Kyk met jou regte oë mamma!

Richter, my 4 jarige baie-praat-kind, het nou ‘n nuwe sê-ding ontwikkel om my te dwing om aandag te gee.  Die slim kind kan al onderskei tussen wanneer ek regtig kyk en wanneer ek net ‘Uh’ en kopknik.  Maak nie saak waarmee ek besig is nie, ek moet buk en met my REGTE oë kyk!  Ek vermoed die on-regte oë is die wat op my rug sit (die soort wat elke ma mos het wat deur mure kan kyk).

Die eerste keer toe dit gebeur het, het ek nogal sleg gevoel – wat ‘n aantyging is dit teen my moederskap!  Vir my is dit net nog ‘n lego karretjie, maar vir hom is dit ‘n monumentale, kreatiewe kunswerk en motoriese mylpaal.  Ek probeer nou regtig my bes, maar omdat ek en hy die grootste deel van die week in mekaar se geselskap is, raak sy aanspraak op my volle aandag ‘n bietjie baie!  Aan die ander kant kan ek nie glo hoe lief hy vir my is en hoe baie hy my insette en erkenning nodig het nie.

Dit het my ook weer laat dink oor hoe ons na die lewe kyk.  Registreer ons regtig wat om ons aangaan?  Jy kan ‘n kleintjie nie flous deur te maak of jy sien nie.  Ek vermoed die mense om ons weet ook wanneer ons regtig teenwoordig is.  Ons ouer kinders, eggenote en wyer kringe is net nie so knaend soos  ‘n kleuter om daarop aan te dring dat ons oplet nie.  Kom ons ooit agter as mense ons nodig het, sien ons raak as iemand ekstra moeite vir ons gedoen het?  Sien ons die pyn agter die glimlag of die bekommernis of uitbundige opgewondenheid agter die sonbril?  Ons is so besig dat ons dikwels nie die kelner, kassier of petroljoggie raaksien vir meer as hul taak om jou vinnig te help nie. Wil ons nie raaksien nie of is lewe net te vol onsinnighede?

In ons opwindende vol lewens verloor ons dikwels ons regte oë en kyk ons bo-oor so baie dinge.  Ons ontneem onsself van soveel liefde en vreugde deur ons van die mense en dinge om ons af te sluit.  Ek kan ook nie help om te wonder hoeveel van God se boodskappe en spesiale bederfies ons miskyk nie.  Verbeel jou hoeveel beter ons verhoudings en vriendskappe sal wees as ons ons volle aandag en tyd aan mense kan gee as hul by ons is.  Soos Pieter Koen sing: “jy moet fokus my kind!”  Iewers tussen ‘multitasking’ en doeltreffende tydsbestuur, moet ons ons prioriteite regkry en kies om te kyk met ons oë en ons harte.

IMG_2887

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s