Aangename kennis kosbare vreemdeling!

In my werk ontmoet ek baie interessante mense  en hoor ek die ongelooflikste stories.  My kampvuur-storie-arsenaal het al ’n Tweede Wêreldoorlog  vegvlieënier, Orania inwoners, oud koerantredakteurs en vele kunstenaars as  kleurvolle storiekarakters.   As ek kleingroepe besoek is dit sonder uitsondering ék, wat verryk terugkom met nuwe respek en verwondering vir mense se dapperheid, humor en broosheid.  Mense is soveel meer as die somtotaal van hul ervarings, lyding en talente.  As Weskusser is ek veronderstel om die erfskat van mense se stories te respekteer.  ‘n Mens sou dink dat ek teen die tyd sou leer om nie ’n boek op sy baadjie te takseer nie, maar ek moet bely dat ek steeds geen mensekennis het nie!

In my Aqua-klas daag daar ’n tannie op. Ek moet my woorde nou versigtig weeg vir ingeval sy eendag hierdie onder oë kry! Sy is kort, gemoedelik en relatief onopsigtelik.  In alle opsigte herinner sy my aan Mrs. Patmore – die TV-reeks Downton Abby se kok.  Google haar gerus, verbeel jou haar hare ’n stomp, yl, deurmekaar bob en trek vir haar ’n roesbruin swembroek aan.  Ek kan voortborduur oor my afleidings, maar julle kan self die prentjie inkleur en my die sonde en verleentheid spaar!

‘n Paar keer oefen ons langs mekaar, maar ek het my gunsteling oefenmaats wat ek versigtig uitgekies het.  Ek doen geen moeite om Mrs. Patmore se naam te vra nie en wonder nie eenmaal oor haar storie nie.  Gelukkig vertel ’n ander vriendin my die hooftrekke – materiaal vir ‘n biografie,  ’n fliek of ten minste ’n blog inskrywing – besluit ek.

Die ouer dame is vlot in Russies en ‘n paar ander tale.  Nie net gee sy Russiese taallesse vir privaat studente nie, maar sy doen steeds vertaalwerk vir ambassades.  Sy is eintlik afgetree, maar werk steeds op ’n kontrakbasis vir haar eertydse werkgewer – die Suid-Afrikaanse Geheime Diens.  ’n Groot deel van haar lewe het sy in Kommunistiese Rusland gewoon en gewerk.  Tot my skaamte stel ek toe skielik baie belang in haar!  ‘n Russiese spioen wat dwarsdeur ’n padblokkade kan ry omdat sy die laaste mens is wat iemand sou voorkeer en verdink van geheime planne!  Honger vir nog interessante detail, praat ek nou meer dikwels met haar.  Ek verstom my vir haar verhale oor al Europese lande waar sy gestasioneer was.  Sy gesels onderhoudend en teken kleurvolle beelde van Brussels, Parys en ander wêreldstede.  Sy het nooit getrou of kinders gehad nie en ek twyfel  of haar liefde vir reis haar ooit gaan toelaat om gou te begin hekel iewers in ’n wiegstoel op ’n stoep.  Sy sê self ’n blomtoer na Namakwaland moet maar wag tot sy absoluut nie meer oor internasionale grense kan hop nie. Die Nasionale Intelligensiediens se briljante rooikop wapen!

Ek het nog baie Aqua vriendinne met inspirerende lewens.  Daar is ’n pragtige, sprankelende vriendin wie se man al vir byna ’n jaar sterwend is.  Hy is met Joost se Motorneuron siekte gediagnoseer en het byna dadelik die gebruik van sy longspiere verloor.  Hy is dus aan suurstof gekoppel en het voltydse sorg nodig.  My vriendin is eerlik en broos oor haar frustrasie, verlies en woede party dae, maar te midde daarvan is sy ongelooflik snaaks en meelewend.  Sy skryf steeds leerplanne en leef haar bediening passievol uit in haar kerk.  Haar lewensritme en die dans van haar gees is aansteeklik en energiegewend vir almal om haar.

’n Ander vriendin se verhale oor hul jare in Zimbabwe leer my oor die mens se onblusbare optimisme, kreatiwiteit en ondernemingsgees.  Sy is so aanpasbaar en goed met planne maak.  Laas jaar het sy ’n reuse rugoperasie gehad en die dokters en fisioterapeute is verstom hoe sy daardeur geseil het.  Sy was nie verniet drie maal per week in die water vir twee klasse na mekaar nie en het sy het die reabiliterings plan soos ’n taktiese militêre plan uitgevoer.  Deur dit alles versorg sy haar man, ma en kleinkinders met groot respek, deernis en humor.

Ek verstom my vir die skraal ou dametjie met net een voet wat toegewyd en entoesiasties kom oefen.  In die water is almal fikse meerminne.  Tuis is hulle ma’s, oumas, studente, professionele vroue (en soms ’n verdwaalde man). Elkeen met ’n persoonlikheid, belangstellings en lewenservaring.

Daar is nog vele sulke dames wat jy nie as vervelig kan afskryf of in een woord kan definieer en reduseer nie.   Ek leer oor tweede kanse na egskeiding , dood en kanker.  Ek leer oor die kuns om te lewe na ‘n affair, bankrotskap, ’n outistiese kind, motorongelukke en internasionale roem.  Ek leer elke dag hoe sexy, stylvol, slim, soepel, snaaks  en sterk vroue van alle ouderdomme kan wees.  Watter vreugde en voorreg om deur hulle geïnspireer en toegerus te word vir my eie reis.

Ek weet elke mens het ’n storie, ’n verlede, ’n herkoms, ’n unieke lewe en lewenslesse om te deel, maar meermale mis ek dit omdat ek my eie storie oor mense skryf en vrygewig my eie etikette oor mense plak. Die moment waar jou lewe iemand ander s’n kruis, is bloot ’n vlietende heilige oomblik.  Op daardie oomblik is die persoon nie alles wat hy is, was, of gaan wees nie.  Jy het geen gronde om ’n oordeel te vel of ’n opinie oor die persoon te vorm nie.  Jy het slegs jou eie gaterige verwysingsraamwerk wat jou hinder om iemand se volle potensiaal en waarde te besef.

IMG_02912a2e61227cf9b7babf21970550c12f77

Ek glo verder dat elke persoon wat oor jou pad kom, daar is met ’n doel en as geskenk van God self.  Spesiaal vir elke moment in my lewe, was daar die regte mense gestuur om my te lei, help, dra, leer, vermaak, lief te hê en voor te berei vir die lewe.

Vandag bring ek hulde aan daardie mense en ek onderneem om my oop te stel vir nuwe karakters en stories.  Hoe ongelooflik kleurvol en uniek het die Here ons nie gemaak nie!

 

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged . Bookmark the permalink.

6 Responses to Aangename kennis kosbare vreemdeling!

  1. Pingback: Aangename kennis kosbare vreemdeling! | Belle la vita

  2. Gerda says:

    Annabelle, ek wil net sê: elke keer wat ek die gedagtes wat jy so vryelik met ons deel lees, voel ek geestelik verryk. Baie dankie! Tannie Gerda

  3. catjuggles says:

    Wat ‘n heerlike klomp stories – kyk daai russiese spioen sal my fasineer. Mal oor jou skryfwerk. En ek dink ek moet ook weer aqua klasse doen

  4. Avis Perks says:

    You write so beautifully Annabelle. Inspiring and thought provoking as always.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s