Skoonheid & Gesondheid

Vandag herinner my blognuus seker aan ‘n afdeling van ‘n vrouetydskrif – jammer by voorbaat aan my manlike lesers

Die afgelope naweek het ons heerlik gerus en alles gedoen wat vir ons lekker was.  Ek was ook baie verlig en dankbaar om ‘n klomp eerstes agter die rug te kon kry na die operasie:  Ek kon weer my eie onderklere aantrek, fietsry, kar bestuur, inkopies doen en kerk toe gaan.  Net mense wat siek was kan verstaan hoe lekker NORMAAL voel! Veral die kerktoeganery was nogal iets waarvoor ek skrikkerig was. Daar is soveel van my kerk-kollegas en vriende wat ek tot nou toe op ’n afstand moes hou. Wat as almal en alles my laat huil of hulle vrae en troos net onnodige vrees by die kinders plant? Gelukkig was dit ‘n tuiskoms soos min.  Nog nooit het ons geloofsgemeenskap ons so geborge en geliefd laat voel nie.  Selfs die boodskap was spesiaal vir ons: God is by ons en swaarkry en siekte bring ons nader aan God.  Ek was niks emosioneel nie – dit was net lekker.

Vandag was my dag – ‘all about me!’ Albert was baie opgewonde om weer terug skool toe te kon gaan.  Ek kan steeds nie glo hoe perfek die tydsberekening was dat al my dinge so mooi in die vakansietyd ingepas het nie!  Vanoggend het ek Richtertjie vir die heel eerste keer alleen by Martha gelos – en dit was baie makliker as wat ek verwag het.  Ongelukkig was my eerste rit reguit onkologie toe – vervelig ek weet!  My afspraak met die dieetkundige het egter baie vrese en mites besweer.  Ek het sommer ‘n hele uur met die vriendelike oud-Puk gesels oor kos, aanvullings en rate vir voor, tydens en na behandelings.  Ek was so verras en verlig om te hoor dat niks drasties hoef te verander nie.

Namiddag was Pieter saam met my om ’n pruik te gaan uitkies en daar hoor ons toe sommer van ’n skoonheidsterapeut wat permanente grimering doen vir kankerpasiënte.  Daar is deesdae ook wonderlike produkte wat keer dat al jou wimpers uitval en dit stimuleer om vreeslik vinnig en welig te groei.  Ek het nog nooit my eie skoonheidsterapeut gehad nie, maar ek reken ‘desperate times calls for desperate measures’.  Donderdag word my huidige wenkbroue dan getatoeëer sodat wanneer die hare uitval ek reeds nuwe wenkbroue het. 

Ek voel vanaand so verlig – ek gaan nie siek lyk nie!  Ek was so bang ek gril vir die pruike, of voel baie simpel om dit te pas, maar dit was toe glad nie so moeilik nie.  Beide salonne het dit maklik gemaak en hul ervaring en empatie het my baie gehelp.  Oral kom ek net by die regte mense uit!

Ek leen Anelda se boek: Elsje (Ryk Neetlingh se sussie)se kanker verhaal saam met Maretha Maartens.  Sy skryf die beste manier om die ‘ag shame crowd’ te ontduik is om te leef en te lyk of jy iets vier. Sy verwys na die Lewende Bybel waar die Here sê “trek jou mooiste klere aan, versorg jou hare met geurige olie.  Geniet die lewe saam met jou vrou/man wat jy liefhet solank as God jou toelaat om hier op die aarde te lewe – want dit gaan gou verby.” (Pred. 9: 7-9).  Ek vind so aanklank by haar as sy sê jy hoef nie soos ‘death warmed up’ te lyk nie. 

Vanaand kon ons ook die berader se boekie vir kinders met Albert deurwerk.  Hy het die aktiwiteite boekie baie geniet wat in kindertaal verduidelik wat kanker is, hoe dit behandel word, hoe mamma gaan voel en hoe hy kan help.  ‘n Groot deel fokus op al die emosies wat hy kan ervaar, hoe om dit te herken en daarmee te doen.  Dit was kosbaar om die oefening saam met hom te doen oor wie hy almal in sy lewe het wat vir hom omgee en wie hy kan vertrou.  Hy het self gesê hy wil die boekie bewaar vir as hy groot is en self kan lees.  Dis beslis die perfekte boekie vir ’n nuuskierige beheervraat soos hy!

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

10 Responses to Skoonheid & Gesondheid

  1. Aletta Esterhuyse says:

    Pragtig geskryf, Annabelle! Baie positief en insiggewend! Ek sien uit na die res van jou reisverhaal. Sterkte!

  2. Anelda says:

    Baie bly als werk so mooi uit en dat jy steeds so stunning as moontlik kan voel en lyk in die maande wat voorle. Baie trots dat hierdie positiewe mens my sus is! Jy maak mens nou amper jaloers met jou nuwe hairdo en wenkbroue! 🙂 xxx

  3. Debbie Louw says:

    Jy moet verseker vir Leef of Sarie of of of….begin skryf. Jy is so prakties en so eerlik. Ek sit dalk in die Kaap, maar dit voel of ek regtig die pad saam jou stap. Soms vergeet ek hoe getrou die Here is, ek lees jou stories en dan word my hart sommer warm soos ek God se liefde en beskerming ervaar. Ek het nie besef jou wenkbroue val ook uit nie, dis seker dom, maar ek het nie daaraan gedink nie. Ek wens ander vrouens wat deur dit moet gaan kan jou stories lees. Jy inspireer! Ek het Elsje se boek gelees. Baie gelag, gehuil en sommer net waardeer. Ek stuur sommer ‘n drukkie. Ek mis julle. Die knop sit in my keel soos ek hier sit en tik.

  4. Michelle de Villiers says:

    Wow Annabelle, jy’s ‘n wonderlike skrywer, Jy laat jou verhaal soos iets uit ‘n Jodi Picoult boek klink… Baie sterkte vir alles wat voorlê. Dink elke dag aan jou en bid vir julle gesin, Baie liefde Michelle (& Paul) xxx

    • alombard2013 says:

      Baie dankie! Hoe gaan dit met Paul? En met Jou?

      • michelle says:

        Hallo Annabelle, ek is baie bly dat jy dinge so positief benader. Uit my eie ervaring kan ek dit ten sterkste aanbeveel. Ek deel jou ervaring met die eerste kerktoe gaan. Vir my was dit net so awesome en elke keer daarna ervaar ek oor en oor die wonderlike ondersteuning van ons geloofsbroers en -susters. Ek is sopas vandag kla met my 2e chemo sessie en is baie gelukkig om min tot geen newe-effekte te hê nie. Ek het so bietjie pins & needles in die oggend vroeg maar het vining geleer om weg te bly van koue goed af. Verder is ek bietjie moëer as gewoonlik maar dis omtrent al. Die onkologie afdeling by wilgers is regtig stunning. Toe ek maandag daar was het n vroutjie oorkant my gesit wat dieselfde behandeling kry as jy, dit was ook haar 2e sessie. Haar 2 sussies was by en ons het heerlik gesels, gelag en gegiggel… Veral toe sy begin kopdoekies ens begin aanpas het. DIt was net toe Michelle my kom haal het en sy was so beindruk met die kopdoekies dat sy sommer vir haar ook een gekoop het. Sy sê sy gaan hom nog kerk toe dra ook, so watch this space… Ek en Michelle dink en bid voortdurend aan jou en Pieter en die kinders. Ek gee vir jou my telefoon no 082 821 2367. Ek dink bietjie meer direkte skakeling kan dalk handig wees. Ek ervaar ondersteuning van my kliënte wat deur dieselfde meule gemaal is baie positief. Liefde in Christus. Paul

      • alombard2013 says:

        Dankie Paul! Ek soek ook van daai doekies en goedjies Michelle – waar kan ek koop?

  5. Anni Jackson says:

    Jy’s voorwaar n inspirasie en moet beslis dink daaraan om vir n tydskrif te skryf of dalk self jou eie boek…… Ek’s weer in die mooie Malawi vir amper twee weke en stuur hope drukkies, liefde en gebede vir jou, manlief en jou pragtige kinders uit hierdie pragtige stukkie sonskyn Afrika. Sterke vir more. Sal gereeld inloer om te kyk hoe dit met jou gaan. xx

  6. Rika Vollgraaff says:

    Hi Annabelle, ek sal baie graag wil weet wat jy gebruik om die wenkbroue se uitval te keer?
    Groete, Rika

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s