Die kommunikasiekundige in my neem beheer

Nou moet ons wag vir die afspraak by die eintlike dokter en ‘n operasiedatum. Ek sou verkies het dat die knop reeds uit was – ek is mal van bekommernis dat hy oornag in die kliere sal versprei – as hy nog nie het nie! Ek en Pieter se eetlus en spysvertering is omgekrap. Ek is soggens te naar om te eet en Saterdag besef ek dat mens letterlik, fisies, siek kan word van bekommernis en skok. Ons weet nou presies wat voorle in terme van chemo en bestraling en dat die knop hoogs waarskynlik nie die laaste sal wees nie. Pieter verwoord my gedagtes waar ons alleen in die bed le: “Ek kan nie glo jy het kanker nie!” Ek was nog altyd so gesond en het goeie leefstyl gewoontes. Hoe kan ‘n mens se lewe in ‘n kwessie van dae so omgedop word. Ons albei beplan altyd maande – jare vooruit en haat verandering. Buiten die ongerief van siek wees en ‘n veeleisende behandelings plan, is ons vreesbevange dat dit nie genoeg gaan wees nie.

My oorlewings meganisme was nog altyd praat. Ek het dadelik besef hierdie is iets wat te groot is vir ons gesin om te hanteer. Die paar mense vir wie ek die nuus per sms gestuur het was baie ondersteunend en die nuus het vinnig vandaar versprei. Dit is vreeslik persoonlik, maar dis nie asof ek daaroor hoef skaam te voel nie. So ek het gereken hoe meer mense weet, hoe meer kan bid, raad gee of help om my in kontak te bring met die regte mense. Baie gou het ek egter beheer verloor oor die sosiale media en na elke emosionele oproep besef ek kan nie elkeen individueel op hoogte hou nie. Skielik is tyd saam met my gesin ook te kosbaar om te mors en ek besluit om slimmer te werk. Ek skryf ‘n breedvoerige epos aan almal wat betrokke is in my en my kinders se lewe. Ek hoop dit sal help dat ek nie verder oor die foon hoef te huil saam met elke ontstelde vriendin nie. Ek wil die kinders en veral Albert so lank as moontlik buffer teen my toestand. Dit neem my die hele middagslapie tyd om die brief te skryf, maar dit help my ook om my kop in rat te kry en te beplan vir die reis waarop ons noodwendig moet vertrek…

Ter wille van toekomstige lesers wat nie die epos gekry het nie – plaas ek dit hier.

Liewe vriend of vriendin
As jy hierdie epos kry beteken dit jy’s op my borskanker-ondersteuningsklub – of jy nou wou of nie deel wees nie – baie geluk en dankie by voorbaat! Die lys is hopelik nie voltallig nie – laat weet maar wie nog moet by kom.

Om mee te begin baie dankie vir almal se eposse, whatsapps, oproepe ens. Ons waardeer dit baie en kan glad nie sonder julle hierdie pad aandurf nie. Ek sê by voorbaat jammer aan almal wat voel of ek hul ignoreer, nie gou genoeg reageer of antwoord nie. Julle moet besef dis nog vir ons ’n geweldige skok en dis nog onmoontlik om daaroor te praat sonder om emosioneel te word. Ons wil ook die kinders soveel moontlik spaar en gaan Albert net die nodige inligting gee soos wat dit nodig is. Ek sal daarom verkies om almal op hoogte te hou op die manier – dit is die maklikste vir my en die gesin. Ek oorweeg om ’n blog ook te begin vir die wat belangstel in die gory gory detail van alles wat ek voel en beleef – julle kan maar besluit of jul daarvoor ook wil ‘subscribe’. Intussen is jul welkom om te SMS/whatsapp of email. Ek sal antwoord waar ek kan.

Ok nuutste nuus:
Die dr. wat ons vandag gesien het, is nie die jongste en het nie die beste track record nie – so dit was net eers ’n inligtings inwinning sessie – ons wil vir Dr. Greef wag wat ons eers volgende week kan sien. Vandag se dr. het wel met gesag en eerlikheid die mediese feite uitgespel. Die gewas is al rondom twee jaar oud – te oordeel aan sy grootte. Sy ligging maak dit maklik om uit te haal sonder dat ek die hele bors verloor. Tydens die operasie kyk hul of limfkliere ook aangetas is – en indien nodig haal dit ook uit. Verder kan hul na die operasie bepaal of die buik, bene en bors ook aangetas is, want dis waarheen dit normaalweg spring. My ouderdom en die aggressiewe aard van die kanker laat hul geen keuse om na die bors genees het te begin met chemo en bestraling nie. As hul als kon uithaal – best case – kry ek chemo pil wat minder newe-effekte het en worse case kry ek die volle chemo. Dit kan onkoloog nou eers beplan as hul my uitslae het na die knop verwyder is en die weefsel genoegsaam herstel het.

Ons was vir berading ook by Ronelle in Wilgers onkologie en het als gevra waaraan ons kon dink. Sy stem saam dat Henk se dr. Bouwer goed is, of Fourie. Als kan by Wilgers gedoen word en sy het ook vertel oor die ondersteuningsgroepe daar, ’n buddy system, dieetkundige en sy het ’n boekie om vir kinders soos Albert voor te berei en te betrek.

’n Bediende
Op die beste scenario is dit ’n baie rowwe paadjie wat voorlê en my eerste missie gaan wees om ’n bediende op te spoor wat so gou moontlik kan begin sodat ons aan mekaar kan gewoond raak voor ek opgeneem word. Die knop se verwydering kan tussen 2 en 6 nagte in die hospitaal beteken. Ek weet almal is baie lief vir ek en my oulike man en kinders, maar ek wil aan niemand die druk oorlaat van ’n groot huishouding nie. My ma-hulle het aangebied om hier te kom bly terwyl ek in die hospitaal wees, maar ek gaan in die maande wat voorlê ook iemand nodig hê. Dit sal vir ons ’n groot aanpassing wees, maar ek sal dit waardeer as julle my kan help soek vir ’n fantastiese bediende wat kan huis skoonmaak, wasgoed was, kosmaak en na die kinders kyk. Ek het nie inslaap plek nie en dit hoef waarskynlik nie voldag en elke dag te wees nie. Ek het nog nooit ’n bediende gehad nie so julle sal my moet lei hieroor. Selfs al gaan ek in ‘best case aftercare’ in sal ek van die bestraling en chemo baie moeg wees en vir ’n paar maande nie myselwers nie – ek het ook al my aandag en krag nodig vir my gesin en my liggaam.

Ek het met skoonsus se sterf besef hoe elkeen sy eie gesin moet koester. Ek weet jul wil graag help en jul sal ook kan ondersteun, maar dis belangrik dat jul onthou dis nie julle geveg die nie. Moenie so hartseer wees vir my part nie, jul eie krisis wag dalk net om die draai. Ek gaan op jul knoppies druk waar nodig, maar moenie sleg voel om nee te sê as dit ongerieflik is vir julle nie. Julle en jul gesinne kom eerste.
Ek is jammer ek is nog so nuut in die game en nog so in skok so ek is so bang ek maak iemand seer. Julle moet maar met my ook geduld hê en besef waar ek is nou. Ek hoop dat jul die vrymoedigheid sal hê om eerlik met my ook te wees, raas maar en wees kwaai en meng in – ek weet dis vir niemand lekker of maklik nie en ’n simpel nuwe trein waarop ons moet ry!

Ek huiwer om hierdie by te sit – maar ek gaan en dan nooit weer daaroor praat nie: Die dr. het ook gesê so ’n aggressiewe kanker vir so ’n jong ouderdom is uiters ongewoon en versprei gewoonlik vreeslik vinnig. Dit kan baie maklik gebeur dat ’n selletjie iewers kom en aangaan. Die rede hoekom hulle nie sommer albei borste en eierstokke dadelik verwyder nie – is omdat die gevolg daarvan geen verskil maak nie. Dit gaan dit nie keer as hy sou wou voortgaan nie. Ek glo hierdie roete van behandeling sal moontlik genoeg wees, maar is ook nie onrealisties om te dink dat ek dan gefix is for life nie. Dit sal iets wees waarmee ek waarskynlik moet leer saamleef.
Ok genoeg hiervan!
Albert het fantastiese rapport gebring so ons gaan ’n feestelike naweek probeer hou en volgende week soveel moontlik aankope en huiswerk doen voor die oorlog begin.
Baie dankie en baie liefde
Annabelle – en Pieter

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

One Response to Die kommunikasiekundige in my neem beheer

  1. Eunice says:

    Sit my asb op jou ondersteuningslys. eunicevisagie@gmail.com

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s