Wat gebeur ná ‘n gatslag?

Ek is nie ‘n voorstander van platvloerse Afrikaans waarin daar “gat geswaai of gat gekrap word nie, maar vir die woord gatslag maak ek ‘n uitsondering. Volgens Google is dit “ ‘n slag wat van teenspoed getuig of agteruitgang tot gevolg het”.

Nie ‘n slag soos wanneer jy jou pizza klaar gemaak het en wag vir die oond om temperatuur te kry en dan skielik hoor jy ‘n ontploffing, sien vonke soos vuurwerke spat en rookwolke in die omgewing van die element nie. Nee, dit kos R180 en 10 minute om te herstel. 

Eerder ‘n mislukking, ramp of teleurstelling wat jou plat op jou sitvlak laat sit, asem weggeslaan, wind uit jou seile ruk en jou soos ‘n pap vlieёr, neus eerste in die sand laat duik. ‘n Pragskip loop op die rotse, jou ergste vrese word realiteit. Op Lutzville praat die boere van ‘n Foergaap – ‘n mooier woord vir ‘n ander f-woord wat beskryf dat die skade onherstelbaar is en die toekoms onherroeplik anders gaan lyk.

So ‘n grusame beskrywing hoor ek by my vriendin en dit het al die elemente van ‘n ware gatslag: trauma, verlies, nagmerries, gebrek aan eetlus en slaap – ‘n lewenskrisis. ‘n Onverwagse katastrofe wat haar in groot ellende en nood gedompel het. Ek hap rond uit my verwysingsraam van sielkunde en borskanker, maar ek weet geen terapeut of onkoloog kan haar gesin en familie ooit weer aan mekaar sit nie.

Ek kom ook onmiddellik agter dat sy reeds op die pad na heelwording is. Dapper besluite, kundige hulp, harde werk en geloof dra haar deur seker dié moeilikste ding in haar lewe.   
Sy het gekies om haar onheil op haar knieë te trotseer en reeds besluit dat haar gatslag tot seën vir ander moet wees en dat dit nie haar identiteit gaan definieer nie. Ek is verstom, maar herken die vegter in haar – ‘n vrou in Goddelike glans geklee omring deur ‘n leërskare aardse en hemelse engele. 

‘n Gatslag is onvermydelik. Miskien het joune reeds gebeur en is jy steeds besig om die skrapnel van jou siel af te krap. Miskien lê jou penarie nog voor. Weet net jy sal weer leef en selfs weer jou gat af kan lag eendag! Die menslike gees is onblusbaar en Sy genade genoeg. Sterkte!

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

2 Responses to Wat gebeur ná ‘n gatslag?

  1. catjuggles says:

    Sjoe maar jy skryf maar net altyd pragtig. Sterkte vir haar

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s