Vir my beswil

Ek het ‘n familielid wat haar lewe lank al ingedoen voel oor haar ouers se besluite. Sy moes van kleins af hoor dis alles vir jou beswil.

Sy was nog te klein om die uitdrukking te verstaan of haar ouers se goeie bedoelings te waardeer. Die beswlligheid het oor die jare ‘n binnepret grappie geraak in ons gesin en ek eindig dikwels onderhandelings met my eie kinders met dis vir jou eie beswil!

Sedert ons na ‘n bekende mediese fonds geskuif het, moet ek myself ook gereeld daaraan herinner. Sien ek behoort aan daai baasspelerige groep wat elke beweging van sy lede voorskryf en reguleer. Julle weet waarvan ek praat. Jy word op ‘n mooi manier gedwing om lid van ‘n sekere gimnasium te word . En dan pers hulle my af om dikwels te kom. As jy jou doelwitte bereik is lidmaatskap verniet en jy kry warm sjokolade in die winter en verfrissende skommeldrankies in die somer. In die naam van ‘n lang lewe en goeie gesondheid doen ek mee.

Gedweë spring ons deur al die hoepels… vir ons eie beswil. Ons laat toets ons oë, ore, kry ʼn papsmeer, ʼn mammogram, EKG ens. Ons maak jaarliks seker ons het nie Vigs, hoё bloeddruk of diabetes nie. Daar is nie ‘n plek op ons lywe wat nie nagegaan word nie. Van nature is ek effe rebels, maar ek laat my na hartelus rondjaag agter alles wat hulle voorskryf, want ons soek gratis flieks vir die kinders en afslag op enige ding van vliegtuigkaartjies en brandstof tot buitelug klere. Iewers sit en lag iemand heerlik vir sy marionette…

Die fonds en sy kaders het nou volle beheer oor ons lewens. Hulle bepaal waar en wat ons koop, watter gesonder kosse in ons trollie beland en wat ons met ons vrye tyd doen – ja reg geraai… alles vir ons eie beswil. My selfoon is vol toeps wat my herinner om reg te eet, water te drink, meer treë te gee elke dag en genoeg te slaap. 

Die nuutste sensor in my kar praat met my selfoon oor hoe ek bestuur.  Vir my beswil kan my man nou presies sien hoe woes ek wegtrek, jaag en oordadig rem trap. Daarom moet julle weet, ek is nie ‘n slegte ma omdat my kinders soms lank vir my moet staan en wag by die hekke nie – ek kon eenvoudig nie teen my ou spoed by hulle uitkom nie! En as jy weer iemand sien wat teen slakkepas voor jou aankruie, glimlag net geduldig – dis dalk ek of ʼn ander Mafia lid wie se lewe vir ons eie beswil oorgeneem is. 

P.S Daardie selfde familielid is op die oomblik baie ernstig siek en ek besef net weer gesondheid is ‘n kosbare genade en ‘n geskenk wat ons moet oppas soveel ons kan.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

2 Responses to Vir my beswil

  1. Gerba deKlerk says:

    Ai Annabelle oulik gestel Hoop saam met julle dat jul familielid mooi gaan herstel xx

  2. Toortsie says:

    Sommer vir julle almal se beswil. 🙂

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s