Nie eens brand kan matriek-slimkop se drome verwoes nie

Profiel onderhoud vir Maroela Media

sasha-lee-01

Sasha-Lee Roestorff (foto: Maroela Media)

deur Cyril Blackburn en Annabelle Lombard

14 Januarie was ʼn gewraakte dag. ʼn Dag wat vir áltyd in haar geheue geëts sal bly. Sy het daardie dag met net haar skooltas en -klere in haar hand staan en kyk hoe ʼn verwoestende brand alles vernietig – elke besitting, en enigiets wat ʼn mooi herinnering verewig het. Die brand het nie net haar blyplek verwoes nie; nou sou almal van haar weet, dat sy al vir jare haar swaarkry wegsteek. Sy het gegryp wat niemand van haar kan vat nie: haar toekoms.

Nou, amper ʼn jaar later én benewens talle ander terugslae, is Sasha-Lee Roestorff een van net  ʼn handjievol leerders in die land wat einde vanjaar minstens 11 onderskeidings in die matriek-eindeksamen verwag.

Sy was eers kwaad, sê sy. Kwaad, want dit was nie die eerste keer dat sy haar skooltas en -klere moes gryp en hardloop nie. Haar pa was ʼn “wrede man”, en sy moes talle kere voor dié voorval ook sommer in die loop haar kosbaarste besittings gryp. Hy het hulle gereeld uit die huis gejaag. “Ek was al gewoond daaraan om te vlug. Dit was altyd my skooltas en -klere, sodat ek die volgende dag sommer net skool toe kon gaan. Daarom het ek nie eens gedink dit was vreemd om net te gryp en hardloop nie,” sê sy.

Sasha-Lee is vanjaar ʼn matriekleerder aan die Hoërskool Riebeeckrand in Randfontein. Sy is onderhoofmeisie en tweede onder die top-tien. In Maroela Media se soeke na die top-matriekpresteerders vir 2016 het Sasha-Lee se verhaal, waarin ʼn mens tussen die lyne veel meer lees as wat in haar woorde geskryf staan, ons harte aangegryp.

Haar omstandighede was nog altyd haar grootste geheim, verklap sy: kom wat wou, niémand sou vir haar jammer voel nie.

Eers wou sy nie praat oor die brand of haar pa nie. Nou hoop sy haar storie kan iemand help. “Ek het gedink, as ek iemand kan help wat ook in moeilike omstandighede is, moet ek dit doen. Ek wil beter wees, beter as my omstandighede. Daarom het ek vir so lank hieroor stilgebly.”

Net ʼn onderwyser of twee het geweet van die gesin se swaarkry. Toe die pa vort is, het sy en haar ma, Jo-Ann, sonder ʼn dak oor hul koppe gesit. Sy was in graad 10 en wou ʼn jaar van skool afneem tot hulle op hulle voete kon staan. Daarvan wou haar ma niks weet nie. Sy het as tuisteskepper vir ʼn vrou gewerk wat aangebied het dat dié twee agter in hulle tuinwoonstel kon bly. “My ma wou nooit opgee nie. Sy het al ons meubels verkoop sodat ek graad 10 kon voltooi,” sê Sasha-Lee.

Jo-Ann het self nie ʼn geleerdheid nie, daarom ken sy van harde bene kou. Dít doen sy immers al vir jare. “Ek wou met alle mag keer dat sy dieselfde lewe het as wat ek het; twyfel oor waar die volgende geld vandaan gaan kom en of ons nog ʼn dak oor ons kop sal kan hou. Ek het haar van kleins af probeer leer, en om haar skool toe te stuur sodat sy ʼn opvoeding  kan kry, was my lewensdoel.” Haar ma is self verbaas oor haar dogter se oorlewingsvermoë. Ná elke teleurstelling beur sy vorentoe met sterker ywer en gee haar ma ook die krag om voort te gaan.

Dit is steeds nie duidelik hoe die huis afgebrand het nie. “Die gesin in wie se tuinwoonstel ons gebly het, het ook maar hulle eie probleme gehad. Dit was nooit regtig maklik nie. Ná die brand het hulle hulself van ons vervreem; ons is nie eens seker waar hulle is nie,” sê sy.

Ná die brand kon sy haar geheim nie meer stilhou nie. Sy het nie eens die dag daarna skoene gehad om skool toe aan te trek nie. Sy kon óf wegbly, óf sy moes die onderwysers en haar mede-leerders in haar vertroue neem.

Dit is toe dat almal begin goed aandra. “Die skool het vir ʼn paar maande vir ons ʼn plekkie gehuur en almal het gehelp waar hulle kan. Dit was nooit lekker nie, dit is steeds nie, maar dis gerusstellend om te weet mense gee om,” sê sy huiwerig.

Steeds, ten spyte van al die seer, is sy ʼn uitskieter-matrikulant met ʼn 11 vakke wat onderskeidings in al 11 verwag. Die rekordeksamen-uitslae is immers reeds gedeeltelik bekend en sy spog reeds met onderskeidings in Engels, wiskunde, lewensoriëntering, inligtingstegnologie, ekonomie, geografie, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, besigheidstudies en rekeningkunde. Dis nog net Afrikaans wat haar naels laat kou.

Dit is dié onderskeidings wat haar sleutel tot sukses gaan wees. “Ek het soveel moontlik vakke probeer neem waarmee ek in ʼn verskeidenheid beroepsvelde kan werk sodat ek enigiets kan doen.”

Haar hart is egter reeds gesteel deur aktuariële wetenskappe, en dié wil sy studeer aan die Universiteit van Pretoria. Sy het ook aansoek gedoen om vir geoktrooieerde rekenmeesterskap te studeer.
Finansies knyp en is steeds ʼn groot probleem, maar ma en dogter glo dat ʼn deur sal oopgaan. Hulle het al reeds vir ʼn paar beurse aansoek gedoen, maar niks van dié beurse kan haar klasgeld betaal en haar op universiteit ondersteun nie.

Dit alles pak hulle egter in geloof aan. Sy het immers ʼn tyd gelede geglo dat sy nie eens matriek sou haal nie. “Deur die Here se genade, my wonderlike ondersteuningstelsel en my ma is ek deur my matriekjaar gedra.  Alles wat ek bereik, is net uit genade. Ek sien terugslae as uitdagings en dit motiveer my net soveel meer om weer te begin en ʼn sukses van alles te maak.”

Indien jy meer wil weet of betrokke wil raak, kontak Maroela Media deur ʼn e-pos te stuur namaroela@maroelamedia.co.za.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s