater, seewater, sout-trane en Lewende water. Op 31 Maart 1992 het ek by kerslig en branders, bewend gesit en luister na hoe ander hulle geloof deel. Daar was baie rigtingwysers voor en na dit, maar daardie aand het alles wat ek tot op 15 jarige ouderdom by my ouers en grootouers geleer het, skielik sin gemaak. Daar was getuienisse van hoe mede- kampmaats die Here persoonlik ken.

Ek is ‘n totale regterbrein, wat myself pens en pootjies kan verloor in die oomblik, musiek en warmte. Dit was egter nie ‘n hals-oor-kop-verliefdheid nie, ek het skielik met linkerbrein logika geweet ek mis uit op die intiemste verhouding met die Een wat my gemaak het en die enigste Hoop wat ek het op verlossing van sonde en die ewige dood. 

Ek het ontsettend verlore en jaloers gevoel en geweet ek sal iemand moet vra om my te help om my hart vir die Here te gee. Dit sou nie genoeg wees om dit net in my hart te bely nie. Ek moes doodseker maak. Ek is so dankbaar dat die Here so uniek met elke hart werk en dat ek dit so vroeg in my lewe kon beleef.

Ek het vir die eerste keer gevoel waarvan mense praat as hul sê strome lewende water vloei uit jou binneste. Die vrede en kalmte was soos niks wat ek kon beskryf nie. My CSV onderwyser was meer as net ‘n getuie van die belangrikste oomblik in my lewe. Hy was later ook ‘n belangrike mentor vir ‘n paar van ons voortvarende en oorentoesiastiese jong gelowiges. Ek het van toe af geweet ek sou ‘n tentmaker sendeling soos hy moes wees. Ek is steeds ‘n leerling vol foute wat begeer om te groei in liefde en insig.

Voor daardie aand was kerk my tradisie en kultuur. Jesus was ʼn bewonderenswaardige Bybelfiguur en ekself was die middelpunt van my eie wêreld. Daar was niks wat ekself kon bydra tot my geloof nie. Die genade en liefde het my oorrompel en ek hoop dat my lewe dit sal laat oorspat en spoel na almal wat dors het. Die tipe lewensvreugde wat selfs deur siekte en verlies deur jou are pomp. Dis die verskil tussen ʼn leё, self-gesentreerde en self-vernietigende lewe. Jesus is deel van my asem, my hele wese en bestaan – my waters van rus. Dis hoekom ek glo.

Dankie aan Pieter Lombard vir die mooi nagfoto op Standfontein.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , . Bookmark the permalink.

One Response to Hoekom glo ek?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s