Dis klaar

Die laaste week van bestraling sal onthou word vir vla en jellie (dis al wat kon afgaan in my toegeswelde keel), brandende vel en spier spasmas, mangelontsteking en ’n voet sweer (Richter), ’n gebreekte arm (Albert) en ’n oorwerkte, moeë pappa wat alles bymekaar moes hou. Die aarde het toe nie ophou draai toe ek met my ultra kort kapsel die strate ingevaar het nie en ek het selfs gewoond geraak aan my bra-lose status en onooglike plakkers. Dertig dae se wagkamers, ysige radio aktiewe sale en ongemaklike, blootgestelde lê-posisies is verby. Buiten die port se uithaal, is hulle nou klaar gekarring aan my lyf.
So wat doen kankerpasiënte aan die einde van 9 maande se behandeling? Ek weet nie wat ander doen nie, maar vir my was dit heeltemal anders as wat ek verwag het. Daar was nie vlieënde sjampanje kurkproppe en ’n landsvlag soos na jy die hoogste berg uitgeklim het of konfetti en trompetgeskal as jy by die troue uitstap nie. Daar’s geen staande ovasie of dankbare, juigende, bruisende lewenslus wat jou laat verbeel jy kan ’n groot simfonie of poëtiese kunswerk skep nie. In my geval was daar net trane. In pas met die afgelope drie weke se reën – het ek nog nie ophou huil na my laaste bestraling vanoggend nie. Daar was geen brullende rock-ster oomblik nie. Ek bewe, snik en ween woordloos en rigtingloos, soos ’n drenkeling wat uit die water gelig is na ’n storm op see. Soos iemand wat in die woestyn verdwaal het en verskroei en beseer deur weldoeners opgelaai is.
Baie dankie vir elke weldaad, gebed, geskenk, opoffering, besoek of boodskappie. Julle het ons gedra op maniere wat julle eers sal verstaan as julle self deur vuur moet gaan. Dankie Pieter en my seuntjies wat my grootste motiveerder in die lewe is.
Hier onder is ’n foto van Ludwig se “Reik na Herstel” roos. Baie dankie Avis vir die geskenk wat nou so simbolies blom op die einde van my reis.
Vir die wat gewonder het – ek is nog lank nie klaar geblog nie. Hou hierdie spasie dop vir gesinsfotos by die talentvolle Joanette Kruger en vertellings van ons Kaapse vakansie. Later die week begin ek met die vyf jaar estrogeen blokker en ek is nogal bekommerd oor ’n lewe sonder estrogeen. Die blog se aard sal nou seker verander in ’n kos/kinders en kreatiewe kuberhoekie. Enige voorstelle vir ’n nuwe naam?

20140311-091702.jpg

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

6 Responses to Dis klaar

  1. Neels says:

    Ons huil en juig saam met jou en in die gees plant ons die vlag bo-op jou berg. Baie bly dis klaar. Baie lief vir jou.

  2. Tarina Vink says:

    Ek is so bly vir jou dat dit verby is!

  3. Gerba says:

    Annabelle, so bly dit is verby!! Jy was n ster! saam met jou gesinnetjie Ai, dat Boeta nou
    sowaar n gebreekte arm het. Ouma is natuurlik n voorbeeld, maar nou ja …… Lekker dag vir julle Hier waai die wind vir die 1e span. Wat van Annabelle se sonskyn hoekie/bloggie! Jy het eintlik baie sonskyn in ons lewens gebring, deurdat ons uitgesien het na jou skrywes en jy was so dapper – kan sowaar nie glo dat 9mde verby is nie. Jy kon intussen swanger geraak het en nog n baba gehad het! Wat dink jy daarvan!! ….. Onthou, nat doeke, bottels ens. is nie maklik nie …..
    Jy moet nou kies! Liefdegroete xxxxx

  4. ohna reyneke says:

    So bly als is nou verby!! Sal nie ophou om vir jou te bid nie! Liefde tannie Ohna xxx

  5. Hetta Baard says:

    Annabelle-kind! Wat n voorreg om dmv jou blog die pad saam met jou te kon stap! Jy’s n ster! Dit was so lekker om jou opreg-eerlike vertellings te lees en te besef hoe goed God vir die mens is,deurdat Hy nooit net die beproewing stuur nie,maar ook die uitkoms…Bly altyd so positief,en moet asb nie ophou skryf nie!! Lekker kuier by Mamma-hulle.Julle almal verdien n heerlike bederf-kuier-en ruskansie. Liefde Tannie Hetta

  6. Marena Lotriet says:

    Annabelle. Regtig dankbaar saam met jou, al is dankbaarheid nie noodwendig die woord wat jou gevoelens op die oomblik die heel beste beskryf nie. Dankie dat jy ons as reisgenote saamgeneem het tot hier toe. Ek is so bly die “tydskrif” gaan nie van die rak af verdwyn nie, want ek put werklik vreugde uit hoe jy jou woorde agtermekaar inryg. Baie liefde vir jou.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s