Bakterieë word geboelie deur Hoop

My seuns is siek en sterk tuis aan op antibiotika en kortisoon vir sinus infeksies.  Toe hulle kleiner was het ek dit baie persoonlik gevat as hulle siek geword het.  Dit was vir my ‘n direkte aanklag teen my ouerskap as een van hulle antibiotika moes kry.  Vrot mangels en grommets was ‘n klinkklare bewys hoe ek gefaal het daarin om my kinders skoon, gesond en gelukkig te hou.

Intussen het ek uitgevind ek kan nie alles beheer nie – nie eens als onder my dak nie.  Virusse maak ongenooid  nes en bakterieë teel na hartelus aan.  Ten spyte van uitstekende voorsorg, eersteklas gesondheidsorg, higiëne en rituele, is daar steeds aanvalle op ons immuniteit wat ons in ons pajamas dwing met ’n voltydse taak om liggaamsvloeistowwe te bestuur. Êrens deel iemand vir my ’n pleister uit: die feit dat jy wonder of jy ’n goeie ma is, beteken alreeds dat jy is.  Ek is nie oortuig of dit waar is nie, maar kies om daarmee te hardloop!

Dieselfde wanhoop steek kort-kort sy kop uit as ek aan ons land dink.  Ek speel pennie fluite en Afrika tromme op top volume uit passie vir die land en voel trots Suid-Afrikaans as ek al die skoonheid sien, maar my keel trek toe as ek die skole sien brand en hoor hoeveel babas sterf in ons hospitale.  ’n Baie mooi blog wat op Facebook sirkuleer, beskryf hoe ons soms soos mishandelde stiefkinders voel van ouers vir wie ons so lief is, maar wat ons in ’n kas prop en misken.  Lees gerus die mooi beskrywing van hoe die land al vir 400 jaar op die rand van ’n tragedie is en die slotsom rondom die kassier Moreblessings. Surviving the Madness of South Africa

Ons lewe in ’n land van uiterstes en kompleksiteit.  Soos uiteenlopend soos ons biosfere, so verskillend en teenstrydig is die mense.  Jy kan deur die Hantam Karoo ry vir ure sonder ’n boom of ’n koppie wat jou oë verbly en dan af met Vanrhynspas deur die Knersvlakte waar die kaalte jou binneste roer en dan skielik breek die vrugbare groen uit die rooi sandduine en verras die Olifantsrivier se geil wingerde, tamaties en komkommer tonnels jou. Die een oomblik ry jy uit ’n Pretoria oos buurt met gemanikuurde grasperke en die volgende oomblik verby ’n sypaadjie-salon en ’n sink kaia met ’n dak wat laasweek nog ’n advertensiebord was.

IMG_1722

Die Knersvlakte soos uit die Vanrhynspas afgeneem

Nêrens is die reëls vir hoop opgeskryf nie.  Niemand verstaan presies hoe om balans, integriteit, wysheid en respek te bewerkstellig nie.  Ons weet nie hoe om stakings, rommelstatus en korrupsie te stuit nie en oor Lig wees en lig leef hoor ons net vae riglyne.  Al waaroor ons beheer het, is die oomblik waarin jy kies om net die mooi om jou raak te sien en deernisvol om te gaan met die persoon by jou.

Ek leer by my kinders.  Kinders is glad nie suinig met voorstelle oor presies hoe jy jou liefde kan bewys nie.  Hulle is vrygewig met voorstelle vir bederf en verjaardaggeskenke.  Hulle aanvaar eenvoudig ’n spesiale koek is ’n verpligte item op die agenda en dis hulle plig om jou met temas en idees te voorsien.  Niemand kan geluk vir jou bestel nie, jy moet dit opeis.  Dis jou werk om jou lewe kalmer, vroliker, mooier en gelukkiger te maak.

My vriendin se preek Sondag het my laat besef Jesus was eintlik ‘n PR nagmerrie!  Teen goeie raad in, is Hy gedurig in ongure, twyfelagtige situasies gesien.  Van Sy sosiale lewe weet ons bitter min, buiten dat sy kuiers min of meer altyd saam met ‘dodgy’ karakters was.  Sy beeldpoetsers kon nie Sy reputasie red nie, want Hy het glad nie omgegee wat mense van Hom dink nie.  Sy plan was eenvoudig – wees teenwoordig, los mense in ’n beter toestand agter, as waarin jy hulle gekry het en maak mooi oral waar jy kan.

So hier is my voorneme:  Lys my wintervreugdes.  Hou op bekommer wat mense dink en twyfel in my vermoëns en toekoms.  En as die verdriet dreig om jou te oorweldig: Verf iets; spuit parfuum; pak jou kas reg; luister aandagtig; plant ’n blom; deel ’n glimlag; dek ‘n tafel en versprei die boodskap: Jy kies om net hierdie oomblik te geniet.  Dis hoop! Dit is die Koninkryk van God!

IMG_1723

 

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Bakterieë word geboelie deur Hoop

  1. Baie mooi geskryf, dit was nou vir my lekker om te lees!!! Het jy bietjie gesukkel om te slaap? Lief jou, sien julle vanaand!

  2. Maaike says:

    So raak geskryf!!!

  3. catjuggles says:

    Ky jy kan skryf en bewoord wat so baie van on svoel en nie weet hoe om te sê nie. Ek hoop jou spruite is gou weer gesond en saam met jou gaan ek my winter vreugdes lys

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s