My brief aan A De Jonge

Maroela media het my gevra om te reageer op ‘n brief wat hul ontvang het:

http://maroelamedia.co.za/blog/debat/briewe/tot-18-werk-die-cookie-cutter-van-die-lewe-nog/

Dit is van ‘n van ‘n student wat geskryf oor die vrae wat sy oor die lewe het. In kort is haar vraag aan volwassenes: “As jy kon teruggaan en weer kon kies, sou jy dieselfde keuses maak, of sou jy anders kies?” Sy is onseker oor die paadjie waarop sy is en of sy besig is om die regte droom na te jaag.

Hier is my antwoord:

Liewe A De Jonge Dame

Jy vra al die regte vrae en is krities genoeg om jou eie brief te antwoord, maar ek dink jy sal dit geniet om ‘n paar amateur grootmense se opinies te hoor. Ek sê amateur, want oor 15 of 45 jaar skryf ek dalk vir jou ‘n splinternuwe brief! Vandag wil ek sê sit terug en geniet die lewe.

Ek is 38 en lewe die droom.  Die meeste van my boksies is getick: graad, mooi huis, tuin, labrador, Europa, 2 seuntjies, ‘n vervullende werk met gemaklike ure van die huis af, die beste man en mooiste vriendinne.  Is ek gekwalifiseerd om jou keuses te help maak?  Glad nie, want ons paadjies lyk elkeen anders.  Jy klink vir my na ‘n georganiseerde beplanner wat selfs die dromer in jou tem om jou doelwitte te bereik.  Ek is ook so – inteendeel ek verstaan dis ‘n kwaal by die gemiddelde Westerse vrouens, saam met kommerwekkende statistieke oor miskrame, depressie en uitbranding.

Ons hou daarvan om die maksimum uit die lewe te kry en die minimum risiko’s te loop.  Ons doen navorsing op die internet oor alles sodat ons kan uitblink, ons lewens beveilig, vergemaklik en mooi maak. Ons loop wye draaie rondom goeters wat ons geluk kan steel of ons perfekte prentjie kan skaad.  Maar dan gebeur die lewe.  Vir my was dit laas jaar borskanker en ‘n galblaas!

My lewe lank sou ek swoeg om te verhoed dat die paw paw die fan tref, maar toe dit wel gebeur kon ek ontdek dat ek steeds ek is. Die byproduk van lyding is versnelde wysheid en intense waardering van die lewe – so vandaar die moed om hierdie dinge vir jou te skryf:

Ek dink die belangrikste vraag wat ‘n jong meisie moet vra is wat maak my gelukkig en hoekom? As jy die bron van geluk regdeur jou lewe buite jouself gaan soek, gaan jy regtig teleurgesteld wees in die lewe.  Ek weet nou ander mense se opinies oor my tel baie min, welstand is net goed as jy tyd het om dit te geniet en ‘n goeie mediese fonds is ononderhandelbaar. Geluk is in eenvoud en ongekompliseerdheid.  Geluk is ‘n keuse – nie ‘n doelwit of ‘n bestemming nie.  As jy nou al kan leer om te geniet wat jy het en waar jy is, gaan jy nie soos ‘n hamster in ‘n wiel voel nie.  Jaag jou eie geluk na met passie en vergeet van die groter prentjie.

Oor jou vraag of ek dit anders sou doen – “Hindsight is 20/20 vision”  Ek glo egter ek sal gelukkig en tevrede kon wees waar ek ook al is, want ek weet nou ek het die innerlike krag, kreatiwiteit en geloof om alles te kan hanteer.  Daar is nie eintlik iets soos verkeerde keuses nie, want as jy gelowig is, is selfs jou swak oordeel deel van Sy plan.  Of jy links of regs gaan, jy kan die pad geniet, herinneringe en lewenservaring kry en as jy buigbaar en geduldig bly, is altyd tyd vir “do-overs’ – derde en vierde kanse.   ‘n Mens is eintlik ‘n ongelooflik aanpasbare wese met ‘n geweldige potensiaal om lief te kry en intense vreugde te ervaar.

Ek het ook uitgevind jy kry heeltyd nuwe boksies by om te tick, want gelukkige, gesonde mense groei heeltyd, is nuuskierig en die wêreld word vir hulle ‘n avontuur wat ontdek moet word.  Moet nooit ophou om aan jouself te werk nie, bly kinderlik soek na alles in die lewe wat vir jou mooi, betekenisvol en lekker is nie.  ‘n Vrou gaan deur soveel seisoene in haar lewe, jou selfontdekking is nooit afgehandel nie.  Spandeer meer tyd aan die bou van jou eie selfbeeld, karakter, talente en goeie verhoudings as aan jou klerekas en beeld na buite.

Volg jou eie energie.   Leer nou al om nee te sê en oor niks skuldig te voel nie.  Verwelkom nuwe mense en dinge ver buite jou gemaksone.  Gooi jou vooropgestelde idees oor ouerskap, huwelike, godsdiens, gesondheid, fiksheid ens. weg.  Dit is waarskynlik oorgeërf, outdated of verdraai.  Wees oop en bly ‘n lewenslange student.  Herdefinieer ambisie en sukses vir jouself gereeld en onthou jy hoef nie nou alles uit te ‘figure’ nie.  Hou jou drome aanpasbaar en weet dat jy nou bloot net ‘die volgende ding’ hoef te doen.  Leer vreesloos leef, want 99% van alles wat ons vrees gebeur nooit.  Jou vrese staan tussen jou en ‘n vol lewe.  Maak jou oë toe en spring! Die lewe is kort, onvoorspelbaar maar kosbaar en mooi saam met die regte mense.

5778ca76b341bfa7e1fcaaca85770d4c

 

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s