So dis dan hoe remissie lyk … en my ode aan woorde

Hierdie week was dit weer tyd vir my mammogram en drie-maandelikse onkologie besoek.  Alles is reg, buiten ‘n digte ding in my ander bors, wat oor 6 maande met ‘n naald ontleed sal word. (Julle onthou mos die vleispen…) Niks om oor te stres nie, slegte nuus sou op laas jaar se PET scan gewys het, maar dis hoe remissie werk… jy word nou met arendsoë dopgehou.

Ek kon darem die wagtyd geniet en saam met Hettie sit en hekel in die chemo-kamer, want sy moet, soos sy dit stel “weer bietjie maintenance laat doen”.  Ons kon net sowel by ‘n Spa gewees het vir die oggend, sy is so vol lewe en lag, ‘n mens sou dink onkologie huur ons vir vermaak! Want hierdie besigheid is maar deel van ons lewens en ons beplan rondom dit, maar dit hou ons niks terug nie.  Inteendeel ons is besiger en gelukkiger as ooit!

Ek beny mense met net een of twee stokperdjies – iemand wat net op een vaardigheid kan konsentreer en dit bemeester tot wêreldstandaard.  Vandat ek Pinterest ontdek het, is daar ‘n nuwe vrees in my dat ek nie oud genoeg sal raak om al die inspirerende goed te maak en doen wat ek sien nie.  Daar is soveel kreatiewe idees, wonderlikste resepte, patrone, aanwysings en fotos wat jou lus maak om die wêreld op horings te neem met jou verfkwas, tuinvurk of elektriese klitser! Sonder baie geld en moeite leer mense mekaar nou oor grense heen hoe jy met ‘n klein bietjie saad, teëltjies, lee houers, suurlemoenskil, vernis en liefde byna jou hele lewe kan verfraai, organiseer, verfris en verbeter.

My eerste liefde is egter steeds woorde.  So hier volg ‘n lang stortvloed van woorde wat jy gerus kan oorslaan as ‘n ode aan woorde vir jou ‘n lang lydsame relaas is!  As dit te koud is om te snoei of sement te meng, die kinders se skoolvakansie projekte klaar is en die onmiddellike drang om ‘n mooi nalatenskap te skep, tydelik verbygaan, is daar steeds woorde.  Woorde het nie son, mense, elektrisiteit, verf, lap of grond nodig nie.  Woorde kan ek sing, skryf, lees en oordink selfs as daar beurtkrag is en veral as die kinders reeds slaap en stilte ‘n prioriteit word.  Reg deur my lewe was boeke, tydskrifte en briewe my kruk en my bederf.  Mense wat eerlik skryf kan ek sommer hoor praat in hul besonderse manier of aksent.  Keurig, kripties of beteuterd – solank dit woorde uit die hart is.  Ek geniet die stories en die detail vertellings soms meer as die foto of video self.  Dagboeke, artikels en deesdae ook blogs, laat my sommer baie langer onder die duvet vertoef as wat behoorlik is.  Een van die lekkerste dinge was om te kon sien hoe my oudste leer lees en skryf.  Wat ‘n ongelooflike voorreg om iets so basies te kan doen – die basis van alle professies en vooruitgang.

Dit is vir my wonderlik as woord-towenaars ‘n saak boeiend, oplettend en pittig kan beskryf sodat dit emosies by my roer.   Soms verkneukel ek my in die tierlantyntjies en afdwaal paadjies waarmee mense se woorde op loop gaan.  Dis ‘n ongelooflike talent om mense te kan inspireer, in beweging laat kom en van oortuiging verander of hul roeping laat besef, deur die enkele sin wat jy op sosiale media, die briefie in die kosblik, die paragrafie in ‘n verjaarsdagkaartjie of die handgeskrewe bladsye vol resepte aan jou kinders.  Wie kan verstaan hoe ‘n sensitiewe whatsapp boodskap of gekskeer gediggie op FaceBook op die regte tyd, die siel kan voed en energie kan gee.

IMG_9783

Navorsers dink mense lees nie meer nie en die oog vang net prentjies, maar selfs ‘n prentjie met een kragtige woord kan waardevol wees. ‘n Gepaste aanhaling kan meer sê as ‘n hele preek, ‘n gevatte tussenwerpsel vat my reguit terug na Lutzville se koöperasie stoep op ‘n Saterdagoggend en ‘n enkele tongklik breek net soveel af as wat ‘n grasieuse toespraak opbou.  Woorde is die boustene van ons verhoudings, die hoeders van ons herinneringe, nostalgie en erf stories.  Woorde maak nie vet nie (buiten die in glans resepteboeke) en woorde kan klankloos na God toe sweef.  Woorde kan jou laat tintel van lekkerkry, jou laat hoendervleis kry van vrees of verlam van frustrasie.  Ek is mal oor die weergalose vryheid om ontvoer te word deur woorde na ander tye en plekke, ‘n ontsnapping uit die hede, ‘n verbeeldingsvlug veroorsaak deur woorde uit net 26 letters gevorm.

IMG_9784

Ek beny mense wat nie sukkel om hulself uit te druk nie en wie se woorde sag uitrol sonder dat dit mense beskadig of beskaam.  Ek wens ek het meer struktuur en beheer oor my woorde gehad en ek wil dit ‘n prioriteit maak om minder woorde te gebruik en meer te luister (my familie frons en rol nou hul oge…)

Ek hoop jy weet jou woorde is waardevol. Mag woorde jou vertroos en vertroetel en mag jou woorde ook ander verras, vereer of selfs verlei…

IMG_9785

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

3 Responses to So dis dan hoe remissie lyk … en my ode aan woorde

  1. Nee wat, jy kan maar aanhou woorde speel

  2. Hetta Baard says:

    Ek hang aan jou lippe /woorde! Altyd n lekker ervaring omjoublog te lees.Dankie daarvoor
    Liefde,Tannie Hetta

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s