Die lewe na kanker

So dankbaar om oor die titel te kan ‘blog’. Die afgelope maand was so ongelooflik lekker. Ek het begin met water aerobics en dit het de laaste nekspasma versuip! Met die afry Kaap toe het die veiligheidsgordel nog geskaaf waar daar skade van die bestraling oor was, maar met die terugrit was daar geen ongemak meer nie. Ek het ook geen chemo- of hormoon pil newe effekte om oor te berig nie.

Die vakansie in die Kaap was ongelooflik. Dit was heerlik om by oupa en ouma te kuier en ons huisie wat letterlik op Blouberg Strand was, het ons moeë siele verkwik. Die rietdakhuis was een van die eerste huise daar en is as nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Die houtvloere, antieke Kaap Hollandse meubels en kuier stoep met ’n kaggel en rakke vol boeke het die perfekte nessie geskep vir rus en herstel. Pieter het selfs opgemerk dat die plek enige skrywer sal inspireer om iets te skep en hy voel ons moet – selfs al is dit net ons naam op ’n stuk papier! Ek het elke oggend vroeg Laurika uitgesaai oor die strand vir my kinders en Pieter het “Berg Tafel” soos Richter dit genoem het afgeneem.

Daar was ook ’n lekker alleen Maandagoggend saam met Pieter vir vonkelwyn en nougat by J.C Le Roux en ’n draai by Brenaissance en Beyerskloof. Ons het ’n heerlike Barnyard afspraak gehad met die geliefde Juanita Du Plessis en haar dogter terwyl die kleinkinders by oupa en ouma gaan slaap het. Nog hoogtepunte was die fotosessie op sprokiesmooie Lourensford, die Steam Punk Truth coffee shop, Die kasteel, Tuine, parlement, museum, aquarium, sonsondergang op Leeukop, ontbyt op Skilpadvlei, teetyd op Rheebokskloof, Kirstenbosch, fantastiese vis en chips by Muizenberg.

In die mooie Karoo slaap ons in Colesberg en die gasvrou oortuig ons om nog ’n halfuur terug te ry na Gariep dam wat oorloop. Wat ’n “eenmaal-in-’n-leeftyd’ ervaring! Soveel water, krag en gedreun – ’n ware skouspel! Ons eerste Sondagoggend by ouma-hulle besoek ons Bergsig NG kerk en luister na ’n besondere inspirerende preek oor lig en sout wees. Die tema blyk ons gesin te agtervolg sedert die Scheeperse vir ons Juanita se “Wees lig” CD gegee het! Twee dapper mans se getuienisse het ons ook verras en geroer.

Ek sal nog vir die res van die jaar terugdink aan my ma se melktert en pa se roosterkoeke, tannie Nella se appeltert en al die vreemde geure, kleure, smake en mooi goed van die middestad, die waterfront se voortreflike wafels, die lekker klere-inkopies saam met my ma en pa en die heerlike stoepkuiers voor die dreunende branders tot laataand. Kaapstad was vir my so vertroostend bekend, maar ook eklekties vars, modern en inspirerend. Geen wonder dit het my vriendin Debbie beweeg om modeontwerp te begin studeer nie! Die stad is ook nie verniet deur Times magazine aangewys as die nommer 1 keuse vir toeriste nie. Ons het minstens 4 filmspanne teëgekom wat besig was om advertensies te skiet en mens kon die energie en kreatiwiteit sommer oral aanvoel.

Die einde van Maart in die Boland, het sy eie besonderse bekoring. Die soetste hanepoot word nog geoes en die meeste bome en wingerde se blare begin verkleur in die rykste herfs skakerings. Dis die tyd en plek wat liedjieskrywers in woltruie met soetwyn laat dig. Ek voel nostalgies oor waar ek grootgeword het, maar ook geseënd om dit alles weer ’n slag te kon ervaar en vir my gesin te kon gaan wys.

Tuis het my Kleingroepbediening ’n heerlike Bybelse ete gehou en ek en Albert het deelgeneem aan ons eerste gesamentlike sang produksie. Wat ’n voorreg om op Palmsondag saam met hom op die verhoog (trappe van die tempel) te kon staan saam met ’n wonderlike koor, pragtige dekor, ligte en mooiste musiek. Ek voel so verlig om nie meer uit te mis op enige iets nie!

Die mense se reaksie op my kort kapsel is steeds vir ons ’n bron van vermaak. Een dame het agter ons gesit in die kerk en hardop gewonder of Pieter sy vrou gelos het vir iemand anders! Ek moet erken dis baie gerieflik om in ’n kits padwaardig te wees, maar laat daar geen misverstand wees nie – ek kan nie wag om weer ’n bolla te hê nie!

Die lewe na kanker is hoopvol en energiek. Ek kan nie onthou wanneer laas ek so goed gevoel het nie. Dis moeilik om tydens chemo te dink dat jy kos en sport ooit weer so uitbundig sal kan geniet. Nou is alles ekstra lekker en mooi. Ek sien kans om enige iets aan te pak en is opgewonde oor wat alles voorlê saam met die kerk en skool.

Volgende maand gebeur die eerste toetse en daarna word die port uitgehaal. Intussen verlustig ek my in my nuutgevonde vryheid, tyd en lewenslus. Dis asof ’n lig aangeskakel is en die toekoms lê oop voor my. Ek dink baie mense se doelwitte en prioriteite word deur iets dramaties soos kanker verander, maar vir my het dit nie. Ek wil steeds net meer toegewyd en passievol al my ou liefdes uitleef – die M’e: moederskap, mense, musiek en alles wat mooi is soek! Laas jaar was kanker s’n. Hierdie jaar is myne.

Hier is die eerste paar foto’s wat beskikbaar is na die fotosessie saam met Joanette Kruger

20140415-094624.jpg

20140415-094635.jpg

20140415-094642.jpg

20140415-094650.jpg

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

8 Responses to Die lewe na kanker

  1. Marlize Oosthuizen says:

    Prys die Here.

  2. Neels says:

    Ons is diep dankbaar vir alles wat ons kon deel in die Kaap. Baie dankie vir die kuier. Lief julle.

  3. ohna reyneke says:

    Wat ‘n heerlike hoofstuk om te lees! Mag die pad vorentoe net met rose besaai wees!!

  4. Debbie says:

    Jy is te oulik. Dankie vi jou nuwe blog. Sjoe, die foto’s is baie mooi, regtig iets anders. Ek se nogsteeds, jou kort hare pas jou baie mooi.

  5. Marena Lotriet says:

    Kosbare, kosbare foto’s. So lekker gelag oor Pieter en sy “nuwe vrou”. Julle is ‘n PRAGTIGE gesin!!

  6. Gerba says:

    Liewe Annabelle Jy lyk so mooi met die kort hare – soos Annie Lennox! Bly julle het die skone Kaap so geniet! Lekker aand vir julle!! Groete tuis xxxx So dankbaar dit gaan goed met jou/julle! xxx

  7. Rina says:

    Liewe Annabelle, ek hoor van jou deur ‘n niggie van my man wat ook die Pad gestap het. Ek en my man hou jou en jou gesin (familie) vas in gebed met die liefde wat net God in ons harte vir mekaar kan gee. Jy is ‘n ongelooflike inspirasie vir soveel ander wat hierdie pad al moes stap en steeds stap (soos my eie broer op die oomblik). Ek sal jou nie vergeet nie en jou op jou pad volg.

  8. Hetta Baard says:

    Sjoe,soo lekker om jou storietjie te lees!! Meisiekind,jy het n talent om te toor met woorde! Dankie dat jy ook in die afgelope blog so opreg eerlik al jou gevoelens en belewenisse op skrif kon stel vir ons om te lees en te geniet! Ek weet presies hoe jy voel….asof n nuwe lewe en vryheid begin het! Ek het n geestelike kaartjie wat sê: Don’t Quit! Wel,jy het vasgebyt!
    Dankie dat jy in Jesus die stryd gestry het… Mag jou pad vorentoe vol vreugde,vrede en goeie gesondheid wees! Lief jou!

    NS. Sien uit na jou vlg uitgawe….

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s