Onkologie, ongevalle en onbesorgdheid

calm

Hierdie week se blog gaan ongelukkig begin lees as ‘n rampverslag, so jammer aan die lesers wat klaar die dramas per sms meeleef het. 

Alles het goed gegaan tot almal in die huis laasweek vrot van die verkoue was.  Ek kon nie Sondag saam met die voorsang groep sing nie, want my sopraanstem het in ‘n roggelende bas verander.  Toe-neuse en algemene slym probleme het my laat wonder oor my bloedtoets, maar ek was steeds so seker dit sou reg wees teen Maandag. 

Die onkoloog het destyds met soveel selfvertroue voorspel dat my witbloedtelling nie altyd betyds sal herstel nie en alhoewel ons voorbereid was op uitgestelde chemo, was ons nogtans baie teleurgesteld.  Nie net was ons hele week se beplanning deurmekaar nie, maar Albert se konsert volgende week was ook skielik in die weegskaal.  Die kinders is toe inderhaas by dierbare buurvrou afgelaai en ek is terug onkologie toe vir die eerste van drie naeltjie inspuitings.  Die ander twee moet ek vir myself gee. Dit stimuleer my beenmurg om witbloedselle te maak – die soldaatjies wat my immuunsisteem vorm. Hoe gouer ek met die inspuitings begin, hoe beter my kanse om teen die einde van die week weer bloed te toets en chemo te kry. Die gedagte om oor ‘n naweek siek te wees is ondraaglik, maar ten minste sal ek gesond wees vir die konsert.

In my lewe het ek nooit gedink ek sal myself kan inspuit nie, maar die onkologie engel het my oortuig ek is ‘n slim vrou.  Wie sal nou nie daardeur gevlei en dapper voel nie? Vriendin Tania (my eie ICU suster) het self aangebied om te kom help, maar ook verduidelik dat dit net ‘n “chub” is en ‘n kort, dun naald.  Ja, tannie Gerba, ek kyk nooit ooit vir ‘n inspuiting nie, maar hierdie keer moes ek!  Ek het maar net vir Richter iets gekry om hom mee besig te hou in ‘n ander vertrek en vir myself gesê om glad nie hieroor te dink nie en dit net vinnig agter die rug te kry!  Al was dit seer, was ek nogal trots en het gedink dis materiaal wat nogal die blog sal haal! 

Op die mees perfekste tyd stuur my ma-hulle ‘n pakkie vol eksotiese geskenke van hul bootreis.  Al my gunstelinge: verrassings uit Turkye, Murano en vreemde oosblok lande.  Ook ‘n pleisters vir die siel dagboek en twee uitgawes van Lig.  Ek word ook met nog pragtige blomme bederf van vriendinne en die wonderlikste beskuit van Mari wat besluit het dat sy ons vir die res van ons chemo maande sal voorsien van haar gesondheidsbeskuit!  Baie duisende dankies julle.

blom

Ongelukkig maak daai inspuitings toe vreeslik moles met my.  Die ergste been en rugpyn wat ek nog gehad het, het my gedwing om heel week in die bed te bly.  My lae immuniteit help toe ook nie om my van Woensdagnag af te beskerm teen ‘n vreeslike maagkiem nie.  Ek slaag wel my bloedtoets Donderdag, maar spandeer nog ‘n dag in die bed en badkamer…   (moenie ophou lees nie – dit raak beter….! )

Vrydagoggend sluit Albert by my aan, maar is deur die naarheid woedend dat hy nie mag skool toe gaan nie.  Nou het Pieter ‘n twee-jarige, ‘n kwaai ses-jarige, tuindienste en ‘n spul kantoor- en huiswerk om te doen, terwyl ek baie bewerig chemo moet gaan kry. 

By onkologie moet ek sonder Hettie regkom, maar gelukkig voorsien die Here dat my en Paul se pad weer kruis vir ‘n kort rukkie.  Die res van die dag is aaklig.  Die chemo stink ondraaglik en ek voel die hele oggend naar en huilerig. 

Amper elke keer as ek daar is, is daar iemand wat hul laaste chemo ontvang.  Die chemosusters het die tradisie om almal in te kom, ‘n goue klokkie word gelui, ‘n sertifikaat word oorhandig en Tina Turner sing ‘You’re simply the best’ op top volume.  Ek was nog altyd heerlik jaloers, maar gister het ek verlangend getjank en vir Paul gesê, een van die dae kom sing hulle vir ons!

Ronel, die berader het ook gekom op my weerlose moment en met haar sagtheid en begrip die krane laat oopdraai.  Sy weet presies wat om te vra sodat alles kan uit in ‘n katarsis van trane.  Ek moes erken dat dit baie goed gaan sovêr en dat dit vir die kinders en ons almal ‘n besonderse normale en gelukkige tyd is.  Ek mis hulle in die tye wat ek siek is en ek dink hulle vir my en die afgelope week was baie sleg.  Die feit dat die eintlike chemo-siek nou nog vir die naweek voorlê maak my nou net baie mistroostig. 

Ek kan nou nie meer self huis toe bestuur nie, want die nuwe chemo met dennebas se allergiese reaksies word met antihistamien teengewerk.  Die lomerigheid help darem vir ‘n lekker middagslapie – iets wat die kortisoon in die verlede onmoontlik gemaak het. Dankie Lizette dat jy my op kort kennisgewing kon huis toe vat!

Na my lekker rus voel ek egter heerlik en beter as wat ek die hele week gevoel het.  Ek stuur Pieter met ‘n voorskrif vir ‘n nuwe ligter naarmedikasie apteek toe, want die nuwe chemo maak mens glo nie so erg naar soos die rooiduiwel nie.  Hy sal ook aandete gaan koop en sien sommer uit na ‘n luilekker somersaand op die dek na ons rowwe week.  Ek sê nogal Albert moet by my bly na sy maaggriep dag, maar hy weier.  Uit die apteek bel my histeriese man (ja Pieter kan ook histeries word!).  Albert het flou geword en reguit vooroor op sy ken geval.  Richter word by my afgelaai en die twee spandeer die res van die middag en aand by ongevalle.  Drie inspuitings, ses steke en ek weet nie hoeveel oplosbares aan die binnekant nie.  My wilde ‘drama queen’ seun wat nie eens sonroom of lipsalf kan hanteer nie, stort nie ’n enkele traan nie – hoe moet mens die dapperheid nou verstaan?

My arme ouers het al begin soek na vliegkaartjies om ons te kom bystaan, maar almal onthou nog hoe ouma laas na maaggriep haar arm gebreek het reg voor ek moes kraam!  In sulke tye is die afstand vir almal erg.

Later die aand wag ek steeds vir die chemo om my soos gewoonlik plat te slaan, maar ek voel nog niks en met die kinders rustig in die bed kan ons heerlik kuier en stories kyk.  Vanoggend (Saterdag) word ek vir ‘n verandering 5:30 voor die kinders wakker en voel versigtig hoe erg die skade is, maar voel steeds nie of ek chemo gekry het nie!  Ek sleep almal saam Boeremark toe vir ontbyt, vars groente, vrugte en kruie.  Daarna gaan koop ons ‘n ‘bling bling’ toppie vir die kleuterskool konsert en bederf/troos speelgoed vir die kinders.  Teen alle verwagtinge in, hou ons ‘n sorgvrye naweek! Dis nou 24 uur sedert my chemo en ek skop steeds hoog.  Sal julle laat weet hoe dit verloop!

Wat ek die week geleer het:

–          In die Lig lees ek oor seën.  Hoe jy jou kinders en man seën met aanraking, woorde en liefdes takies.  Ook jou vriende en vreemdelinge kan jy seën met ‘n glimlag, geskenkie of onverwagse toegeeflikheid.  Seën is ‘n geskenk van God wat meer word as jy dit uitdeel.  Wees vir ander tot seën!

–          Buiten wegbly van siek kindertjies (hoe?), is slaap al wat ek kan doen vir my witbloedselle – my dokter se woorde – nie myne nie (en dit klink soos musiek op my ore!) Niks aanvullings, kos of oefening kan slaap vervang nie. Ek het nog altyd die waarde van slaap bewonder, maar ons ma’s kan so maklik skuldig voel. Vir jou hart, siel, liggaam, gees en verstand, die geluk van jou gesin en jou hele kringetjie – maak meer tyd vir slaap!

–          ‘n Slegte week is net tydelik.  Min dinge hou lank aan as jy geanker en omring is met liefde en lig.

home

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

6 Responses to Onkologie, ongevalle en onbesorgdheid

  1. Tarina says:

    Siestog Annabelle! Wat ‘n week! Ek is bly dis agter die rug. Net sodat jy weet, jy kan altyd op my knoppie druk vir kinders oppas. Ek is maar meestal tuis in die middag.

  2. Sjoe Annabelle, wat ‘n week. Tog is ek saam met jou bly vir die ligpuntjies. Jy is ‘n inspirasie vir my. Ek is so trots op jou wat so moedig en dapper is. Jy is spesiaal!

  3. ellaukblog says:

    Hoop die res van die naweek is wonderlik en die res van die gesin gesond.

  4. Zonda says:

    Ai, ons was ook 2 weke gelede by ongevalle. Devon het sy been teen ‘n geroeste reeling oop gesny (half 7 op ‘n Sondag aand) en moes 12 steke kry. Dis nie maklik om 6 jaar oud te wees nie! Sterkte en ek hoop jy bly hoog skop!

  5. Lizanne Visser says:
  6. Gerba says:

    Ai, Annabelle ek eers vanaand hierdie intrige van jou gelees! Ek kry dit op my foon en dan stuur ek dit na die huis rekenaar toe. En dié het ek dae laaste aangesit! My liewe kind, so jammer vir jou!, ten spyte van jou dapperheid ten opsigte vd inspuitings! Jy is so n voorbeeld van dapperheid! Baie dankie dat jy dit met ons almal deel, jy laat opnuut dink aan als wat ons so van selfsprekend aanvaar GesondHeid!! Groete tuis! Ek hoop julle klompie is nou weer almal kalm en rustig! Hoop daai ken het n mooi pleister op! Lekker aand vir julle Baie liefde xxxx

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s