Halleluja gesig en Jazz voete


Hierdie kostelike gesegde beteken die ou is nie so vroom soos hy voorgee nie.Byna soos Afrikaans wat as vrome moedertaal ook soms lekker die bolla kan losmaak en die askoek trap, vloek en vry dat die biesies bewe. Geen taal kan iets tegelyk so komieklik en deernisvol beskryf nie. Vrypostig, houtgerus, katvoet, rondomlelik, parmantig, trapsuutjies – dis die soort woorde wat ’n storie vir my in hoë definisie laat sien. Ek maak nie hond haar-af nie, maar ek kuier ’n hond uit ’n bos en gaan aan met ’n storie tot by oom Daantjie in die Kallerhok – of in ons familie tot by Tant Lettie!

Met ’n taal soos Afrikaans hoef jy niks te beskryf nie, die woorde skets die prentjie. Verontredderd, gefolterd, vertederd, gekenterd vir elke moontlike emosie het ons woorde uitgedink. Meeste van ons beskrywings kom uit die diereryk of is verleen uit vlytige voortrekker tradisies.

Geen wetgewing sal summier ons herinneringe, nostalgie en storieskat kan uitwis nie. Iewers tussen Ubuntu en ’n boer-maak-plan lê Afrika filosofie waarvan ons net so deel is. 

Ek is dol oor die kompetisie waarin jy ’n prentjie moet stuur van jou Afrikaans. Ek sien dadelik my Aussie sussie wat 7de Laan volg op die internet terwyl sy pannekoek bak en beskuit uitdroog.

Ek sien lammertjies in die Karoo terwyl ons padkos eet onder ’n smurfdak piekniek plekkie. Ek dink aan ’n sendingkerk erediens wat ek eenmaal bygewoon het op Ebenhaeser duskant Papendorp. Daardie mengsel van lof en lyding wat getrêksing word tot in die Ji-hî-mil in.

Ek sien bosveld sonsondergang en ’n vuurtjie waar mense hard lag en diep filosofeer.

 My prentjie van ons taal is miskien’n geelhout en embuia tafel met ’n bak granate van onskuld, ’n skewe snytjie brood wat liefde is en klein bietjie wyn. My taal herinner my aan kos, kinderrympies op ouma se skoot en vakansies vol see, son en liefde.

My Afrikaans verkoep soet waatlemoene van ’n wa af, eet weskus krief met die hande en sing Stille Nag op Strandfontein. Hoe lyk jou Afrikaans?

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged . Bookmark the permalink.

4 Responses to Halleluja gesig en Jazz voete

  1. Hetta Baard says:

    Kosbaar Annabelle! Is dit Strandfontein se kerkie op d foto? Besondere foto!! Jy toor met woorde. Dankie dat jy my laat deel in hierdie skat…

  2. Gerba de Klerk says:

    Heerlik gelees!x

  3. Gerba de Klerk says:

    kan nie glo dat Richter al n tandjie verloor het nie! Lekker middag vir julle Ons kry
    mar bibber koud Gaan die nwk bietjie see toe. Beslis nie om te gaan “tan” nie, maar net
    vir sommer xxx

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s