Dans in die reën

Die dag het aangebreek waarop ek hopelik vir my laaste scan moet kom voor ek amptelik remissie status sal behaal.  Ek lê al weer in ’n ongemaklike posisie, in ’n verkoelde kamer, onder ‘n grys Toshiba boog.  Ek is uitgelewer en ietwat blootgestel – en nie eens vir geld soos wanneer jy ontklee teen ’n fooitjie nie …  (Nou nie dat ek sal weet hoe dit voel nie! … Alhoewel dit nou na ’n baie lekkerder alternatief klink !) Die Jodium naald in my hand is baie seer en die gewag laat my na my selfoon en kosblik verlang.  Ek is doodseker die vergrote limfklier in my long sal normaal wees, want my longinfeksie en griepsimptome wat my vir twee maande lank gepla het – is iets van die verlede.

Noudat ek nie meer vir my lewe vrees nie, gaan die snaaksste gedagtes deur my kop.  Ek wonder wat sal die onkoloog se reaksie wees as hy my ondersoek en my tong nog groen gevlek is van Albert se ‘army tank’ verjaarsdagkoek-versiersuiker!  Ek dink aan die peleton graad een seuntjies wat ons erf laat dreun het met hul lag, outomatiese geweervuur en Pieter se gemaak-kwaai drilsersant bevele.  Nooit gedink ek sal so ’n regte egte seuntjie-mamma wees nie!  My gedagtes gaan ook terug na laas jaar die tyd toe ek die verjaarsdagpartytjie datum moes kies sodat dit sou gebeur voor my ek my hare vir my pruik verruil.  Alles was rondom my chemo datums beplan en my grootste vrees was dat ek iets sou mis omdat ek in die hospitaal opgeneem kon word of siek in die bed moes bly tydens ’n belangrike gebeurtenis.  Ek het toe nooit enige iets gemis nie.  Die Radioloog is dieselfde jong dokter wat tydens my eerste sonar aangedring het op ’n biopsie omdat hy nie seker was oor die aard van my gewas nie.  Ek beplan al om vonkelwyn reg te kry vir vanaand en ek voel bietjie skuldig oor ek so vreeslik gesond, fiks en uitbundig voel te midde van soveel swaarkry rondom my.

Ek laat spoel ook my port vir (hopelik) die laaste keer voor ek dit gaan laat uithaal.  Dis altyd heerlik om Suster Aggie te sien en die vriendelike chemo-kamer personeel.  Ek voel jammer vir almal wat lê om chemo te ontvang en vreeslik verlig dat ek nie vir die res van die oggend daar hoef in te boek nie.  Nou sit ek by ontvangs en wag vir my verslag en plate aan die onkoloog.  Ek hoop vir goeie nuus en dat dit my eie verslag sal wees (nie ’n terminale pasiënt s’n soos laas nie!)  Miskien is dit nou die tyd vir voorraadopname.  ’n Kollega by die kerk het die gemeente uitgedaag om foto’s te stuur van waar ons God sien werk.  Ek het ’n hele lys plekke opgemerk die laaste ruk:

 

1.        In onkologie se wagkamer sit daar ’n groepie mense wat al ’n hele paar uur wag vir hul onkoloog.  Hulle is merkbaar omgekrap, maar probeer mekaar opbeur met gemoedelikheid.  Iemand word afgevaardig om te gaan uitvind hoe lank nog en hy kom terug met die nuus dat Dr. by iemand is wat sterwend is.  Ek herken die moegheid en gelatenheid op pasiënte se gesigte en ek herken die engele – vriende of familie wat saamgekom het vir ondersteuning.  Die personeel se humor en sagtheid val my elke keer op.  Almal sit hier met ’n storie en ’n mediese rede of geliefde waarvoor hulle hier is.  Ek weet ook God is hier.  Tussen die pragtige nuwe meubels en dekor by elkeen wat pyn, ongemak en vrees ervaar.  Hy is verantwoordelik vir elke glimlag en elke stukkie hoop.  Hy is hier om te gee en te neem en almal hier is in Sy hand.  Dis die vreesaanjaendste plek om te wees, maar dis ook die plek waar jy gekonfronteer word met jou eie verganklikheid en God se doel vir jou lewe.

 

2.       Ek sien God in die mense wat ek ontmoet het danksy kanker.  Hilda, die vriendin wat my feitlik gratis masseer en geweldig baie help met limfdreinering.  Elke sessie by haar is ook lag-terapie en medisyne vir die siel.  Ook in Ida, die liefdevolste aerobics instruktrise wat ek nog ooit ontmoet het.  Haar gym is haar bediening en oop die maat van ‘stand by your man’ oefen ons terwyl sy ons aanmoedig om ons mans te waardeer en aanvaar soos hulle is.  Sy ontwikkel ons spiere, brei ons musieksmaak uit en bou aan ons selfbeeld en karakter.  Sy bid, huil en lag saam met elkeen se lief en leed en gee regtig om vir elke vrou wat by haar oefen.

 

3.       Ons gesin is die plek waar ek God die duidelikste sien werk.  Ek en Pieter verwonder ons aan die seuns.  Hulle is so snaaks, slim, uniek en kosbaar.  Die sêgoed en speletjies wat hulle uitdink is vermaak vir die hele uitgebreide familie.  Ek dink God brul ook soms van die lag as hy hul gebedjies hoor!

 

4.       Dis ook heerlik om te sien hoe God werk in ons familie se lewens.  Daar gebeur elke nou en dan opwindende goed in die Tasmaniërs se lewens en ek kan skaars glo hoe hulle floreer in ’n nuwe land en lewenswyse.  My ouers kan ook net getuig van goeie gesondheid en lewenslus.  Hulle reise neem hulle na die mooiste plekke en ek sien ook by hulle ’n nuwe waardering vir die lewe en selfs ’n groter sagtheid teenoor mense.  My skoonfamilie tel nog die stukke op na my skoonsussie se dood en weet ook God werk daar.

 

5.       Daar is ook hartseer plekke waar ek bid en weet dat God genesing, troos en hoop sal bring.  Iemand na aan my gaan deur ’n moeilike egskeiding.  ’n Vriendin met ’n outoïmuun siekte het begin met ’n moeilike behandelingsplan, soortgelyk aan chemo.  Vir julle wil ek die bekende en beminde aanhaling gee:  Moenie wag vir die storm om verby te gaan nie.  Dans in die reën.  Paulus sê nie verniet in Filippense:  Wees bly, ek herhaal wees bly…

 

6.       In sekere Afrika kulture kan iemand net ’n toordokter word as hy self ’n lewensbedreigende siekte oorleef het.  Ek verstaan dit nou vir die eerste keer.  Ek sien dat God my verander het deur my siekte om regtig om te gee vir ander se swaarkry.  Voorheen sou ek myle om iemand  loop wat klink of daar drama is!  Ek sou moeite doen om nie lyding te aanskou of klagtes aan te hoor nie.  Nou trek dit my aan.  Ek sien die voordeel daarin om so naby die hospitaal te bly en vind dit so maklik om besoeke in te pas.  Ek wil graag mense se stories hoor en hul in die oë kyk en met gesag sê dat hulle OK sal wees.  Ek voel ek het ’n lisensie om dit te mag sê, want op die uiterste kan jy jou lewe verloor, maar die hemel beërf.  Ek het gesien hoe geliefdes wat agterbly tweede kanse op geluk kry en ek het gesien hoe God in mense werk wat na Hom soek.

 

7.       Laastens sien ek God werk in al my vriende se lewens.  Ek sal nie so verwaand wees om te glo dat ek die oorsaak was daarvan nie, maar ek kan tog sien hoe mense ekstra moeite doen met hul huwelike en kinders.  Ek kry lekker as ek sien hoe die mense om my die lewe vier en mekaar geniet.  Dis ondenkbaar dat kanker soveel mense se oë, ore en harte kon aanraak.  Dis net weereens ’n bewys dat God enige ding – goed of sleg ten goede kan gebruik om Sy koninkryk te laat kom.

 

Later…

Ek het uiteindelik weer 2 en ’n kwart ure sit en wag vir die onkoloog. Ek het al vergeet hoe die ure hier kan verbyglip.  Die dr. is steeds nie beïndruk deur my klier nie.  Dis nog presies dieselfde as in Mei.  Dit was dus nie abnormaal vergroot weens infeksie nie.  Sy presiese woorde is dat die klier lastig is!  Hy wil ’n Pet Scan aanvra.  Om aan te neem dat dit ’n dooie klier is, sou nalatig wees.  Net die duur masjien by Little Company of Mary sal dit kan bevestig.  Ek gaan in ’n donker kamer vir ’n uur doodstil moet lê vir my lyf om ’n suikeroplossing op te neem en dan word jou hele lyf geskandeer.  Die mediese fonds en hospitaal moet nou eers reëlings tref en na die scan vat dit 4 dae vir die verslag om by my onkoloog te kom, waarvoor ek dan weer ’n afspraak met hom moet hê.  Die einde is dus steeds nie in sig nie, maar Pieter sê ons is al weer een stappie verder.  Ons het ongelukkig niks om vanaand te vier nie, so ons bêre die vonkelwyn maar vir Albert se verjaarsdag môre, want intussen dans ons in die reën…

reen

Die nuwe beeld in ons onkologie afdeling

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

5 Responses to Dans in die reën

  1. Ons hoop en bid vir goeie resultate Annabelle! Moedhou vriendin!

  2. ellaukblog says:

    Wens ek kon toor met wonderlike bemoedigende woorde wat nie leeg is nie. Al wat ek kan se is : ‘Aggenee’. Dit dat ek nie more gaan ophou bid en jou dalk vergeet nie, maar gaan aanhou bid en jou aanhou onthou. Wees goed vir jouself.

  3. Marlene's Errands & Driving says:

    Annabella ek het sommer trane in my oë en ek hou sommer my asem op in afwagting vir jou!!

  4. Gerba says:

    Ai, my kind, dan wag ons maar weer! Baie sterkte en liefde! Ons gaan DV môre aand by
    Mamma-hulle melkkos eet. Ons reën/koueweer regverdig dit dubbel en dwars! Soene vir
    die jong manne! Hoop julle portrette hang weer stewig. xxxx

  5. Gerda vd Westhuizen says:

    Liewe Annabelle
    Jy dra ‘n baie belangrike boodskap op ‘n wonderlike onderhoudende manier oor, en is ‘n ware dissipel van ons Liewe Heer. In my bybelstudievoorbereiding vir môre lees ek die volgende oor ‘n beskrywing van ‘n dissipel van Jesus: “Iemand wat in die eerste plek voor God buig, en in die tweede plek voor mense. Wat ‘n gawe!!

    Baie sterkte en liefde.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s