Massa vreugde

Die afgelope naweek kon ons weer deelneem aan ’n Capital Singers massakoor belewenis. Ek verneem hierdie hoogtepunt op Pretoria se kalender gaan binnekort uitbrei na die ander hoofstede ook.
Koorliefhebbers van 16 tot 86 trek in drie vlietende konserte die poorte van die hemel oop met die mooiste musiek uit alle eras. 
In die talentvolle hande van ons koor cowboys, Christo Burger en Michael Barret, bereik ons registers en ritmes wat ons nooit gedink het in ons vermoë is nie en die gehoor se reaksie eggo ons genot. Die musiek is towermooi. Dié naweek se spyskaart was volgelaai met klassieke musiek, Rock, patriotiese Afrika musiek en gunstelinge uit verskeie dekades se Musiekblyspele. Vierhonderd stemme en ’n groot orkes vertel van liefde, oorlog, verlies en herinneringe. 
So tussendeur repetisies word lewensverhale, stoute grappies en koekies gedeel en mekaar se menswees geëer. Musiek breek deur al die generasies en grense. Vreemdelinge word vriende en herinneringe word vasgevang as brandhout vir oudag se vuur. Ons dames vier ons vrouwees met ’n mooi swart nommertjie en ’n tikkie rooi. Nuwe haarstyle word beproef en foto’s word saam met almal geneem. Oor die krag van rooi lipstiffie sal ek ’n blog op sy eie skryf! 
Ek glo ons geniet dit selfs meer as die waarderende gehore. Dis onwerklik hoe hard jou hart kan klop en hoe jou trane wil kom as al die wanordelike emosies jou onkant betrap met jou geliefdes teenwoordig en musiek vol herinneringe jou ore laat tuit. Die muur van suiwere klank en byna tasbare skoonheid laat my net so intens dankbaar voel vir alles wat ek het en kan gee.
As die laaste dawerende dromslag nog weergalm en die laaste viool verdrietig wegsterf is daar ’n gemeenskaplike gevoel van dankbaarheid vir die wonder van musiek. Miskien is koor nie jou ding nie, maar kry die ding in jou lewe wat jou oorrompel van vreugde en onbeholpe laat rondtas na woorde om dit te beskryf. Doen ’n slag iets vir jouself saam met ’n klomp mense en ontdek jouself in die skare, want deur jou menswees te deel met ander word jy meer mens!

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Massa vreugde

  1. Gerba de Klerk says:

    Dankie Annabelle, voel of ek daar was xxx Kan net dink hoe n wonderlike aand dit was xxx

  2. catjuggles says:

    Dit was ‘n totale massa vreugde – inderdaad

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s