Oor Skrywers

It is quite easy to see why a legend is treated, and ought to be treated, more respectfully than a book of history. The legend is generally made by the majority of people in the village, who are sane. The book is generally written by the one man in the village who is mad. G.K. Chesterton, Orthodoxy

Oor die definisie vir normaal kan gedebatteer word, maar ek moet saamstem dat die meeste boeke en skrywers moontlik kort duskant die skeidslyn toer. 

Iewers tussen ‘n goeie storie, ‘n dramatiese onthulling en ‘n epiese verloop van gebeure, lê die heilige waarheid. Wit wetenskaplike feite is net so onkreatief en onleesbaar!
Min dinge verskaf my soveel plesier soos om iets lekkers vir my man voor te lees. Dis ook vir my die toets vir ‘n knap woordmeester – as iets so pittig raakgevat is dat ek dit eenvoudig moet voorlees vir ‘n gedeelde lekkerkry. Ek het soveel waardering vir puik kopieskrywers, rubriekskrywers, vertalers, redigeerders en outeurs wat liefdevol, skeppend omgaan met elke woord en sin wat hulle aanmekaar timmer.

Iemand soos die blogger wat die prentjie geskets het van SA braaiers in London. Die persoon waarvan ek die naam verloor het – sê dis blykbaar geen ongewone toneel om ‘n SA meisie straat-af te sien sleep aan ‘n ou kas of bed nie… gratis braaihout.

Ook my redakteur Gerda Bruinette se herinneringe aan ontgroening / Doretyd op die PUK móés vir my man in kleur en geur voorgelees word. Ons was albei vir ‘n paar minute terug in die duikweg – ek met twee ponies en “my huis op my hart, Klawerhof voor jou val ek plat”.

Ek het baie waardering vir skrywers wat my hart en lagtrane so gelyk roer. Dit roer ou herinneringe en emosies by jou los. Dit laat jou terugkyk en onthou. Dit help jou om ou dinge beter te verstaan en dit laat jou nuut kyk na die wêreld en die toekoms. Alles te danke aan ‘n laatnag skribent of vroegoggend krabbelaar wie se grysstof in ander formasies kronkel as gewone siele.

My gebed vir myself en my mede-bloggers is dat ons woorde die jaar genesend, inspirerend en waardevol sal wees. Lekker skryf aan jou verhaal en hoop jy kry gereeld mooi goed om te lees die jaar!

This entry was posted in Uncategorized and tagged , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Oor Skrywers

  1. catjuggles says:

    Dankie liewe Annabelle – ek weet met jou blog sal ek ten minste mooi goed he om te lees!

Leave a comment