Liewe Graad Een ouer en kind

Liewe Graad Een ouer en kind

Welkom in die laerskool.  Die regte laerskool – nie die speel-speel graad R nie.  As jou herinnering aan Juffrou Mary Ann se Sub A klassie van ‘84 jou verwagtings kleur moet jy dadelik “reboot”.  Hierdie is ‘n nuwe reis wat begin op ‘n ander skip – ‘n vinnige een in ‘n stormagtige see.  Hierdie brief is vir myself om my te herinner om dadelik my varkies agter mekaar te kry, om eendag te onthou hoe dit was en te sien hoe benoud ons was vir iets wat eintlik nog so maklik en beheerbaar was.  Dit is ook vir almal wat wil weet hoe dit gaan, eendag wil lees hoe dit regtig was en vir die ou ervare hande wat lekker sal lag vir hierdie onervare, oorweldigde graad een ouers.  Laastens is dit ook om dankie te sê vir almal wat gehelp het om ons oudste tot hier te kry.  Maaike en Isabelle het ons en hom so mooi voorberei vir elke liewe aspek en ons sal julle stempel op sy menswees vir altyd waardeer.

Albert se skoolloopbaan het afgeskop in een van die besigste weke van die jaar.  Dis die enigste maand wat my werk by die kerk regtig eise stel, my bestraling moet gereël word, atletiek, oueraand, skool braai, heelnaweek seminaar, kinderpartytjie en my bediening se bemarkings Sondag.  Voeg daarby erge Chemo “dementia”, ’n hittegolf en ’n berg huishoudelike pligte en jy kry die prentjie wat elke ma in Januarie ken:  ‘n Tollende Turkse Derwisj, ’n Ripley’s Believe it or not goëlaar van messe, vuur en yskaste (met een hand en een voet). Ek weet nou agter elke skoon, geklede, gesonde, opgevoede skolier staan ’n ma wat se kop draai van al die lysies, datums, voornemens, raad, vrese en verwagtings.

Juffrou Theresa is ’n wonderlike, liefdevolle en ervare juffrou en ons is baie verlig dat ons kosbaarste besitting in uiters bekwame hande is.  Sy laat my net besef dat roetine, kommunikasie, ’n gelukkige huwelik en koesterende omgewing met gesonde eet- en leef gewoontes – net die absolute minimum vereiste is vir ons kind om te vorder.  Sy volle potensiaal hang af van soveel ekstra aandag en toewyding.  Daar is nie ’n fisieke of emosionele ontwikkelingsvlak waaroor ons, ons nie gaan bekommer nie.  Ek haal my hoed af vir elke enkel ouer of mammas wat voltyds moet werk.  Skielik is deelwees van ‘n gemeenskap baie belangrik.  Deur die genade ken ons en ons ondersteuningsnetwerk darem meer as 26 woorde – aldus Nataniël se waarneming in sy jongste Sarie rubriek (hooriemyoutjekaaiding!).  Dit gaan egter al ons fokus kos om Albert geletterd, gemanierd, higiënies, gebalanseerd, gekoördineerd en doelgerig te kry vir die toekoms.  Ons sien nietemin entoesiasties uit na sy skoolloopbaan en is baie gelukkig oor waar Albert is. Ons is ook baie dankbaar vir die wonderlike vriendekring wat ons reeds in die skool het saam met wie ons nog baie wil kuier en werk.  It takes a village to raise a child…

So hier is ’n opsomming van Albert se eerste week.  Daar was net opwinding by ons almal – die vreemdheid van laas jaar is darem al afgeskud.  Albert pas skaars in by die kort tafeltjies en is baie beïndruk deur juffrou se tegnologie.  Ek en buurvrou het ontdek haar jongste en Albert is in dieselfde klas so ons het reeds ’n saamryklub begin.  “Carpool” soos die regte Amerikaanse ‘soccer moms’. ’n Onbekende pragtige Mila (hoekom nie eerder buurdogtertjie nie?) het op dag 3 ’n ‘Christmas cracker’ ring ontvang vir haar toekomstige rol as die volgende Mevrou Lombard in Albert se lewe.  Sy was verantwoordelik vir die eerste bloedvlek op die spierwit skoolhempie (hoe onprakties vir seuns?!) deur Albert op ’n gevaarlike plek te laat afgly.  Reeds die eerste dag het hy nonchalant verklaar dat hy nou lees.  Die eerste huiswerk is ’n boekie waarin “Dit is …” op elke bladsy verskyn.  Waar is Boet en Saartjie, dik vetkryte, die sandput en wanneer kom die onderwysers huisbesoek doen? Albert is mal oor skool en sy juffrou en is tussen ’n klomp maatjies van vorige jare. Die skoolklere en tas laat hom vreeslik deftig voel.

Aan my vriendinne wat nog hier moet deurgaan – jy gaan skielik baie oud, onvoorbereid en sonder beheer voel.  Ek wou vir Albert verduidelik hy moet vir my luister, want ek klink al soos ’n plaat wat vashaak, maar toe besef ek hy sal geen idee hê waarvan ek praat nie!  Skool is ’n voltydse werk vir ouers ook en ek is dankbaar om te leer by die ouer mammas.  Jou leë ure gaan nou gevul word met huiswerk, wiskunde en taal begrippe aanleer en oefen en allerhande aktiwiteite wat help soek na sy talente, die ontwikkeling van sy volle potensiaal en bowenal karakterbou.  Dis bybly, aandag gee en kophou soos ’n dronk weeluis. Om in beheer te wees beteken soms om beheer oor te gee.  Die beste raad wat ek gekry het, was van die Eecks  – jy kan jou kind se skooljare netsowel geniet saam met jou kind, want dit gaan in ’n oogwink verby en dan verlang jy terug!

control

Liefste Albert as jy eendag hierdie lees – mamma en pappa is so trots op jou en weet jou skoolloopbaan gaan ’n baie spesiale en opwindende tyd in jou lewe wees.  Ons geniet jou borrelende entoesiasme en dis ‘n avontuur om te sien hoe jy elke dag slimmer en sterker word.  Weet dat ons van dag een af baie hard probeer om dinge vir jou so maklik, lekker en gesond as moontlik te maak.  Ons glo en hoop dat jy eendag sal terugkyk na gelukkige kinderjare waarin jy gevorm is tot die suksesvolle man en eggenoot wat jy eendag wil wees. Baie liefde Mamma en Pappa (en ou Richtertjie wat geduldig oral saamsleep en ewe hard “cheer”!)

albertloods

 

 

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

5 Responses to Liewe Graad Een ouer en kind

  1. Neels says:

    Twaalf jaar is baie kort. Sterkte!

  2. Tannie Gerda en oom Conrad says:

    Liewe Annabelle
    Jy skryf so mooi en onderhoudend – mens wil aanhou lees. Net om te lees oor hierdie wonderlike dolle gebeure, laat my kop draai. Baie sterkte vir hierdie nuwe ervaring. Wat ‘n voorreg en seën is dit nie!! Tannie Gerda

  3. Ek kan sommer sien Albert gaan `n groot plesier in die Juffrou se klas wees 😉

  4. Gerba says:

    Sterkte Annabelle Ek kan sommer nou al sien dat jy n wonderlike avontuur saam met Albert gaan beleef!! Sien jy nou hoe n vreeslike belangrike werk dit is om n tuisteskepper te wees!! Jy het eintlik niks tyd vir IETS ANDERS NIE!! Lekker aand vir julle. Ek gaan darem weer Donderdag vir n paar dae by Sus hulle kuier. Liefdegroete tuis en soene vir die seuns xxxx

  5. Marena Lotriet says:

    Nee, kyk, ek dink jy moet nou “lugtyd” in Sarie kry. Jy skryf ongelooflik. Elke gebeurtenis, elke emosie, elke proses en elke aksie so kunstig en raak verwoord! Dit is heerlik om te lees. Natanie”l se rubriek het GROOT kompetisie. Jy maak my week. Was lekker om ‘n paar oomblike by die kerk saam met jou te kon wees en sing die naweek. Jy bly vir my ‘n insprirasie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s