Koelkop

‘Bolla wil sy dra, maar hare het sy nie – lappe moet sy vat om ‘n bolla mee te maak’

Die liedjie het my ouma altyd kleintyd vir ons gesing, min het ons toe geweet dat dit vandag my lot sou wees.  So reg voor vrouedag het die hare toe begin uitval.  Ek het nou al gedroom hoe dit begin en elke oggend voor ek heeltemal wakker is, het ek gevoel of alles nog sit!  Dit was die vreemdste ding om te sit en wag daarvoor.  Elke nou en dan is daar ‘n oproep of sms om na die status van my hare te verneem.  Teen dag 15 het ‘n paar optimiste selfs begin glo ek gaan die lot vryspring.  Die feit dat my hare nog nooit kleursel of strepies gehad het nie kan my dalk vrywaar – en die gedagte het selfs teen my beterwete by my begin nes skrop.

Helaas moes ek vanmiddag by die skool ontdek dat my langnaweek ‘n bietjie anders gaan uitdraai.  Die eerste los hare was die teken waarop mede susters in die verdrukking my gewaarsku het.  Ek het hul raad gevolg en nie die lyding uitgerek nie.  My liewe man kon nog gou kom afskeid neem en by die kinders bly terwyl ek dapper die haarkapper besoek het vir die swakste haarsny van my lewe!  R170 en ‘n dam vol trane later is ek tuis met my nuwe blonde kapsel en ek kan skaars na myself in die spieël kyk.

Ek het reeds met al my nuwe doekies en doilies geëksperimenteer, maar dis swaar.  Ek voel 100% gesond en energiek, maar lyk skielik bitter kankerig en daar is geen manier dat ek dit met grasie en humor kan verbloem nie.  My gesinnetjie is oënskynlik min gepla daardeur en ek is stilweg dankbaar vir seuns.  Ek weet ek moet nou gou hier oorkom, maar dit sal ‘n rukkie vat om aan die nuwe voorkoms en yskoue kop gewoond te raak.  Ek is nou wel die ‘ultimate outdoor chick’ wat sonder krag en water kan gaan kamp in die boendoes, reën en wind, maar vir enige ander uitstappie is ek baie benoud.

Ten slotte moet ek oor nog een ding kla!  Die maatskappye wat jou so “spam” met sms’e en eposse sal ook nooit weet hoe hul tydsberekening partykeer suig nie!  In die eerste week wat ek gediagnoseer is, het ek twee boodskappe gekry wat begin met “do you need life cover?”  en “get free funeral cover”.  Vandag wil hulle weet of ek ‘permanent hair removal at home’ wil doen – regtig??!!

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

6 Responses to Koelkop

  1. Hanneli says:

    Jy is so dapper, en humor en grasie is by jou ingebore. Sterkte

  2. Jacques Ellis says:

    Dit laat my dink aan toe ek nog op skool was. Die een 16 jarige meisie en 16 jarige seun in Silverton Park gemeente het ook kanker gekry en al hul hare verloor. Die coolste ding ooit, vir my, was toe ons die Sondag oggend al in die kerk sit en hul 2 saam met omtrent 40 van hul klasmaats ingestap kom met almal se hare afgesny. Hulle het die twee vir die volle tyd so bygestaan.

    Onthou dis net tydelik en jy sal weer een van die dae jou hare vir meer as R170 kan laat sny…

  3. Marieta Scheepers says:

    Ag sommer ‘n stywe druk van my……sonder enige woorde!! ♥♥

  4. Marena Lotriet says:

    Ek moet glimlag met ‘n traan. Jou laaste “spam”-sin is die rede daarvoor. Jou fyn kyk na baie dinge is so besonders en ek geniet Jacques se laaste sin hierbo ook. Ek het ook sos Marieta nie slim woorde om by te voeg nie. BAIE liefde en ‘n mooi week vir jou!

  5. Gerba says:

    Ai, my liefste kind!! Sterkte! Enige op/aanmerking gaan tog nie nou help nie. Praat weer!

  6. Debbie says:

    Ek moet bieg, ek het nou vreeslik lekker gelag vir al jou trauma. Seker omdat ek klaar di foto gesien het en ek dink jy lyk nog net dieselfde. Jy lyk pragtig! Outdoor chick – bahahaha.

Leave a reply to Gerba Cancel reply