Ek en die rooi duiwel

week 1

Ek het die skryf van hierdie blog so lank moontlik uitgestel sodat ek nie te vroeg optimisties is of te gou kla nie!  Dis nou 5 dae vandat ek chemo gehad het en volgens die meeste opinies, sou die eerste een die grootste skok vir my liggaam wees.  Ek is egter dankbaar om te kan rapporteer dat dit nie so erg was nie. Ek was nooit naar nie en met die ander simptome sal ek kan saamleef vir ‘n wyle.

Dag 1

Ek voel steeds geen simptome buiten bietjie oggend mislikheid, maar die pille help baie.  Ek is so verras om goed te voel, dat ek Martha en Richter saamsleep winkels toe vir ‘retail therapy after chemotherapy’!  Ek voel ‘n bietjie soos ‘n gevangene uit op parool – wie se vryheid enige oomblik herroep kan word!  My pruik is ook gereed en ek en vriendin Lieze maak ‘n heerlike kuiergeleentheid daarvan.  Sy het die vermoë om iets neerdrukkend om te draai in ‘n heerlike uitstappie wat ek lank sal onthou!

Dag 2

Die onkologie engele het voorspel dit sou my moeilikste dag wees, so ek was heeltemal bereid om die dag in die bed deur te bring.  Dit was egter nie nodig nie.  Ek kon bietjie skilder, TV kyk en selfs vir Richter klavier speel.  Alhoewel ek baie moeg was, kon ek self vir Albert by die skool gaan haal, aandete maak en teen slakkepas saam met die gesin gaan fietsry om die vleitjie naby ons huis.  Almal se konstante SMS monitering is vir my baie dierbaar.

Dag 3

Ek voel steeds flouerig, maar is baie opgewonde oor my ma-hulle en Anelda wat die naweek by ons kom kuier voor hulle terug Kaap toe gaan.  My familie kan my opbeur soos niemand anders nie!  Die middag neem ek Albert na ’n maatjie se verjaarsdagpartytjie toe en kuier heerlik saam met my vriendinne.  Elkeen het ’n stuk swaarkry en ’n stewige dosis humor om te deel.  Ek voel so trots om hul as vriendinne te hê – hulle is so wys, sterk en kreatief.  Ek is stilweg verlig om steeds sjokolade koek te geniet!

Die naweek

Ek het effens ongemak met asemhaling en verdink die nuwe port.  Die na-ure diens by onkologie beïndruk my mateloos.  Al my vrae rondom medikasie en wonde word geduldig en simpatiek beantwoord.  Ek geniet my ma-hulle terdeë.  Ons gaan koop saailinge asook kopdoekies, mussies en ‘n hoedjie vir my asof my haarverlies die normaalste ding is waarna ons uitsien.  Ons kuier, braai gaan saam kerk toe en eet uit en die kinders geniet elke oomblik.  Sondagmiddag is ons harte seer maar vol.  Ek is so bly hul kon juis nou by ons kuier.  Ek het moed vir die volgende 6 maande.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

4 Responses to Ek en die rooi duiwel

  1. Marena Lotriet says:

    Ag dit is so kosbaar om hierdie te mag lees. Dit is my inspirasie elke oggend!

  2. Hanneli says:

    Dankie Here vir U genade en liefde.

  3. Eunice says:

    Net soos daai eerste dag as my kringleier verstom jy my steeds met jou insig en wysheid. EN jou manier om die aaklige dinge van die lewe te hanteer.

  4. Debbie says:

    Aaah, dis beter. Nou kan ek weer opvang. Ek kry sommer trane. Jy geniet so al di klein dinge wat ons net elke dag vanselfsprekend aanvaar. Jou familie is ‘n groot seen

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s