Dankie dis al Oktober!

As die polisie Vrydag my kar moes deursoek in ‘n padblokkade, sou hulle gewonder het oor hierdie Wilgers mammie, so ewe onskuldig met haar twee-jarige by haar.  Die inhoud van my kattebak kon net sowel aan ’n Russiese spioen of alkoholis kunstenaar behoort het:  ‘n bottel brandewyn, olieverf, skilderdoek, kwaste, ‘n skaatsplank en ’n R100 se ‘Chinese bob’ donkerbruin pruik!

Daar is natuurlik ’n logiese en meer voorstedelike verduideliking vir elke artikel – ek moet my vrugtekoek bak voor volgende week se nuwe chemo my platslaan, want volgens tradisie moet hy vanaf Oktober begin ryp word. Verder wil ek begin eksperimenteer met ’n nuwe medium sodat ek Johan Smith se blou vrystaat lug kan naboots.  Ek het Debbie se ‘paint by numbers’ – hospitaal geskenk so baie geniet dat ek nou waaghalsig en lus voel vir die helderheid en diep kleure van olie! Die skaatsplank is uiteraard vir Albert en die pruik … sommer vir speel – ek moes uitvind of blondines regtig meer pret het.  (FYI – we do!) Dis regtig toe nou nie ‘n styl of kleur waarin julle my ooit sal sien nie, maar te danke aan chemo, kon ek dit nou op die proef stel!

Vandag kom ons af op die boekie waarin ons ons troubeplanning gedoen het in 2001.  Dit voel nie so lank terug nie, maar ons het lekker gelag vir die kortlys van eiendomme waarna ons gekyk het in o.a Moreletta, The Reeds en Garsfontein.  Teen daardie pryse moes ons sommer al drie gekoop het!  Al ons uitgawes, reëlings en inpak-vir-wittebrood lysie is nog daar.  Dit is ook lekker om te besef dat ek en Pieter nog presies dieselfde twee mense is as 12 jaar terug.  Niks van ons geloof, hoop en liefde is ontnugter of weg nie – dis eerder meer.  Heerlik dat ons nog geen verwyte of spyt het oor enige iets nie.  ‘n Genade dat ’n mens nie vooraf weet wat die toekoms alles inhou nie.

Dis dankbaarheidsmaand in die meeste gemeentes en ek het die volgende briefie vir ons gemeente geskryf:

Dankie aan ons gemeenskap van gelowiges

My reis met borskanker is nie ongewoon of buitengewoon moeilik nie.  Ek is nie die eerste chemo pasiënt wat oor engele, genesing en geloof getuig nie.  Dit was nooit my ambisie om ander te inspireer deur siekte nie.
Maar nou is ek daar en ek loop die pad. As lidmaat en werknemer van hierdie gemeente wil ek dankie sê vir julle vertroeteling, gebede en versorging.  Ek en my gesin staan verstom vir wat so baie mense vir ons doen en beteken.
In dankbaarheidsmaand vier ons hierdie jaar broosheid, gesondheid, mense, liefde, die normaliteit van elke dag, ons kinders, die mooi en die klein dingetjies van die lewe en God se onbetwisbare nabyheid.
Volg gerus my storie deur my blog: annabellelombard.wordpress.com

 

Ek hoop en bid dat almal wat in ons kringetjie is net so gelukkig soos ons sal wees.  Selfs in kanker en chemo – glo ek is ons lewens gelukkiger as baie mense s’n.  Jammer ook vir die wat nie Pretoria in sy pers prag kan sien nie.  Oktober is regtig ook my gunsteling maand!

marilyn

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

6 Responses to Dankie dis al Oktober!

  1. Adéla Engelbrecht says:

    Weereens n pragstuk met mooi getuienisse wat jy lewer. Ons is ook dankbaar vir so n dogter soos jy asook vir ons skoonseun wat ons in Pieter het. Mag Hy jul nog baie , baie jare vir mekaar gespaar hou.

    Jy lewe regtig jou getuienis uit. Trots op jou my kind.

    Lekker slaap.

  2. ohna reyneke says:

    Jy is ons almal se rolmodel! Dankie vir hierdie lekker-lees briewe. Bid vir jou en jou geliefdes vir nog baie jare van heerlike gesonde en vrolike samesyn!

  3. ellaukblog says:

    Dankie Annabelle. Lekker om deel te kan he aan jou reis. Die tassie wat jy vir jouself pak, sal jou veilig anderkant bring. Met soveel humor en blymoedigheid kan geen tas te swaar wees om enduit te dra nie.

  4. Marieta Scheepers says:

    Ek het vandag aan jou gedink. Was vir my jaarlikse Mammo en sonar. Na 10 ½ jaar klink dit nes die eerste keer…”Jy is steeds skoon” ! Toe bid ek sommer dat jy dit ook binne kort gaan hoor. Lief jou, al ken ons mekaar nie van oog-tot-oog nie, maar wel van hart-tot-hart…….boesempelle! ♥♥

  5. Tannie Gerda says:

    Liewe Annabelle
    Soos elke keer wanneer ek jou storie lees, voel ek nou weer so geïnspireer dat ek sommer wil opspring vanaf die rekenaar en allerhande take aanpak. Die borrelende manier waarop jy vertel van jou doen en late, maak my opgewonde. Jou naam is op ons bybelstudiegebedslys en oormôre gaan ek dít wat ek nou net gelees het, deel met my vriendinne.

    Tannie Gerda, PE

Leave a reply to Tannie Gerda Cancel reply