Pieter se klaaglied

_AKP8386

Ek kry hierdie hartroerende brief terwyl my man in Dubai werk vir ’n week. Nog nooit het my (onromantiese) ingenieurs-man my so laat huil nie! Ek dink soms dis makliker om die pasiënt, as die pasiënt se lewensmaat te wees.

Hi Lief,

Ek dink al baie lank daaraan om iets op jou blog te skryf oor my ervarings. Ek het al vantevore begin, maar dan elke keer uitgechicken.

Kanker is sleg!

Hierdie brief gaan net oor die slegte aspekte van kanker. Dis my klaaglied.

Wat doen jy as maat van iemand wat kanker het? Ek weet nie! Daar is eintlik net 1 ding wat jy kan doen, en dit is wat ook al nodig is in die oomblik. Jy kan nie jou maat gesond maak nie. Dis selfs erger…jy kan nie werklik verstaan wat jou maat dink en voel nie. Jy kan hulle nie help om vinniger gesond te word na chemo nie, jy kan nie die ongemak wat die bestraling veroorsaak wegneem nie, jy kan nie haar tyd terug gee wat sy aan behandeling verloor nie.

Dit is baie hartseer want jy begin dink aan die moontlike verliese wat jou gesin kan ly. Jy besef hoe alleen en kwesbaar jou maat is. Jy dink aan al die mooi dinge in jul lewe. Dit veroorsaak dat jy werklik besef hoe lief jy jou maat het. Dis hartseer dat so ‘n groot gebeurtenis nodig is om daardie werklike diep, egte, innige liefde so duidelik op jou hart te druk, mens sou glo dat al die mooi dinge in die lewe dieselfde doen, maar dit werk nie so nie…behalwe miskien as jy kinders kry.

Jy besef dat jy die meeste van die tyd gedurende behandelings maar net jou maat moet uit los sodat sy kan herstel. Dis baie maklik want die res van die huishouding moet aangaan. Jy sit haar in die bed, los die pille en ‘n glas water langs haar, sit die baba monitor aan sodat jy kan hoor as daar ‘n probleem is. Maak die deur toe en gaan aan asof niks gebeur het nie, want die res van die gesin moet aangaan. Dit is baie hartseer, want nou is sy so alleen. Selfs al blog Annabelle en verwerk al hierdie goed op verskeie maniere dink ek daar waar sy werklik alleen is, waar dit stil is, in haar gedagtes, daar tussen haar en God kom al die vrae wat sy te bang is om andersins te verwoord. Ek dink as iets soos kanker in jou is, is jy vir altyd gebreek, selfs al is jy in remissie. Jy sal nooit weer, nie daaraan kan dink nie, jy wag dat dit terug kom, al sê jy aan die wêreld dat jy glo dit nie sal terug kom nie.

Wat dit verder baie hartseer maak is dat dit jy nie ‘n keuse het nie, jy moet maar inval by die nuwe plan. Een van die gevolge is dat jy noodwendig bietjie onttrek van jou maat. Jy moet, want sy is siek, daar is lang tye waar sy alleen moet worstel en wag en waar jy niks kan doen om haar te help nie, maar jy kan baie doen om die res van jou gesin te help.

Nou het jy hierdie dilemma van innige liefde wat jy nooit beter verstaan het as nou, maar jy moet onttrek omdat jy nie die persoon nie so baie kan help as wat jy wil bydra om die omstandighede te verbeter nie.

Aag, en nou kan ek so aanhou kla oor hoe jy nou na die tyd weer moeite moet doen om nader te kom, maar daar is nie genoeg tyd nie want dis winter en ons maak beurte om siek te wees. Graad 1 met al sy eise, al die goed in en om die huis wat agterweë gebly het en nou aandag kort, ens.

Die laaste ding voor ek dalk weer beter sal voel of iets positiefs kan sê is die effek wat die besef van ons broosheid op ons het. Annabelle het ekstra aktiwiteite om haar gesondheid te verbeter, jy worstel oor die lewe en prioriteite, en moontlike dinge wat jy nou kan doen om moontlike toekomstige terugslae beter te kan hanteer, en so bly jy net aanhou worstel oor goed wat eintlik in die verlede moet wees.

Een van my gunsteling verhale in die Bybel bly die van Job. As jy Job lees kan jy maklik vashaak met die vraag oor hoekom dit alles met hom moes gebeur het, maar teen die einde kom daar nie eintlik ‘n antwoord nie. Wat gebeur is dat God eintlik vir Job vertel dat dit nie saak maak nie, dat ons nie oor al die slegte dinge moet kla nie, maar dat daar iets anders, iets groters aan die gebeur is. Ons ken almal die Bybel teks en veral die liedjie…”soek allereers die Koninkryk van God, soek na die wil van die Heer”… en ek dink ons vergeet die boodskap. Daar is ‘n Koninkryk wat ons moet “soek”, en as jy verstaan wat Jesus vir jou gedoen het, het jy daai Koninkryk ontdek, maar dan is dit so maklik om weer vas te kyk teen die aardse dinge rondom one. Dit laat my wonder of ons nie maar almal lou is nie, want al het ons die Koninkryk ontdek begin ons weer so baie te fokus op dit wat om ons aangaan. God het ons gemaak na Sy beeld. Hy is die beeld van Liefde, en ons kry elke dag die kans om lief te hê. Dis so moeilik om dan te vergeet van die swaarkry en te fokus op dit wat kom, maar ek dink dis OK, ek dink dit wys werklik hoe lief jy iemand het. Dit maak jou nie lou nie. God verduidelik aan Job dat Hy alles gemaak het, dat Hy in beheer is, en Sy verduideliking is baie geloofwaardig.

Ek is bly ek het vir Annabelle en die kinders. Ek is bly ek kan my liefde met hulle deel. Ek is bly hulle is lief vir my. Ek is bly dat hierdie liefde nou, na al ons ervarings, so sterk gegiet is. Ek is bly God is in beheer. Ek is bly dat ons die kans het om te leer oor liefde, om te leer oor verhoudings, om te leer oor God.

Annabelle, ek is baie lief vir jou. Dankie dat jy my vrou is. Dankie dat jy so sterk is. Onthou, ek sal altyd daar wees vir jou, ongeag wat gebeur. Pieter

 

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

5 Responses to Pieter se klaaglied

  1. Neels says:

    Baie diep vir ‘n ingeneur! Baie dankbaar vir my skoonseun se wonderlike ondersteuning van sy gesin. Lief julle.

  2. ellaukblog says:

    Pieter jy het nou hier iets geskryf wat ek wens ek kan vir met ‘n Engelse vriend in jou presiese taal deel. Baie dankie vir die anderkant van die storie.

  3. louisa says:

    Hoe kosbaar is dit!!!! Baie dankie vir dievrymoedigheid om dit te deel…Julle LEWE ‘n onbeskryflike getuienis!

  4. Marena Lotriet says:

    Baie kosbaar dat ons hierdie mag lees… op julle heilige grond mag staan … Dankie Pieter en dankie Annabelle vir wie julle is en dat die trane nou sommer vryelik kan loop omdat die lewe en mense kosbaar is…

  5. gerba de klerk says:

    Ai my kind, julle is die wonderlikste ou gesinnetjie, waarby ons almal soveel kan leer! Sterkte vir jou en Pieter, Albert e klein Richter Sterkte met die winter wat voorle! Ons kry bibber koud! Liefde Lekker slap Tannie Gerba xxx

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s