Purple Rain en Cheap Thrills

Vandag wil ek jubel oor die fantastiese mooi stad waarin ek bly.  Ek dink ons pers strate word op webwerwe oor die wêreld heen bekyk en op wenslysies gesit.  Die stad waar duisende Jakarandas pers boeë oor strate span en sagte blommetjies die grond en die lug pers inkleur.  Dit is my voorreg om in iemand se “bucket list” item te bly.

1000000_10201337161045835_126319617_n

Kyk, dis nie asof ek onbekend is met blomme wat wulps uitbreek in die laatwinter nie.  Ek het immers op die rand van Namakwaland grootgeword waar die Weskus en die Hantam met mekaar trou.  My pa het ons dikwels in die kar gelaai vir ‘n ‘Sunday joyride’ na Strandfontein, Koekenaap, Die Hardeveld (Harreveld), Die Sandveld, Niewoudtville (Nieutville) en selfs Springbok en Gharies toe agter pers hostnosvygies, daisies, botterblomme en vele meer met name wat ‘n ouderdomsbeperking behoort te hê.  George Weideman beskryf in sy roman Draaijakkels hoe die andersins dorre veld huppel soos ‘n jong merrie wat op hitte kom en uitlokkend soos ‘n jongmeisie laf en ketools die riel dans en uitbars in malse kleure en geure.  Coenie De Villiers sing: “die veld hou nuwe jaar … blyplek, vryplek, Nababeep my Ghantang, kom proe hoe soet ‘n ghoukom hier kan smaak”.  Vir ‘n paar kort weke is alle swaarkry, droogte en vaaltes vergete en verf die Groot Kunstenaar met vrygewige kwashale oor die landskap van my heimat.

11846543_10152894167445146_3596244154226496024_n

So sit ek jare later in my koshuiskamer op Potchefstroom soos Pietsnot (nie die Namakwa blomsoort nie – die stoksielalleenwees soort)  Was Pietsnot ‘n kluisenaar? Ek vermoed dis ook ‘n uitdrukking wat my mense daar in die Noordwestelike hoek van die land uitgedink het.  LeAnn Rhimes was altyd my toevlug op ‘n reëndag wanneer die koshuis leeg was en ek een van die enigste inblyers was omdat ek ‘n universiteit aan die ander kant van die kaart gekies het!  Dan blêr ek “Purple Rain” tot by Tant Lettie toe (nog ‘n vreemde gesegde wat ek by my ma geërf het) kletterend, omdat my musiek geen siel kan pla nie en dit my effens beter laat voel en uitsien na beter tye.

5167398

LeAnn Purple Rain

 

Of dit hond haar-af gemaak het, weet ek nie, maar dit is nou goeie herinneringe en die beter tye het wel gekom.  Ek wonder nou of die “Purple Rain” liedjie nie ‘n wegwyser was na die pragtige blou-reën struik in ons tuin en die Jakarandas wat mense na kameras en byvoeglike naamwoorde laat gryp.  Ons noem hul jakaranda toeriste.  Jy sien hul poseer of lê op hul maag of rug in klein straatjies.  Vreemdelinge kuier sommer ‘n hond uit ‘n bos en plaaslike inwoners vertel buitelanders in hul mooiste ingels waar die persste fotos geneem kan word of waar om die magiese wit jakarandas te kry.

Toe die skoonheidskoningin glo moes antwoord op die vraag “describe your perfect date”, het sy glo gesê 10 Oktober, want dan is dit nie te koud en nie te warm en ek sou bysit oordadige Jakarandas!  Vir een volle maand is hierdie pers skouspel vir my jaarliks opnuut ‘n bederf en ‘n versekering dat alles ‘n einde het – selfs die koudste winter of  kenterende eensaamheid.

10360704_10203713320208329_7649163294286962798_n

Hier volg my kitsgids tot Sondagnamiddag ‘joyrides’.

  • Maak ‘n speellys vol reëndag musiek – ek praat van ernstige melankoliese melodieë wat jou terugneem en jou kinders gek maak, maar later in hul lewe as soet herinneringe terugkeer.
  • Beplan jou roete om by ‘n koffie winkel, McDonalds of enige roomys of botterbroodjie verskaffer in te sluit op jou pad. Of brou jou eie fles en pak piekniek koekies in.
  • Laai al jou geliefdes sonder hul slim toestelle in die kar en kry koers na die naaste mooi blomme, bome, waterval, bergpas, meer, woud, sonsondergang of uitkykpunt oor die skemer stadsliggies.
  • Neem foto’s van die mooi en van mekaar. Drink die oomblik in.  Skryf die kinders se sê-goed neer, dokumenteer hul gewaarwordinge.  Maak herinneringe bymekaar.
  • Moenie wag vir vakansies of langnaweke nie. Doen dit as jy hoor die aarbeie is ryp, die dam se sluise is oop, die eende se kuikens het uitgebroei of wat ook al op die agenda is – werklik enige rede is ‘n goeie rede!

a20791d127ed6b10baa7b7_m__85802

Ek weet klein plesiertjies en avontuurtjies kan nie blywende geluk verskaf nie, maar dit dra by tot ‘n lewe vol dankbaarheid.  Ek glo regtig lewensgeluk is ‘n kuns wat aangeleer kan word.  Almal kan leer om die mooi dinge en alledaagse lekkertes te waardeer soos wat ‘n fynproewer opgelei word om wyn, olywe of kase te laat vertoef op die tong.  Daar is kalmte in die talmende stoom van die eerste oggendkoffie en tevredenheid in vars gestrykte linne.  Pleeg ‘n literêre werk, waag ‘n nuwe deuntjie of skok die wêreld met ‘n pot of prent.  Daar is rustigheid in die kreatiewe proses en bevryding in die deel daarvan.

Nog iets wat bydra tot lewensvreugde is die toenemende besef dat elke mens uniek en spesiaal is.  Dit sluit my in – net ek kan toelaat dat iemand anders my selfwaarde of bui bepaal.  Dit is ‘n cliché waarin ‘n mens ingroei.  Dis asof jou vel dikker en hart sagter word hoe ouer jy word.  Wat ‘n voorreg om ouer te kan word! Jy voel dapper om jouself te wees en vir ander die ruimte te maak om dieselfde te doen.  Besef dat jy vir almal op jou pad tot seën kan wees.

sms-11337

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

3 Responses to Purple Rain en Cheap Thrills

  1. Neels says:

    Vlymskerp Sussie!!

  2. Hester Botha says:

    Ek is ook ‘n “survivor” Ek glo absoluut aan “memories” bou. My motto deur die hele herstel proses en toe sommer vir die res van my lewe – Omring jouself met die beste van die beste” Ignoreer al die negatiewe en fokus op die positiewe.
    Mal oor jou blog – Doen so voort – Hester Botha sedert 2009

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s