Kersfees Chemo

So breek die langverwagte vakansie aan, maar ons het net ’n blaaskans langs die swembad tuis. Om “Willows Resort” perfek af te rond koop ons vroeg in Desember elkeen vir mekaar ’n gemaklike lê stoel as kersgeskenke. So tussendeur weeklikse chemos kry ek en die kinders darem tyd vir geskenke, versierings en kerskoekies.  Ons doen ekstra moeite met die 5 Advent Sondae en probeer ons eie tradisies spesiaal maak om te vergoed vir die verlies aan “Kersfees op Strandfontein” soos dit hoort.  Die goeie nuus kom vroeg dat ek waarskynlik voor Kersfees kan klaarmaak, maar ek sal eers op die 23ste weet of ek op die dag kan kry of nie.  Reisplanne is steeds uit aangesien ek maar moeg en goor voel so aan die einde van die 6 maande se afbreek van die gestel.

Sewe-uur Maandag  oggend laat toets ek my witbloed, kom pak my dag se kosblik en handwerk en gaan wag by onkologie vir nog twee ure voordat ek uiteindelik begin met my heel laaste chemo en herseptin!  Ek kry min tyd om regtig opgewonde te wees, want oorkant my sit ‘n baie verliefde egpaar wat ooglopend sit en afskeid neem van mekaar.  Sy is 2 jaar terug met borskanker gediagnoseer en daarvandaan was dit kortpad tot by kliere in haar nek en terminale breinkanker.

Die volgende oomblik sien ek my pa by die chemokamer se ontvangs!  Ek dog ek hallusineer na my antihistamien en kortisoon! Daar stap my ma en pa ewe pragtig in as my grootste Kers verrassing nog.  Ek het net in trane van blydskap en ongeloof uitgebars.  Niemand buiten ’n paar Kapenaars het geweet nie.  Naby familie is almal geflous met liegstories wat hulle al sedert die vorige Woensdag versin sodat almal moet glo hulle is steeds by die see.  Intussen het hulle reeds einde Oktober die vliegkaartjies bespreek, ‘n kar gehuur en plek in ’n gastehuis gereël om alles vir ons maklik en verrassend te maak!  Nie net kon hulle nou die ellelange laaste chemo dag saam met my spandeer nie, maar ook ’n wonderlike eerste Pretoria Kersfees.  Selfs die Australiërs is mislei en bedrieg om te verhoed dat kleinsus ’n skewe letter insinueer.  Besbewaarde geheim in ons familie se geskiedenis!  Die kleinkinders en Pieter se reaksie toe hulle by onkologie instap en ouma en oupa daar aantref, was ook heerlik om te aanskou.  En het ons nie lekker gekuier en geëet nie!  Pornografies lekker soos tannie Gerda sou sê!

mandela quote

Die chemo susters kon toe my sertifikaat oorhandig en met my ma-hulle daar het dit vir my meer glorieryk as selfs my gradeplegtigheid gevoel!  Ek is so dankbaar dat my ma en pa in al die groot oomblikke van my lewe kon deel.  Regdeur van ons verlowing wat ons ook op Kersdag vier tot by ons kinders se geboortes, doop en ook hierdie jaar se ellende en vreugde – selfs al bly hulle aan die ander kant van die land.

So aan die einde van die jaar tref die skok my opnuut dat ek die jaar kanker gekry het.  Ek kan dit nie glo nie.  Miskien moet ek nou nog deur al die fases van rou gaan – skok, ontkenning, woede, hartseer aanvaarding.  Miskien gaan mens elke nou en dan weer van vooraf deur almal.  My bestraling en 5 jaar van pille en gloede lê nog voor, maar die grootste ontwrigting is nou eers klaar.

Ek dink die hele tyd aan vriendin Hannie wie se oorlog weer van vooraf begin.  Jy was die eerste persoon wat ek gebel het en wat my die hele tyd gedra het.  Weet net jy is nie alleen nie.

In teenstelling met al my vorige blogs se mymeringe, slimgeite en filosofiese kwinklslae, is ek nou totaal “blank” soos die swartbord in my kombuis.  Niks om te sê, niks waaroor ek wil dink nie.  Die einde van chemo is amper ‘n antiklimaks.  Miskien is dit net ’n bietjie Oujaar depressie en Kersfees ‘hangover’.

Ek verlaat my daarom maar op my kinders se fliek:  Pochahontas sê jy kan nooit twee keer in dieselfde rivier trap nie.  Die water vloei heeltyd weg.  Ek voel so oor die lewe ook – die lewe na kanker.  Selfs al moet ek weer deur  ‘n 2013 gaan.  Dit is later – miskien dieselfde rivier maar nuwe water.  Vir nou is ek oraait.  Gesond en gelukkig met my bekkige twee jarige, slim sesjarige en geduldige geliefde.  Al wat verander het, is dat ek nou die heeltyd bewus is van hoe my kinders my eendag sal onthou en wat hulle by my moet leer – terwyl ek by hulle is, of uit dit wat ek vir hulle moet agterlaat.

My nuwejaarsvoorneme is Balans en Prioritiseer.  Ek het besef die twee towerwoorde is die sleutel tot alles.  Ek wens almal ’n wonderlike nuwe 2014 toe.  Mag Sy nabyheid en geliefdes en vriende se liefde jou omsingel en dra deur alles waardeur julle moet gaan!

chemosert

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

3 Responses to Kersfees Chemo

  1. Hetta Baard says:

    My liewe Annabelle-kind!Wat n voorreg was dit om hierdie chemo=pad saam met jou te loop dmv hierdie heerlike leesstof! Jy’s n ster!Jy’t regtig die vermoe om al jou ellende op n vrolike,positiewe manier te verwoord. Dankie daarvoor. Nou wens ek jou en jou gesin n wonderlike 2014 toe. Stap die pad in geloof en weet:jy word elke oomblik deur Jesus omhels en gedra!Lief jou!Tannie Hetta

  2. Debbie says:

    Dis darm erg spesiaal. Jou ouers is darm net altyd daar. Dis ‘n groot voorreg.

    Mag 2014 vir jou, Pieter en die kinders ‘n baie geseende, baie voorspoedige en ‘n baie gesonde jaar wees.

    Ek hoop jy blog nogsteeds, ek geniet dit so baie. Dit gaan net iets mut wees soos my lewe na kanker:).

    Jy is kosbaar!!

  3. Gerba says:

    Annabelle, Ek antw. nou eers Mos ook vakansie gehad, saam met Saretha en klein Drian. Die 29ste moes ons ook weer groet Gelukkig gaan ek darem weer die 23ste kuier. Sy en Ruaan verjaar so bymekaar. Ai, dis darem n heerlike kersgeskenk!! Ja, so moes ons mos maar geheim hou. Saretha se eerste woorde was, maar die tannie het dan gesê hulle gaan by Strandfontein wees!! Ek aan my kant kon ook nie jou ma se geheim met haar deel nie!! n Mooi 2014 vir jou en jou gesinnetjie. Kyk elke dag na jou sertifikaat! Jy was regtig vir ons n voorbeeld gewees. Liefdegroete xxxx

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s