Rooi lippies in Pick n Pay

Dit is my taak as logistieke bestuurder van die huis om voorraadaankoper te wees.

Dit lei daartoe dat ek soms na aqua klas moet inglip by ‘n supermark sonder grimering, klam hare in ‘n knoets, oefenklere … julle kry die prentjie. Ek werk (sonder ‘n huishulp) van die huis af en het net twee style: deur-‘n-ring-getrek-netjies of haweloos. Miskien is dit my ligte gelaat en hare, maar sonder verf lyk ek hospitaal-vaal en afgerem. Weemoedig soos ‘n ou verestoffer.

Iets waarop ek onvoorbereid was is dat remissie status jou vir altyd aankleef. Soveel mense het so lank en innig vir my gebid en is steeds betrokke en besorg oor my gesondheid. Die betrokke oggend loop ek ‘n vriendin raak in my ongepoleerde toestand. Sy is diplomaties, maar ‘n paar weke later kuier ons saam en sy vat my eenkant aan die arm en verneem baie simpatiek of ek OK is. Ek knik heftig. “Ja maar is jy regtig? Want daai dag in die winkel …?”

So nou gaan ek nêrens meer sonder helder lipstiffie nie. Ek verskans my teen ellende en saai die bevestiging van veerkragtigheid uit. Ek wil sinlikheid, simmetrie en sjarme versinnebeeld. Die toonbeeld van energie, sodat niemand hulle oor my hoef te bekommer nie! Dankie tog vir toorgoed wat ons vrouens kan transformeer en ons ware innerlike kan uitbring – veral as die lyf, tyd of weersomstandighede ongunstig was. My verhouding met parfuum het verinnig en ek is vrygewig teenoor myself met kosmetiese doepas en mooi goed. Ek kry dit nie elke dag reg nie, maar ek probeer.
Ek weet nou dis nie uit ydelheid of verleidelikheid wat ‘n vrou mooi maak nie – dis ook ‘n stralende boodskap dat sy gesond, oplettend en gelukkig is met ‘n lus is vir die lewe.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

5 Responses to Rooi lippies in Pick n Pay

  1. travel460 says:

    Dis goed so, sit daai rooi lippies aan want vir die een of ander rede voel ons beter. Weet nie heeltemal hoekom nie. Ek het lekker op jou blog gekuier.

  2. Gerba de Klerk says:

    Annabelle, dit is pragtig gesê Weet nie hoekom n mens juis daai dag iemand bekend moet
    raakloop nie. Net gou gou hier indraf, mos oppad huis toe, ens. Maar sowaar dan kry
    jy iemand uit die verlede en dié lyk so gepoleerd en jy in jou gymklere!!

  3. Hetta Baard says:

    Ag,ek kon my so lekker vereenselwig met dié verhaal! Sonder my lipstiffie lyk ek ook “diep siek” ,so my lippies word tydig en ontydig “opgefix”
    Tydens my kankerbehandeling het hul juis vir ons aangemoedig om onsself mooi te versorg en te grimeer,want… Look good,feel better!!
    Maar ja,die keer wat jy dit nie doen nie,loop jy juis iemand raak wat jy lanklaas gesien het…

    Dankie vir al jou lekkerlees verhaaltjies!!

  4. Estie says:

    Dankie vir jou tyd wat jy neem om hierdie staaltjies met ons te deel. Ek het so lekker gelag vir jou twee style (deur die ring getrek netjies en haweloos), ek is ook lig van gelaat, so ek voel jou pyn 🙂 sal beslis my rooi lipstiffie afstof!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s