19 Junie 2014

een jaar

Vandag ‘n jaar gelede het ek gehoor ek het borskanker. Baie harde nuus om te kry en nog moeiliker om oor te dra. Verlede jaar op hierdie dag het woorde soos lampektomie, herseptin, limfedeem en metastase nog nie eens in my woordeskat bestaan nie. My eerste reaksie was dit blitsvinnig uitgehaal moes word. Amper soos die 3 sekondes reël vir kos wat op die vloer geval het! Dis seker maar self-beskermende ontkenning, maar toe die aarde ophou draai het, het dit na ’n hoogs ’fixable’ situasie gelyk. En ek is ’n kortpad-vatter-sake-in-eie-hande-neem ‘fixer’ – nie ’n slagoffer nie. Of ek sou leef, hoe ek sou funksioneer en hoe ek sou lyk, het eers later deur my kop geflits.

Die volgende dag bak ek pannekoek by die skool se fondsinsameling. Ek werk saam met niemand met wie ek my nuus kan deel nie. Ek voel histeries in my binneste, bewerig en ek mors baie. Ek het tot vandag toe ’n merk op my tekkie waar die rou deeg ’n kol gemaak het. Ek wil nie my ‘badge of honour’ afwas nie, want ek kan nie glo ek was die dag daar op my pos as flukse skool-mamma nie. Ek was desperaat om vir die kinders te wys alles is normaal en reg en ek het geweet daar lê tye voor waar ek nie die model mamma sal kan wees wat hulle verdien nie. Ek weer nou om betrokke te wees is ’n voorreg. Niemand kan verlore tyd terugkry nie.

Dis ongelooflik hoe maklik dit geraak het om ’n mediese ekspert te raak met behulp van Dr. Google. Ek wou egter eers met ’n dokter praat oor my spesifieke situasie. Ek het nie belang gestel in ander lande se statistieke en bekendes en onbekendes se mooiweer voorspellings of doemprofesieë nie. ’n Goeie vriendin wat ook ’n pad met dokters stap het my aan albei skouers gevat en my gemaan dat dit nou my werk is om die beste raad en sorg te kry. Net daar het ek eienaarskap geneem van my eie mediese “file” en gekies om ’n stukkie beheer terug te neem wat die nuus kom wegruk het. Dit was nog nooit belangriker as toe om my te omring met positiewe, mense vol energie en humor nie.

Ek het op een of twee blogs afgekom waar ek myself betrap het dat ek vinnig tot by die einde blaai om te sien of daar ’n gelukkige einde is! Die meeste het oor jare gestrek. Jare van behandelings en operasies en byna almal het na ’n groot gekla geklink. Newe-effekte lyste en emosionele verdriete in kalender vorm! Toe my man voorstel dat ek ook ’n blog moet begin, was my eerste gedagte dat dit dan tog asseblief net nie ’n somber, depressiewe klagteblog moet wees nie. Dit blyk toe een van my lewensbaadjies te word. Ek kan dit regtig as ’n uitstekende vorm van terapie aanbeveel. In die chaos verwoord en orden jy jou miljoen gedagtes en elkeen se kosbare kommentaar dra jou op maniere wat geen gesonde mens sal verstaan nie. ’n Jaar later staan ek steeds verstom as ek hoor hoe die blog ander bemoedig en troos. Dit was eintlik net een van ons praktiese reëlings vir die maklike verspreiding van nuus, ’n uitlaatklep wat die kinders nie sou ontstel nie en ’n boekstawing van gebeure vir as hulle groot genoeg is om te verstaan. Dat enige iemand belang sou stel om deur al die drama te lees – bly vir my ’n wonder!

Niks kan mens voorberei vir slegte tye nie, maar eintlik het alles in my lewe tot op daai oomblik, my voorberei. Richard Branson sê jy moet dadelik ja sê vir ’n nuwe werk en later gaan leer hoe om dit te doen. Dis dieselfde met enige uitdaging. Niemand is dadelik gereed vir ’n onbeplande uitdaging nie – maak nie saak of dit met vonkelwyn of begrafnis-tee gepaardgaan nie. Die kuns van die lewe lê in hoe vinnig jy ’n nuwe prentjie kan skets en in die nuwe werklikheid begin leef. Ek het myself nooit as besonders aanpasbaar of buigbaar gesien nie, maar dis een van die eienskappe wat jy baie gou aanleer.
Nou ’n jaar later is ek nie meer dieselfde persoon nie. Ek ken nuwe reuke, smake, mense, gevoelens, pyne, waardes, verwagtings en vrese. ’n Nuwe wêreld van belewenisse kan ’n mens nie onaangeraak en onveranderd laat nie. Tog is ek ook steeds presies dieselfde mens en ons huwelik en lewenstyl is ook nog dieselfde. Dis net dieper en ryker en vol dankbaarheid.

Vanoggend is dankbaar om te kon oefen saam met wonderlike vrouens wat my soos ’n kring susters verwelkom het. Ek het heerlik saam met beste vriendinne gekuier, my ma hulle is oppad vir vakansie by ons!  Ek kon ook my oudste vriendin se babatjie gaan verwelkom!  My baba het sy ‘dummy’ opgegee en ryg die mooiste sinne vol selfvertroue uit vir enige iemand wat wil luister. My Graad 1 seuntjie blom en is baie trots daarop dat sý mamma hulle revue afrig. Vir die eerste keer sedert universiteit werk sekere maag- en rugspiere weer en moet ek choreografie uitwerk! Soos verwag is my immuniteit nie my grootste bate op die oomblik nie, maar ek kan agterkom dat my skouerspiere my nie meer na sterk drank dryf nie! Daar is elke dag groei en verbetering in beide my liggaam en gees (en hare!).

Dankie vir almal wat steeds ondersteun en omgee. My naastes en ek is steeds besig om soos Tsunami slagoffers ons nuwe lewens te herskep en ontdek, maar ons is baie gelukkig, verlig en tevrede. Dankie vir die afgelope jaar se liefde, gebede en krag waarmee julle ons sterk gemaak het. Ek sou nie ’n jaar gelede kon droom waar ek nou is nie!

recovery

 

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

3 Responses to 19 Junie 2014

  1. ellaukblog says:

    Wel wel Annabelle, hierop kan ek min se. Ek het ‘n reuse bewondering vir jou en vir die hope inspirasie wat jy tsv jou eie seerkry uitgedeel het

  2. gerba de klerk says:

    So bly hierdie jaar is ook verby, sonder so min skade! Die bewondering/verwondering vir jou groei by di dag! Lekker kuier saam met mamma e pappa! Ek hoor dan glads dat die seuns gaan oorslaap! So groot! Drian vertel “hy is n big boy”,
    woordjies wat hy by engelse crèche optel Ek tel darem self my slapies af Oppad na hulle toe Lekker aand en baie liefde groete tuis xxx

  3. Hetta Baard says:

    Sjoe,Annabelle,jou talent om te toor met woorde,is werklik iets besonders! Dankie dat jy dit ingespan het,nie net as terapie nie,maar om ander te bemoedig en oe oop te maak vir elke dag se genade wat mens ontvang en so as vanselfsprekend beskou! Alle seen vir jou en jou gesin vir die pad vorentoe. Bly jy kan terugkyk en God se genesende hand sien.Liefde

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s