Groete uit saal E25

Hierdie week se blog gebeur vanuit ‘n luukse uitskopstoel langs my kleuter se bed in die pediatriese afdeling. My jongste het longontsteking en daar word oor varkgriep gegis. Ek is dus ook onverwags gehospitaliseer sonder ‘n armbandjie. Oor ‘n paar dae is dit vyf jaar sedert ek en hy hier in die hospitaal gekuier het toe hy met ‘n stortkraam die lewe ingevlieg het. Nou is egter nie die tyd vir té diep dink nie, hier glimlag ons net moedig en vertrou op Hom en al die pragtige personeel wat so sag en teer met ons kindertjies werk.

My lazyboy-bedjie (hopelik net vir 2 nagte) bring baie herinneringe terug van my ouma se sitkamer. My lyf voel bekend tuis om daarin nes te skop, maar my hart rebelleer. In my gedagtes gooi ek ‘n allemintige vloermoer saam met elke ander mamma of pappa wat hier uitkamp.
Gelukkig het ek ‘n dierbare man tuis om na my oudste om te sien. My hart breek as ek hoor hoe die pa anderkant die gordyn vir die opname suster verduidelik dat hy nie weet wat sy kind se immuniseringstatus is nie, want hulle is geskei… Verder af in die saal roep ‘n peutertjie troosteloos en tevergeefs na sy mamma wat nie kom nie. Ek wens ek kon troos…
Laataand in die semi donker en hospitaal-weergawe-van-stilte, lê ek rustig agteroor en kyk na my pragtige slapende seuntjie. Terwyl die goeie medisyne druppel vir druppel inloop, tel ek my seëninge. My vriendin het vandag ouma geword, ‘n vriend het verloof geraak en ons hartsmense se intreepreek was ‘n baie spesiale geleentheid vir hulle hele gesinnetjie. Ook perfek uit die bergrede: saligsprekinge vir almal wat wat broos is. So voel ek later hoe my bekertjie eintlik oorloop van genade en liefde.

Vandag stuur ek liefde aan elke ouer wat langs ‘n bedjie waak. Dis in sulke tye wat ons so erg menslik uitgelewer is, wat ons styf binne in Die Vader se hand is.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Groete uit saal E25

  1. Gerda van der Westhuizen says:

    Weereens so pragtig en gevoelvol geskryf! Baie sterkte vir julle, Annabelle. Julle Anker staan vas en sal julle bystaan.

  2. catjuggles says:

    Ai ek hoop julle is blitsig daaruit. Sterkte

  3. Marena says:

    Ek het min tyd om tydskrif te lees deesdae, maar ek maak altyd graag die Belle la Vita oop, want ek weet ek sal kan lees en geniet wat daar staan. Sterkte daar Annabelle.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s