Deernis in ‘n bolletjie deeg

netflix-9-0407

My nuutste plesiertjie  is Netflix se “Chef’s table”.  Die dokumentêre reeks handel oor die wêreld se top restaurateurs.  Ek word ontvoer na Patagonië, Japan en Los Angeles en vele aangrypende mooi plekke en verruklike kulinêre tradisies .  Elkeen se kookkuns is suiwer passie en kuns gedryf deur liefde en ’n tikkie waansin.  Daar is ‘n gypsie-hippie: Francis Mallmann (baie gepaste naam) 3-ster Michelin chef met Franse opleiding en Suid-Amerikaanse wortels wat op afgesonderde  plekke en uitsluitlik in die buitelug  kook.  Hy braai op spitte, gooi lakens vol groente toe in vuur putte  en pak sy vis toe met klei volgens ou Argentynse tradisies.  Hy is ‘n romantiese vrygees wat oor vuur en grond amper net so liries raak soos ’n volbloed Suid-Afrikaner.

Wat my veral aangegryp het, is die gemeenskaplike kos filosofie wat soos ’n goue draad deur almal se lewensverhale loop.  Herinnering en respek.  Kookkuns moet jou herkoms eer en jou bestanddele vier.  Die kos wat jy voorsit het ‘n dieper betekenis as net die voedingswaarde.  Dit maak meer as net ’n hol kol toe. Die reeks het my laat nadink oor my eie kos filosofie en waardes.

In die eerste episode al word my oë klam toe die Italianer, Massimo vertel hoe sy liefde vir kos begin het met rou stukkies pasta deeg onder sy ma se kombuistafel.  Ek is ’n huiskok – nog onder konstruksie –  uit ’n lang lyn van knap boervroue, wat met liefde en vreugde gebak, gekook, ingelê en uitgedeel het.  Ek ken daardie afgeknypte stukkies rou deeg.  Ek is nou self die uitdeler van genade bolletjies deeg aan ’n honger bedelaartjie/kombuishelpertjie wat eintlik net rondhang om die klitser af te lek en die bak uit te krap tot hy boomskraap blink.  Ek ken daardie behaaglike gevoel van huislikheid en versorging as my ma die pastei met ekstra skilferkors rosies versier sodat elkeen se skyfie een het.

Die geur van anys, kaneel, naeltjies en gemmer is die geur van my kinderdae.  Naweke was daar altyd sjokoladekoek of suurlemoen tert.  My ma het haar kombuis moeiteloos gedirigeer en ons het nooit tuisnywerheid gebak of wegneemkos geken nie.  Melktert, melkkos, lemon meringue, souskluitjies, kaaskoek, room poffertjies en tuisgemaakte roomys.  Ja, ons familie het almal soettande en nagereg was en is die hoogtepunt van elke ete – soms is dit die hele okkasie!

Ons Weskus winters  was vol onthou-kos – stomende bredies en kerrie.  Somers was vol vrugte en soms vars kreef. Die wingerde het plek afgestaan vir ’n reuse- vrugteboord, groente en ’n kampie koeie, skape en op een stadium ook varke.  Ek onthou tuisgemaakte botter op potbrood  met appelkooskonfyt, skaaptjoppies en skilpadjies op die kole en ingelegde perskes of koejawels uit ma se spens.  Daar was heerlike kombuis-kuiers terwyl ma brood geknie, of hertzoggies uitgerol het.  Min het ons besef ons take van roer, skil, klits of rol is ons indiensopleiding vir ons eie huise.  Naweke langs die vuur sou ons oupa se galjoen of snoek braai, korrelkonfyt en roosterkoek eet terwyl die patats bak en ons vir ouma alles kan vertel wat die week met ons gebeur het.

Grenskoekies was ’n stapel tussen-in happie.  Dit is deur die VLV vroue gebak vir die manne op die grens en in bederf pakkies vol ou Huisgenote gepos.  Hierdie hawermoutkoekies is nou my eie soldaatjies se gunsteling koekies in hul kosblikke of saam met namiddag rooibos.  My pa het ons bekendgestel aan Franse roosterbrood toe  hy op ’n keer na ons moes omsien.  So kan ek oor elke gereg  ‘n storie onthou.  Die sorg en omgee in ’n bord kookkos.  Gesellige Sondagetes om ’n pragtige gedekte tafel met brosgebraaide aartappels, blink soet worteltjies, geurige boontjies, vars slaai, stowe droë vrugte en ’n taai soet asynpoeding.  Die gevoel van behoort en saligheid proe ek vandag nog as ek op ’n Sondag ’n skaapboud proe en ’n slukkie muskadel drink.

Al die moeite en tyd het iemand spandeer sodat ons gesond en gebalanseerd kon eet en gekoester kon voel.  Daar was spesiale bederf kos, daar was smullekker eksamentyd lekkernye, verjaarsdag liefde verrassings en fyn tee tierlantyntjies as die Leserskring gekom het.  Vars turksvye, mango’s, vye, lemoene, nartjies, pruime, appelkose en perskes het ons in oormaat geniet.  My pa se skorsies, waatlemoen, komkommer, pampoen en tamaties het gesmaak soos geen winkel dit kan aanbied nie. Daar was genoeg om uit te deel, in te maak en veral vir vars eet.  Sommerso van die boom of rank af. Ek was nog te jonk om die geur, kleur en tekstuur en onmeetlike voorreg daarvan ten volle te kon besef.

Vandag as besige ma moet ek weer leer om elke stukkie kos te eerbiedig as ek dit gaarmaak.  Dis vir my belangrik dat my kinders weet waar kos vandaan kom.  Hulle kan sien hoe ’n tamatie 3 maande gevat het in ons groentetuin voor hy op ons bord kom.  Ek moet hulle moet nou leer oor die nutriënte waarde van elke happie, die genesende krag en potensiële energie in elke skeppie.

Ek weet nou kos voed ook die siel en hart en dis meer as net my eentonige dagtaak om almal op die pad te hou.  Dit is so ’n plesier en ’n voorreg om vir my 3 honger manne te kook.  Ek hoop hulle het ook lekker herinneringe van meelbestrooide oppervlaktes in die kombuis, gesellige souse wat prut en kraakvars baksels beskuit wat uitdroog en die hele huis laat ruik na lewe en familie.  Ek hoop lemoenskil, suurlemoen, dadels, tiemie, roosmaryn, masala, kaas en avokado sal ook hulle geheue palet vorm en herinneringe word van gelukkige kinderjare en knus saamwees tye.

IMG_1982

Vanoggend het ek bobotie vir Vadersdag gemaak, maar ek besef dit sal nie kan opweeg teen my skoonma s’n nie, want dit is weer deel van my man se Vrystaat kos tradisies.  My eie stempel sal ek maar afdruk op die bykosse en nagereg.

Dankie ma en pa vir ryk kinderherinneringe en heerlike kos en resepte wat my gesin steeds seën!

Ek hoop jy het ook hierdie langnaweek iets om te vier of iemand om te bederf met iets soets of iets warm uit jou eie tuin of kombuis. Maak jou tafel ’n simbool van genade en vrygewigheid en vier die samesyn van almal vir wie jy liefhet.

Hier is Lutzville se VLV Grenskoekie resep – kan ook halveer word

500 g Margarine

5 koppies Hawermout

5 koppies Suiker

5 koppies koekmeel

5 koppies klapper

4 eetlepels Gouestroop/heuning

4 eetlepels Kookwater (meer indien mengsel te krummelrig is)

14 g koeksoda

4 eiers

sout

Metode

Meng meel, hawermout, klapper en suiker.  Smelt margarine en stroop en voeg geklitste eier by.  Laat rus in die yskas.  Rol okkerneut grootte balletjies, druk plat met ‘n vurk en bak by 180 grade.

 

 

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink.

6 Responses to Deernis in ‘n bolletjie deeg

  1. engelneels says:

    Ek vou my hande in ‘n nederige dankgebed en besef hoe geseënd ek is om pa te wees van ‘n kind met soveel mooi herinneringe. Groot genade! Lief julle.

  2. Hetta Baard says:

    Sjoe,maar jy gesels my nou honger en lus vir eet…al was ek nie honger nie!! Hierdie blog-stories v jou sal n topverkoper boek wees….ons hou jou fyn dop! Dankie dat ek weer eens kon deel in al jou herinneringe en heerlike skryftrant. Doet zo voort!!

  3. Gerba deKlerk says:

    Genade Annabelle nou het jy my skoon honger! Gelukkig was ek ook al verskeie kere bevoorreg om uit jou ma se kombuis bederf te word! En natuurlk ook di heerlke perskes e vye uit jou pa se tuin Vra haar bietji uit oor haar eerste poging v tamatiekos (bredie) xxx

  4. catjuggles says:

    Hoe pragtig Annebelle. Ek besef gereeld dat in die harwar van die lewe ek baie keer net kos maak om te voed – niks meer nie. Geen liefde en sorg nie. En dis so verkeerd

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s